Donkiekarre vir vervoer kos glo byna R1 miljoen

  • 0

Foto: Departement van Gemeenskapsveiligheid en Vervoerbestuur, Noordwes

Twintig donkiekarretjies wat kwansuis bedoel is as ’n manier van vervoer na klinieke, winkels en skole vir plaaslike inwoners in Noordwes, het die belastingbetaler na bewering byna R1 miljoen uit die sak gejaag .

Die Departement van Gemeenskapsveiligheid in Noordwes het die uitgawe van R780 000 vir die 20 donkiekarre wat aan die inwoners in Mahikeng gegee is, verdedig en sê dit was ’n skenking.

Die DA het egter ’n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) dringend opdrag te gee om die verdagte donkiekartransaksie te ondersoek, want die karretjies was volgens die DA veels te duur.

Twee soorte karretjies is aangekoop. Sommige is tweesitplekkarretjies vir R32 500 en ander het vier sitplekke en kos R45 500. Die donkiekarre is glo bedoel om gemeenskapslede wat in landelike gebiede woon, te help met die vervoer van kinders, bejaardes en diegene wat mediese behandeling benodig.

Die waentjies is in Lonely Park in Mahikeng vervaardig. As deel van die kontrak met die departement sal die diensverskaffer die karretjies vir die volgende drie jaar in stand hou sonder enige koste vir eienaars, het die kantoor van die LUR, Sello Lehari, gesê.

Lehari het verlede Donderdag deelgeneem aan ’n oorhandigingseremonie vir die karretjies, wat deur donkies getrek is, met die provinsiale regering se logo aan die kant.

Sy kantoor het ná Donderdag se gebeure ’n verklaring uitgereik waarin hy sy opgewondenheid oor die projek uitgespreek het en gesê het hy hoop dit sal die lewens van gemeenskapslede verbeter.

Volgens Lehari is donkiekarre ’n betroubare vervoermiddel wat al lank gebruik word. Hy het uitgevaar teen die media wat dit kritiseer. Hy het ook gesê die departement is bereid om die skenkingsrekords te deel met gemeenskapslede wat dit wil verifieer. Hy het bygevoeg dat mense die departement moet kontak voordat hulle “ongevraagde” inligting deel.

Sosialemediagebruikers het woedend op die donkiekarprojek reageer (hulle “feite” kon nie onafhanklik bevestig word nie, maar die vrae wat gevra word is belangrik).

Die DA sê in hulle verklaring hierdie “skenking” ruik nie net na brutale korrupsie nie maar dit is ook ’n duidelike aanduiding van die ANC se algehele minagting van die behoeftes en waardigheid van hierdie streek se inwoners.

Die DA se skaduminister vir vervoer, Chris Hunsinger, sê die ANC-regering het deur die jare versuim om in ambulanse en behoorlike vervoerinfrastruktuur vir dié provinsie te belê en pasiënte word nou aangesê om hierdie donkiekarre as vervoermiddel te gebruik. Dit terwyl kabinetsministers in luukse motors rondry.

“Die brutale manier waarop die ANC-regering hul eie tekortkominge oor die afgelope byna drie dekades deur hierdie soort toertjie probeer toesmeer, is siek. Ons doen ’n beroep op president Ramaphosa om op te tree en om die SOE opdrag te gee om hierdie bedrog te ondersoek en te verseker dat Noordwes se Departement van Vervoer lewensvatbare en doeltreffende vervoeroplossings aan die mense van die Dibono- en Manawana-dorpe bied,” het Hunsinger gesê..

Intussen het die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) oor ’n ander aangeleentheid gesê hy het met ondersoeke begin na staatsamptenare wat versuim om diensverskaffers binne 30 dae te betaal soos deur die Tesourie voorgeskryf.

Die waarnemende OB, Kholeka Gcaleka, sê staatsamptenare betaal diensverskaffers laat as die diensverskaffers nie omkoopgeld aan hulle wil betaal nie. Sy sê die versuim word by munisipaliteite en staatsdepartemente en -instellings ondersoek. Gcaleka sê die versuim om op klagtes oor dienslewering te reageer word ook ondersoek. Gcaleka was een van die sprekers by ’n konferensie oor die kapasiteit van die staat wat in Durban gehou word in samewerking met die Departement van die Staatsdiens en Administrasie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top