Gewilde sangkompetisie deur skandaal geruk
Die gewilde sangkompetisie The voice of Holland wat op die kommersiële TV-stasie RTL uitgesaai word, is met onmiddellike ingang gestop. Dit volg ná ’n ondersoekende televisieprogram waarin een van die afrigters, Jeroen Rietbergen, ’n bekentenis aflê. Beskuldigings word ook teen ’n medeafrigter, Ali B, gemaak. Hy ontken egter die aantygings. Rietbergen skryf in ’n verklaring: “Ik wil aan de betreffende vrouwen mijn oprecht gemeende excuses aanbieden voor dingen die ik nooit had mogen doen.” Volgens die televisieprogram Boos is daar al jare sprake van ongewenste gedrag tydens die kompetisie.
Kollegas en die publiek het met skok op die beskuldigings gereageer. Een van die afrigters, die sangeres Anouk, sê: “Wat een pleuriszooi allemaal. Ik heb besloten dat ik niet weer terug wil komen bij The voice. Ik wil niet werken op een plek waar jarenlang een aantal mannen gewoon misbruik hebben gemaakt van hun positie.”
Intussen het die vriendin van Rietbergen en programmaker Linda de Mol ook besluit om te bedank. Sy het ook bekend gemaak dat sy haar verhouding met Rietbergen beëindig het.
Die openbare aanklaer het deelnemers aan die kompetisie aangemoedig om aanklagte in te dien sodat die gebeure ondersoek kan word. RTL het gesê dat ’n breedvoerige interne ondersoek van stapel gestuur word, berig die NOS.
Ik ben compleet overvallen en in shock door het nieuws over The Voice. Verschrikkelijk. Het is heel goed dat alles wordt onderzocht. Ik hoop dat de waarheid boven tafel komt. Voor nu wil ik iedereen die hier schade en verdriet door is toegebracht heel veel sterkte wensen. ❤️
— Martijn Krabbé (@krabbetv) January 15, 2022
Jongman stoot vrou voor aankomende moltrein in
In die Belgiese hoofstad Brussel is ’n jongman van Franse afkoms aangekeer kort nadat hy glo ’n niksvermoedende 55-jarige vrou voor ’n aankomende moltrein van die platform af gestoot het. Die voorval het Vrydag omstreeks 19:45 by die Rogier-moltreinstasie plaasgevind. Volgens VRT NWS is die man ’n bekende aan die polisie in Frankryk en het hy geen vaste verblyf in België nie. Die vrou het slegs geringe beserings opgedoen omdat die trein daarin kon slaag om net betyds stil te hou. “De bestuurder remde toen hij de persoon op de sporen zag en stopte op tijd,” het ’n woordvoerder van die Maatschappij voor het Intercommunaal Vervoer Brussel (MIVB), An Van Hamme, gesê. “De bestuurder heeft zeer goed gereageerd, maar hij is wel in schok en de persoon ook.” Die dader het onmiddellik van die toneel gevlug, maar danksy kamerabeeldmateriaal is hy ’n paar minute later vasgetrek. Hy word aangehou vir poging tot moord. Die slagoffer en bestuurder van die moltrein is vir behandeling in die hospitaal opgeneem.
Oorskot van vermiste vierjarige Belgiese seun in Nederland gevind
Die vierjarige Dean Verberckmoes uit Beveren in België het die naweek vermis geraak nadat hy in die sorg van ’n huisvriend, die 34-jarige Dave de Kock, was. VRT NWS berig klein Dean se ma, Elke Verberckmoes, is Woensdag vir depressie in die hospitaal behandel en die seun is in De Kock se sorg gelaat. De Kock was Donderdag nog in kontak met die ma en het laat weet dat Dean nog ’n nag langer wou bly. ’n Dag later laat hy dieselfde weet. Pas Saterdag kom die ma agter wat aan die gang was: De Kock het stry gekry met sy vriendin en het die huis met klein Dean verlaat. Dit is nie bekend waarom hy die kind saamgeneem het nie. Die ma het Saterdag ’n klag by die polisie gelê. De Kock is later in Meerkerk, naby Utrecht in Nederland, aangekeer. Ná ondervraging was dit nog nie duidelik waar die kind is nie, maar die polisie het ’n waarskuwing uitgestuur dat die vermiste seun moontlik in gevaar verkeer. Die liggaam van die kind is later in Zeeland gevind.
De vermiste Dean(4) uit #België is helaas zojuist overleden aangetroffen op een locatie in Zeeland. We bedanken iedereen voor de hulp en leven mee met de familie.
— Politie Zeeland (@POL_Zeeland) January 17, 2022
Na wat berig word, het De Kock later die plek aan die polisie bekend gemaak. Dit is nog nie bekend waaraan die kind dood is nie. Dit is wel bekend dat De Kock vroeër 10 jaar tronkstraf uitgedien het omdat hy sy tweejarige stiefseun in 2008 ernstig aangerand het. Ma Elke sê sy het geweet dat De Kock tronkstraf uitgedien het, maar het nie geweet waarvoor nie en sy het hom volledig vertrou. “We hadden veel vertrouwen in Dave. Hij zorgde echt goed voor mijn zoontje,” het Verberckmoes gesê.
