Dreigende waterkrisis wag op Suid-Afrikaners

  • 0

Suid-Afrika staan op die rand van ’n ernstige waterkrisis.

So sê die burgerregte-organisasie AfriForum in ’n verslag wat die afgelope week bekendgemaak is.

Boonop het Suid-Afrika sedert 2015 van sy laagste jaarlikse reënvalsyfers en baie hoë temperature ervaar.

Die Internasionale Paneel oor Klimaatsverandering (IPCC) het dit vroeër vanjaar in ’n verslag duidelik gemaak dat klimaatgeïnduseerde veranderinge in watersiklusse en droogte oor die volgende dekade regoor Suider-Afrika sal toeneem.

Suid-Afrika is een van die droogste lande ter wêreld. Dit beklee die 29ste plek uit 193 lande wat deur die IPCC ondersoek is, met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van sowat 50% van die wêreldgemiddelde.

Dit is veral ten opsigte van behandelde rioolafvalwater dat daar ’n waterkrisis dreig. Van 140 rioolafvalwaterbehandelingswerke se uitvloei wat vanjaar getoets is, het slegs 19% aan die minimum standaarde voldoen.

Dit beteken dat die water wat deur hierdie aanlegte in riviere gestort word, in ’n kommerwekkende 81% van gevalle nie voldoende behandel is nie, sê AfriForum in sy verslag.

Dít is een van die mees kommerwekkende gevolgtrekkings in AfriForum se nuutste blou-en-groendruppelverslag.

Dié jaarlikse, onafhanklike verslag is die afgelope Woensdag in Vereeniging by ’n stukkende rioolpompstasie bekendgestel om die algehele verval van munisipale rioolwaterinfrastruktuur ten toon te stel.

AfriForum sê dit is een van honderde plekke landwyd waar varswaterbronne (soos die Vaalrivier) wat drinkwater aan gemeenskappe voorsien, met rou riool besoedel word.

Die verslag bevat die volledige uitslae van watergehaltemonsters wat AfriForum se netwerk van 161 takke oor die hele land heen gedurende Augustus van munisipale drinkwater (bloudruppelwater) en die uitvloei van verwerkte rioolwater (groendruppelwater) vanuit plaaslike rioolpompstasies geneem het.

Die 2023-bloudruppeluitslae toon dat hoewel munisipale drinkwater meestal veilig is vir menslike gebruik, met 96% van al die bloudruppeltoetse op nasionale vlak wat op standaard was, die drinkwater van agt dorpe nie aan die standaarde vir veilige drinkwater voldoen het nie.

AfriForum stel sedert 2013 jaarliks ’n onafhanklike blou-en-groendruppelverslag saam om betroubare inligting oor die gehalte van Suid-Afrika se drink- en rioolwater aan die publiek bekend te maak.

Vanjaar se toetse het die teenwoordigheid of afwesigheid van verskeie chemiese en bakteriologiese komponente ondersoek. Die toetse bepaal onder meer die teenwoordigheid van die bakterie E coli, wat diarree, naarheid, braking en selfs nierversaking tot gevolg kan hê, en bakterieë wat siektes soos ingewandskoors, lewerontsteking en disenterie kan veroorsaak.

“Die uitslae van vanjaar se toetse is rede tot ernstige kommer oor die algehele toestand van die bestuur van die volledige watervoorsieningsketting in Suid-Afrika,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

Hy sê hoewel watertoetse net op plekke gedoen word waar AfriForum takke het, en die uitslae net geld ten opsigte van die tydstip waarop die watermonsters geneem is, skets die resultate ’n prentjie van hoe gesond, of ongesond, Suid-Afrika se water in die geheel is.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, onttrek sowat 90% van dorpe landwyd drinkwater uit watermassas waarin rioolaanlegte (on)behandelde riool stort.

“Die wanbestuur van [rioolaanlegte] veroorsaak dus ’n bose kringloop wat ook die gehalte van drinkwater kan beïnvloed,” sê De Klerk. Hy glo dat dit uiteindelik ’n reuse invloed op die koste van drinkwater sal hê. “Ons betaal nog relatief min vir drinkwater, maar dit gaan al hoe duurder word om water te suiwer en daarom gaan die prys van drinkwater opgaan.” Hy waarsku ook dat indien die regering nie nou dringend ingryp om die wanbestuur van rioolsuiweringsaanlegte te pak nie, aanlegte se beheer en bestuur sal verbrokkel, wat tot lewensgevaarlike situasies kan lei soos wat vroeër vanjaar met die cholera-uitbreking die geval was.

  • Die volledige verslag kan HIER gelees word.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top