Drama in Nederlandse politiek en besoedelde grond

  • 0

Pieter Omtzigt (Bron WikiMedia, vanaf sy eie webruimte waar foto's vir mediagebruik vrygestel is.)

Drama in Nederlandse politiek

’n Gewilde lid van die Tweede Kamer in Nederland, Pieter Omtzigt, van die party die  Christen Democratisch Appèl (CDA), het die afgelope week opnuut vir ’n opskudding gesorg nadat ’n brief aan die media uitgelek is oor sy ontevredenheid met sy party. In die brief spreek Omtzigt sterk kritiek teen sy partygenote uit. Hy vertel onder andere dat hy die pos van partyleier, oftewel lijsttrekker, beloof is sou die vorige partyleier, Hugo de Jonge, terugstaan. De Jonge, wat ook minister van gesondheid is, het teruggetree nadat sy werkdruk te midde van die COVID-19-pandemie te erg geraak het. Die pos is egter aan Wopke Hoekstra gee. Omtzigt kla ook in die brief dat hy deur Tweede Kamer-lede name genoem is. Hoewel Omtzigt onder die publiek en partyondersteuners baie gewild is, was hy ’n doring in die vlees van die koalisieregering nadat hy verskeie ongerymdhede, soos die sogenaamde toeslagaffaire, of toelaagskandaal, aan die lig gebring het. Die skandaal het behels dat die belastingdiens hom toegespits het op mense met vreemde name vir verdenking van bedrog. Talle gesinne het hierdeur ten onregte in finansiële probleme beland. Nadat die gebeure aan die lig gekom het, het die kabinet besluit om te bedank, vandaar dat daar na die ministers en president as “demissionêr” verwys word.

Twee dae ná die uitlek van die brief het Omtzigt sy lidmaatskap van die CDA opgesê en laat blyk dat hy as onafhanklike lid in die Tweede Kamer gaan aanbly.

Kort ná die verkiesing vanjaar was Omtzigt ook in die nuus toe dit bekend word dat demissionêre minister-president Mark Rutte in gesprek met verkenners oor die vorming van die nuwe kabinet oor die funksie van Omtzigt gepraat het – iets wat Rutte aanvanklik heftig ontken het en wat gemaak het dat hy net-net ’n mosie van wantroue oorleef het, maar wel met ’n mosie van afkeuring tevrede moes wees.

Pieter Omtzigt ontken dat hy die brief aan die media uitgelek het. Dit is nog onduidelik hoe sy vertrek uit die CDA die vorming van die nuwe kabinet gaan raak wat reeds maande lank sloer.

Vreugde en hartseer vir skoolverlaters

Die afgelope Donderdag het die vlae behoorlik uitgehang vir skoolverlaters van voortgesette onderwys wat hul eindeksamen geslaag het. Die gebruik in Nederland is om jou skooltas of rugsak saam met die landsvlag buite op te hang.

Fotografie: Milton Webber

Ook kroonprinses Amalia het haar gimnasium-eindeksamen geslaag, en nie net geslaag nie – cum laude! Die koningshuis het op Twitter ’n video gedeel van die oudste dogter van koning Willem-Alexander en koningin Máxima nadat sy van haar goeie uitslae gehoor het, waar sy die vlag hys by Huis ten Bosch – die residensie van die koningsgesin. Kroonprinses Amalia het ook van die geleentheid gebruik gemaak om alle ander leerders wat geslaag het, geluk te wens.

Prinses Amalia sê sy het nog geen definitiewe planne oor wat sy ná haar skoolopleiding gaan doen nie, maar vir eers wil sy ’n bietjie reis, die wêreld ontdek en dinge doen wat sy die afgelope aantal jaar nie kon doen nie.

