Drankverbod se rimpeleffek dwing ekonomie op sy knieë

  • 0

Die restaurant- en drankbedrywe is reeds op hulle knieë gedwing as gevolg van die voortgesette verbod op die verkoop van alkohol, maar die nadelige ekonomiese effek van die verbod is besig om al hoe verder uit te kring.

Die rimpeleffek van die verbod op die land se wyn-, drank- en gasvryheidsbedryf is besig om die land se ekonomie enorme skade te berokken en selfs graanprodusente ly nou daarsonder.

Alkohol word vervaardig uit grondstowwe wat van landbou afkomstig is, onder andere moutsorghum, moutgars, mielies, aartappels en druiwe. Sommige van hierdie produkte is direk afhanklik van brouerye wat betref die vraag, en produsente daarvan staar verreikende gevolge in die gesig indien dit nie verwerk word nie.

Graan SA sê in ’n verklaring die verbod beïnvloed ook kleinskaalse produsente wat deur verskillende maatskappye in verskillende programme ondersteun word. Nie net sal produsente se toegang tot markte nou verminder word as gevolg van oorskotte nie, maar die risiko's dat ondersteuning gestaak sal word weens maatskappye se finansiële verliese, is nou ’n werklikheid.

Die garsbedryf het groot geleenthede om uit te brei en verdere verwerkingsgeleenthede en werk te skep, maar gegewe die huidige omstandighede word beleggings volgens Graan SA ontmoedig, wat ’n langtermynimpak op die volhoubaarheid van die bedryf sal hê.

Die bedryfsbestuurder van Klein Roosboomboetiekwynlandgoed in Kaapstad, Johan de Villliers, het aan Landbou.com gesê daar is geen logika agter die drankverbod nie.  

Verskeie regsopsies word deur verskillende instansies en organisasies oorweeg om die regering te dwing om die verbod op te hef of te verslap. Die jongste toetreders tot die geveg is die landbou-organisasie Saai, terwyl die land se grootste bierbrouery, SAB, hulle ook reeds tot die hof gewend het.

Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) het ook ’n dringende aansoek tot die hof gerig om die verbod op te hef.

Graan SA sê hulle erken dat alles gedoen moet word om die land veilig te hou en die druk op die gesondheidsorgstelsel te verminder. “Daar moet egter ook in ag geneem word dat die alkoholverbod ’n hele bedryf met ’n ondersteunde waardeketting affekteer, wat die volhoubaarheid van die lewensonderhoud van mense wat werk in en afhanklik is van hierdie bedryf, verder beïnvloed.”

Met die vorige verbod op drankverkope was daar reeds ’n opeenhoping van die aanbod van gewasse, waarvan sommige nie vir lang tydperke gestoor kon word nie en wat ook geen uitvoermoontlikhede gehad het nie. ’n Verdere verbod plaas die stelsel net meer onder druk en het ingrypende finansiële en ekologiese gevolge, sê Graan SA in hulle verklaring.

BusinessDay het Woensdag berig Heineken SA het die eerste groot maatskappy [mbt die betrokke bedrywe/sektore] geword wat poste afskaf weens die verbod. Sowat 70 werkers uit ’n totaal van 1 000 werkers sal hulle werk verloor.

Graan SA sê mededingende lande bied aansienlike ondersteuning vir hul landbousektor in die geheel waar soortgelyke besluite geneem is weens COVID-19. “Die vraag, nou en tydens droogtes, word steeds geopper: Hoe sal plaaslike produsente ondersteun word as gevolg van hierdie verbod en is die gevolge van hierdie besluit [bespreek] en nagevors? Die huidige scenario wek groot kommer onder produsente, aangesien enkelkopermarkte nou verdwyn, en die landbousektor daaronder ly.”

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het reeds by monde van Vinpro gesê hulle is teleurgesteld en uiters bekommerd oor die algemene beleidsbenadering van die regering met betrekking tot die verkoop van alkohol.

Die verbod het volgens Vinpro ’n vernietigende impak op die wynbedryf. Dit sluit in ’n verlies aan inkomste van meer as R7,5 miljard, beduidende werksverliese en ’n aantal wynkelders en toerismefasiliteite wat noodgedwonge hul deure moes sluit. As gevolg hiervan staar die bedryf nou meer as 250 miljoen liter ongekontrakteerde wyn in die gesig, met die 2021-oes wat binne dae afskop.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top