Droogte in SA nou ’n nasionale ramp

  • 0

Groot dele van Suid-Afrika is die afgelope week deur die regering tot ’n nasionale rampgebied verklaar as gevolg van die knellende droogte in verskeie provinsies.

Die interministeriële taakspan oor watersekuriteit het toestande in 'n aantal provinsies tot nasionale ramp verklaar. Die Wes-, Oos- en Noord-Kaap asook die Vrystaat word geraak. Die minister van samewerkende regering, Zweli Mkhize, het die aankondiging in Kaapstad gemaak nadat die regering vroeër reeds die waterkrisis as 'n ramp geklassifiseer het. Damme in die Wes-Kaap het die afgelope maande tot 'n rekordlaagtepunt afgeneem en is in die stadium gemiddeld 20 persent vol. Vlak 6 B waterbeperkings is in Kaapstad van krag.

Volgens ’n verklaring in die staatskoerant het die regering nou ook toegang tot spesiale fondse vir droogtehulp, nadat drie Kaapse provinsies en die Vrystaat tot nasionale ramp verklaar is. Die droogte is verlede maand as nasionale ramp geklassifiseer en is nou bekragtig.

Volgens die jongste syfers van die departement van waterwese en sanitasie het die Wes-Kaap se gemiddelde damvlak die afgelope week van 20.33% tot onder die 20% gedaal. In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was dit byna 30%.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Zweli Mkhise, het in die parlement gesê die nasionale ramp word afgekondig as gevolg van die spesiale omstandighede wat die droogte regverdig.

Hy het ’n ernstige beroep op almal gedoen om water te bespaar en hulle houding ten opsigte van waterverbruik te verander omdat Suid-Afrika ’n waterskaars land is.

Intussen waarsku kenners dat die landbouproduksie in die Wes-Kaap minstens 10% afwaarts sal neig as gevolg van die waterkrisis.  As Suid-Afrika se waterkrisis oor die langtermyn beskou word, is die land volgens prof Johann Tempelhoff maar in die beginfase van klimaatsverandering en stedelike bevolkingstoename. Tempelhoff is verbonde aan die Suid-Afrikaanse watergeskiedenis-argief aan die Noordwes-Universiteit.

In teenstelling met die droogte in ander dele van die land het paaie in die Oos-Kaap die afgelope week verspoel as gevolg van die vloede wat in die gebied voorgekom het. Nertwerk24 berig dat minstens een persoon dood is en nog nege vermis word nadat hulle in afsonderlike voorvalle vermoedelik in vloede in die omgewing van Mthatha in die Oos-Kaap verdrink het.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top