Het Nieuwsblad berig intussen dat De Kock se vriendin ook in hegtenis geneem is. Na wat berig word, het sy teenstrydige verklarings aan die polisie afgelê. Dit blyk ook dat sy versuim het om inligting oor hom aan die polisie bekend te maak.
Wat een vreselijk nieuws over de vermiste jongen uit België 😟😢
💔🕯️ Rust zacht Dean, sterkte aan familie vrienden en kennissen 🕯️💔 pic.twitter.com/7gBmilOiZt— Equalityworld2022 🏳️🇳🇱 (@Pro_Respect) January 18, 2022
Nederland gooi samelewing op ’n skrefie oop
Nederlanders kan weer asemskep nadat die regering Vrydagaand ’n paar versoepelinge in die inperkingsmaatreëls aangekondig het. Dit beteken nienoodsaaklike winkels, haarsalonne en die hoër onderwys mag weer oop, maar die kultuursektor en restaurante moet vir eers nog hul deure toe hou. Ook mag jy nou soveel as vier gaste op ’n dag ontvang – vroeër was dit net twee. Dit is ook weer moontlik om binne en buite aan sport deel te neem. Hoewel teaters en konsertsale nog toe bly, mag musiek- en dansskole weer oop. In hoërskole en hoëronderwysinstellings mag soveel as 75 studente in ’n klas wees en almal moet ’n masker dra. Op 25 Januarie sal die maatreëls heroorweeg word. Die versoepeling kom te midde van rekordhoë besmettingsyfers. In dié stadium is die druk in hospitale hanteerbaar en die hoop is dat dit so sal bly.
Anne Frank se verraaier: Alle vingers wys glo na dié man
© Anne Frank House | Photographer: Cris Toala Olivares
’n Ondersoekspan het skynbaar ná ses jaar met ’n hoë mate van sekerheid die verraaier van Anne Frank en haar gesin geïdentifiseer. Volgens die span het ’n Joodse notaris, Arnold van den Bergh, uit vrees vir sy lewe glo die adres van die onderduikers in die Agterhuis aan die Nazi’s bekend gemaak. Hoewel daar geen definitiewe bewys voor is nie, lyk dit of die vader, Otto Frank, ook Van den Bergh se verraad vermoed het. Die FBI-speurder Vince Pankoke sê omdat dit so ’n ou saak is en daar geen DNS-bewys of beeldmateriaal is nie, moet ’n mens deurentyd met indirekte bewyse werk. Hy sê egter sy span se teorie het ’n waarskynlikheidspersentasie van 85.
Die vervaardiger van dokumentêre programme Thijs Bayens het in 2017 met die idee vorendag gekom om die raaisel met moderne tegnieke te probeer oplos. Hiervoor het ’n span van 23 deur ou en nuwe onderhoude, dagboeke, adreslyste en oorlogslêers uit die argiewe gewerk om bestaande en nuwe hipoteses te toets. Om die magdom inligting te verwerk is kunsmatige intelligensie ingespan. Die vertrekpunt van die teorie is ’n nota wat Otto Frank, die enigste oorlewende van die Frank-familie ná die oorlog, kort ná sy terugkeer ontvang het. Die oorspronklike is nêrens te vind nie, maar Frank het wel ’n kopie daarvan gemaak wat in die familieargief van ’n polisieman gevind is. Daarin staan: “Uw schuilplaats te Amsterdam werd indertijd medegedeeld aan de Jüdische Auswanderung te Amsterdam, Euterpestraat, door A Van den Bergh, destijds woonachtig nabij het Vondelpark, O Nassaulaan. Bij de JA bestond er een hele lijst door hem doorgegeven adressen.” Otto het die bestaan van die brief pas in 1964 onthul toe die verraad vir die tweede keer ondersoek is. Speurders in dié tyd het egter nie veel ag daarop geslaan nie.
Nuwe navorsing dui egter daarop dat Van den Bergh inderdaad lid was van die Joodse Raad, en omdat hy aanvanklik vertrou is, is adresse van onderduikers aan hom toevertrou sodat hy kon probeer om hulle in verbinding met vriende en familie te bring wat na konsentrasiekampe weggevoer is. As ’n prominente lid van die raad het Van den Bergh ’n Sperre, of tydelike uitstel van deportasie, gehad. In 1944 raak hy egter in die knyp toe alle uitsteldokumente teruggetrek word en hy na ’n rusie met ’n NSB-kollega sy veilige status verloor. As laaste poging om sy vryheid te behou het hy daarom na bewering adresse van onderduikers aan die Nazi’s gegee. Onder die adresse was ook Prinsengracht 263, waar die Otto-gesin in die Agterhuis geskuil het.
Pankoke en sy span wil ná 77 jaar geen oordeel oor Van den Bergh vel nie. “De enige slechteriken waren de nazi’s, zonder hen was dit allemaal niet gebeurd. Als je Van den Bergh iets verwijt, moet je je eerst afvragen hoever je zelf zou zijn gegaan om de levens van dierbaren te redden.”
Kyk vir ’n duideliker beeld op die verhaal na die volgende video. Indien die Nederlands moeilik is om te volg, skakel die onderskrifte aan.