Suid-Afrika staar ’n ekonomiese krisis in die gesig namate die land se geldkoffer vinnig besig is om heeltemal leeg te raak.
Die Nasionale Tesourie stel nou radikale maatreëls voor om wegholstaatsbesteding in toom te hou en beoog drastiese stappe om te keer dat die land se geld heeltemal opraak.
Cosatu het Maandag in ’n verklaring in reaksie op ’n verslag oor die besnoeiings gesê die organisasie is “diep ontsteld” oor die “skokkende voorstelle”.
President Cyril Ramaphosa het glo ook reeds ’n dringende vergadering met georganiseerde arbeid belê, aangesien die moontlikheid van ’n verdere loonvriesing, werkafleggings en meer besnoeiings aan staatsdienste al hoe noodsaakliker word om die land se finansiële wiele aan die rol te hou.
Vakbondfederasies is glo drie dae gelede dringend van die vergadering in kennis gestel.
Die DA sê in ’n verklaring hulle neem kennis van die onthulling dat Ramaphosa, die minister van finansies, Enoch Godongwana, en die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, dringend vergader het in ’n desperate poging om op die groeiende openbare finansiële krisis te reageer.
Die vergadering het gevolg op die aankondiging van die tesourie dat hy dringende maatreëls sal moet instel om wegholregeringsuitgawes te beperk te midde van verslegtende staatsfinansies. Die situasie word vererger deur die tesourie se ooroptimistiese projeksies in sy Februarie-begroting.
Die tesourie het verlede week onthul dat die begroting na ’n tekort van R143,8 miljard vir Julie beweeg het. Dit is die grootste tekort sedert 2004 en meer as die R115,5 miljard wat ekonome voorspel het. Daar was in Junie ’n surplus van R36,7 miljard.
Bloomberg het vroeër berig dat die land se nasionale skuld tot R4,7 triljoen gestyg het en in 2025 R6 triljoen kan bereik, vergeleke met R500 miljard in 2006.
Die bekende ekonoom Dawie Roodt het voorheen ook gewaarsku dat Suid-Afrika se geld opraak, maar dat die regering huiwerig is om die nodige besnoeiings aan te bring op die vooraand van ’n algemene verkiesing.
Godongwana sê in ’n verklaring hy sal die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring op Woensdag 1 November 2023 om 14:00 in die parlement ter tafel lê. Die mediumtermynverklaring stel regeringsbeleidsdoelwitte en -prioriteite, voorspel makro-ekonomiese trajekte, en projekteer die fiskale raamwerk oor die volgende drie jaar deur onder andere besteding- en inkomsteskattings uiteen te sit.
Die DA sê die eenvoudige feit is dat die regering se geld opraak en nie items wat in Februarie begroot is, kan finansier nie, wat nog te sê die maatskaplike verligting van noodtoelae.
Die party se skaduminister van finansies, Dion George, sê die hoofoorsaak van hierdie krisis is dat die swak ekonomiese groei van 0,6% in die laaste kwartaal ver onder die regering se eie projeksies is. “Dit is ’n direkte gevolg van mislukte ekonomiese beleid en swak fiskale keuses, soos om die regering op die verkeerde plek in die ekonomie te posisioneer; ’n opgeblase kabinet; ’n verspreiding van agentskappe wat niks meer as duur indiensnemingsagentskappe vir ANC-kaders is nie; hopeloos bankrot staatsondernemings wat skaars kop bo water hou; ’n energiekrisis wat die vermoë van besigheid om te funksioneer aansienlik ontwrig het; en sistemiese korrupsie wat gelei het tot ’n gryslys en sakevertroue uitgedryf het en plaaslike en buitelandse beleggings afgeskrik het. Die lys gaan aan,” sê George.
Die DA meen dat die regering nie in staat is om die moeilike keuses te maak wat nodig is om Suid-Afrika finansieel kop bo water te laat hou nie. “Om uitgawes aan die periferie te sny sal nie werk nie. Aanbieding van vroeë aftrede aan werknemers in die openbare sektor; besnoeiing op sigbare polisiëring en ander noodsaaklike dienste sal geen verskil maak nie. Om die grootte van die opgeblase kabinet te verminder, sal ’n positiewe stap wees, en dit sal die verkleining van die staatsdiens van die oorbetaalde, onderproduktiewe bestuurslae moet insluit en nie oorwerkte diensverskaffers in die voorste linies nie.”
Die ANC-regering het volgens die DA finansiële stoom verloor en die minister van finansies het geen manier om dit teen te werk nie. Al wat oorbly, is om uitgawes te besnoei.
“Iets sal moet verander en die beste oplossing vir Suid-Afrika sal ’n nuwe regering wees wat die proses kan begin om ons gehawende ekonomie om te keer voordat dit te laat is,” sê die DA in hulle verklaring.