Drama in ANC na Magashule se skorsing

  • 0

Die tweespalt in die ANC het Woensdag 6 Mei ’n dramatiese wending geneem toe die geskorste sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, begin terugveg het teen sy skorsing (hangende die uitslag van sy hofsaak).

Magashule het sy skorsing in ’n laataand-verklaring betwis en vermoedelik aangekondig dat hy Cyril Ramaphosa uit die party skors. Dit het ’n geskarrel in die hoenderhok veroorsaak en is aanvanklik deur die ANC se woordvoerder, Pule Mabe, as fopnuus afgemaak.

Die adjunksekretaris van die ANC, Jessie Duarte, het egter kort daarna teruggekap en in ’n verklaring gesê Magashule is nie by magte om iemand te skors nie en hom versoek om die besluite van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) te respekteer.

Die twis tussen twee senior lede in die ANC gaan waarskynlik ook in die hof verder gevoer word.

Dit volg nadat Carl Niehaus, woordvoerder van Umkhonto we Sizwe se vereniging vir militêre veterane, die minister van vervoer, Fikile Mbalula, vir R8 miljoen gedagvaar het. Niehaus dagvaar Mbalula omdat hy hom verlede jaar op Twitter ’n korrupte boef genoem het.

Die twis tussen Niehaus en Mbalula is deel van ’n groter twis in die ANC tussen ondersteuners van Cyril Ramaphosa en ondersteuners van die [geskorste] sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule.

Niehaus is een van Magashule se grootste ondersteuners, terwyl Mbalula ’n uitgesproke Ramaphosa-ondersteuner is.

’n Afskrif van die dagvaarding wat deur Niehaus op Mbalula bedien is, is die afgelope Woensdag (5 Mei) wyd op sosiale media gedeel.

Niehaus sê hy dagvaar vir Mbalula omdat hy nie toegelaat kan word om straffeloos weg te kom met sy beledigings nie.

Die bekgeveg tussen dié twee ANC-voorbokke het verlede Oktober ’n hoogtepunt op Twitter bereik. Daar was ’n hele reeks boodskappe waarin hulle mekaar oor en weer beledig het. Niehaus is onder andere deur Mbalula in een van sy twiets “’n welbekende rampokker ... in diens van Magashule in Luthulihuis” genoem. Mbalula het ook na Niehaus en die president van Umkhonto we Sizwe se vereniging vir militêre veterane, Kebby Maphatsoe, as “vermeende kriminele” verwys.

Dié twiets is geplaas na ’n optog wat Umkhonto we Sizwe se vereniging vir militêre veterane in Oktober na die ANC se hoofkantoor by Luthulihuis in Johannesburg gehou het. Tydens die optog het die betogers onder meer aangedring op Mbalula se inhegtenisname omdat hy volgens hulle verantwoordelik is vir die skade wat aangerig is aan die Suid-Afrikaanse Spoorweë se infrastruktuur.

Mbalula het ook in een van sy twiets gesê hy het groot bewondering vir Umkhonto we Sizwe, maar dit wat Niehaus en Maphatsoe in hulle naam doen sal eendag tot ’n einde kom. “Ek het weinig respek vir boewe wat hulle as MK vermom. Punt!”

Niehaus het Woensdag aan The Citizen gesê die dagvaarding moes eintlik reeds in Januarie aan Mbalula bedien gewees het, maar die bode van die hof het vermoedelik  gesukkel om hom in die hande te kry.

Volgens Niehaus is hy deur sy prokureurs ingelig dat dit besonder moeilik was vir die hof om die dagvaarding te bedien, aangesien die Minister na bewering meestal nie op kantoor is nie en dat sy sekretaris of personeel dikwels ook nie daar was nie. Hy sê die dagvaarding was vir geruime tyd in die bode van die hof se hande voordat dit bedien kon word.

Noudat die Minister die dagvaarding ontvang het, kan die regsproses volgens Niehaus sy loop neem en ’n hofdatum bepaal word. “Dit is nou in die hande van die Minister. Hy moet besluit hoe hy op die dagvaarding gaan reageer,” het Niehaus aan die koerant gesê. Hy sê dit is moeilik om te sê wanneer die saak sal voorkom, aangesien die hofrol baie vol is.

Mbalula se woordvoerder, Ayanda-Allie Paine, wou volgens The Citizen nie kommentaar  lewer nie en sê dit is ’n ANC-aangeleentheid. Sy kon ook nie bevestig of Mbalula wel die dagvaarding ontvang het nie.

Niehaus het intussen ook op Twitter sy onvoorwaardelike steun aan Magashule herbevestig. “Niemand hoef te wonder nie, maar as enigiemand twyfel, laat ek die voor die hand liggende sê: Ek staan by kameraad Ace Magashule soos wat ek by al my kamerade staan in goeie en slegte tye. Ek weet wat kameraadskap vereis. Lojaliteit is deel van my DNS.” 

Die ANC se nasionale werkkomitee sê skorsingsbriewe sal later die week gestuur word aan partylede wat weier om vrywillig opsy te staan. Die ANC-leierskap het Maandag vergader om lyste te oorweeg met die name van persone wat by korrupsie betrek word. Magashule is die mees senior leier wat geraak word, omdat hy tereg staan op aanklagte van korrupsie wat verband hou met ’n asbesprojek in die Vrystaat toe hy daar premier was. Die ANC sê in ’n verklaring die besluit deur ’n lid om opsy te staan sal elke ses maande hersien word.

Teen Woensdag was Magashule geskors as sekretaris-generaal van die ANC (hangende die uitslag van sy hofsaak).

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top