Prinses Amalia wys toelaag van die hand
 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

A post shared by Prinses Amalia (@crownprincess_catharina.amalia)

’n Dag nadat sy gehoor het dat sy haar eindeksamen met lof geslaag het, het kroonprinses Amalia aangekondig dat sy voorlopig afsien van die toelaag wat sy vanaf haar 18de verjaardag in Desember sou ontvang. Die kroonprinses is geregtig op ’n toelaag van €1,6 miljoen per jaar, waarvan €300 000 as inkomste en die res vir personeel en materiële uitgawes bestem is. Sy het nou laat blyk dat sy die deel wat vir inkomste bedoel is, voorlopig weier en ook die onkostevergoeding gaan teruggee vir solank as wat sy nie hoë koste aangaan in haar funksie as Prinses van Oranje nie.

Prinses Amalia het die nuus in ’n handgeskrewe brief aan demissionêre minister-president Rutte gerig, wat op sy beurt die Tweede Kamer in kennis gestel het.

Die ekonomie tel kop op

In België en Nederland lyk dit of die ekonomie aan die herstel is. Die Nederlandse Bank het bekend gemaak dat hy verwag dat die ekonomie vanaf die huidige kwartaal goed sal herstel van die COVID-19-krisis. Die bruto binnelandse produk sal na verwagting vanjaar met meer as 3% groei, en vir 2022 word groei van 3,7% voorspel. Die verwagting is ook dat die Nederlandse ekonomie vinniger van die krisis sal herstel as van die finansiële krisis in 2008. Die bank verwag dat die meeste beperkende maatreëls verder versoepel sal word en dat dit teen volgende jaar so te sê sal verdwyn.

De Morgen in België berig dat die ekonomie van dié land ook teen die einde van die jaar op dieselfde vlak as voor die pandemie sal wees. Dit is meer as ’n halfjaar vroeër as wat aanvanklik verwag is. Die verwagting is gegrond op die jongste syfers van die Belgiese Nasionale Bank.

As gevolg van die COVID-19-pandemie het die Belgiese ekonomie verlede jaar met 6,2% gekrimp. Daar word egter verwag dat die ekonomie vanjaar met 5,5% sal groei – 2% meer as wat aan die begin van die jaar verwag is.

Geen varsprodukte uit jou eie tuin meer

In Zwijndrecht, naby Antwerpen in België, is inwoners verbied om groente uit hul eie tuin te eet. Inwoners mag ook nie eiers van hul eie hoenders eet nie. Dit volg nadat hoë vlakke van PFOS- (perfluoroktansulfonsuur-) besoedeling vasgestel is. PFOS kan tot hoë cholesterol en selfs kanker lei. VRT NWS berig dat die besoedeling hoofsaaklik van ’n 3M-fabriek in die omgewing afkomstig is; dit is vasgestel tydens werk aan die Scheldetonnel – ’n belangrike deurgangsroete onder deur die Schelderivier. Daar word nou verwag dat werk aan die projek weens die besoedeling vertraag sal word. ’n Projekleier van die Oosterweelverbinding het intussen laat weet dat die besoedelde grond nie na ’n ander plek verskuif sal word nie, maar dat dit met ’n waterdigte foelie bedek sal word om te keer dat PFOS in die grondwater beland. ’n Professor van die Vrije Universiteit van Amsterdam, Jacob de Boer, voel egter dat om grond met foelie te bedek nie voldoende is nie en dat die grond liewer met ’n dik laag ander grond bedek moet word.

Wij houden van Oranje!

Foto: Milton Webber

Dit is vanjaar weer tyd vir die UEFA-Europabeker-sokkertoernooi en sokkerkoors loop behoorlik hoog met sommige strate van woonbuurte wat heeltemal in vlae van oranje getooi is.

Nederland het Sondag in sy eerste wedstryd teen Oekraïne uitgedraf en vir ’n skouspelagtige oorwinning van 3–2 gesorg. Nederland het die eerste twee doele aangeteken, maar Oekraïne het teruggeveg en ook twee doele aangeteken. In die doodsnikke van die wedstryd het Denzel Dumfries egter gesorg dat Nederland die wedstryd beslissend kon wen.

Ook die Rooi Duiwels van België het die afgelope naweek uitgeblink toe hulle Rusland met 3–0 laat les opsê het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top