Die druk is besig om al hoe meer toe te neem dat daar streng opgetree word teen oudpresident Jacob Zuma se minagting van die Grondwetlike Hofuitspraak dat hy verplig is om voor die Zondo-kommissie te verskyn.
Selfs die ANC in die Oos-Kaap het Zuma se optrede sterk veroordeel en sê hy behoort uit die party geskors te word. Die ANC se sekretaris in die Oos-Kaap, Lulama Ngcukayitobi, het aan die Mail & Guardian gesê enige lid van die party, en veral diegene in leiersposisies, behoort ’n voorbeeld vir die party te stel.
Die ANC in die Oos-Kaap, wat tans gelei word deur een van president Cyril Ramaphosa se vertrouelinge, Oscar Mabuyane, het die afgelope naweek tydens hul lekgotla besluit Luthuli-huis moet ’n interne dissiplinêre verhoor teen Zuma instel omdat hy die Grondwetlike Hof se uitspraak openlik minag.
Uit Luthuli-huis self was daar tot dusver geen aanduiding dat hulle Zuma se optrede veroordeel ná sy verklaring waarin hy die land se regstelsel aanval en sê hy is bereid om eerder tronk toe te gaan as om voor adjunkhoofregter Raymond Zondo te veskyn.
Die ANC se sekretaris-generaal en vurige Zuma-ondersteuner oor wie se kop daar self ’n (beweerde) korrupsie-wolk hang, Ace Magashule, wou Woensdag tydens ’n besoek aan Soweto geen slegte woord van Zuma hoor toe joernaliste hom met vrae gepeper het nie.
Magashule het gesê hy weet nie wat die probleem is nie en Zuma behoort alleen gelaat te word. Hy wou hom ook nie oor die saak uitlaat toe hy gevra is of dit in orde is as ’n voormalige president die Grondwetlike Hof minag soos wat Zuma gedoen het nie. “Zuma is Zuma en het sy eie regte so julle kan nie van my verwag om namens Zuma te praat nie,” het Magashule gesê. Hy wou ook weet waarom moet iemand uit die party geskors word omdat hy glo in dit waarin hy glo.
ANC Secretary General Ace Magashule on former President @PresJGZuma defying the constitutional court on appearing before the #StateCaptureInquiry. #sabcnews #Zuma pic.twitter.com/DWHhPjmhGt
— #TheLordOfTheMedia (@samkelemaseko) February 3, 2021
Opposisiepartye en nie-regeringsorganisasies dring egter daarop dat Zuma die prys vir sy optrede moet betaal.
Die Zondo-kommissie het ook ’n verklaring uitgereik waarin hulle Zuma se optrede ten sterkste veroordeel. Die kommissie het opdrag gegee dat Zuma strafregtelik aangekla word indien hy nie opdaag wanneer hy voor die kommissie moet verskyn nie.
— State Capture Commission (@StateCaptureCom) February 2, 2021
Die Right2Know-veldtog (R2K) en oudpresident FW de Klerk het ook geëis dat daar teen Zuma opgetree word.
R2K het ’n brief aan president Cyril Ramaphosa geskryf na aanleiding van verdoemende getuienis die afgelope week voor die Zondo-kommissie waarby Zuma weer eens betrek word.
Die volledige brief wat die organisasie aan Ramaphosa geskryf het kan hier gelees word.
R2K Weekly Briefing: R2K wants Ramaphosa to name spies in its midst | First COVID-19 vaccines have arrived | Zuma to defy Constitutional Court ruling! #OngaziMakazi #Covid_19 #Level3Regulations - https://t.co/y8fbEb3Kzq pic.twitter.com/rESrdSSilK
— Right2Know (@r2kcampaign) February 3, 2021
Die leier van die Vryheidsfront Plus (VF+), Pieter Groenewald, het ook in ’n verklaring geëis dat Zuma tot verantwoording geroep word en tronk toe gaan.
Groenewald sê dit is duidelik dat Zuma martelaar probeer speel deur te sê hy sal nie voor die Zondo-kommissie getuig nie en hy is uitdagend deur te sê hy sal eerder tronk toe gaan as om te getuig.
Die VF Plus se siening is dat Zuma vervolg moet word en tronk toe moet gaan indien hy dit verkies om só die prys te betaal vir die wandade waarby hy betrek word. @GroenewaldPJ
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) February 1, 2021
“Deur ook te sê die huidige regering tree op soos die vorige regering, sleep hy apartheid in en speel hy die apartheidskaart. Met hierdie poging probeer Zuma die aangeleentheid verpolitiseer en dit sal die spanning binne die ANC aansienlik verhoog. Die faksiegevegte in die ANC sal hierdeur op die spits gedryf word.”
Groenewald sê indien Zuma so onskuldig is as wat hy voorgee, kan hy dit vir homself en vir die land maklik maak deur te gaan getuig voor die kommissie waar hy sy onskuld kan bewys.
Die VF+ se siening is dat Zuma vervolg moet word en tronk toe moet gaan indien hy dit verkies om só die prys te betaal vir die beweerde wandade waarby hy betrek word.
“Die belastingbetalers van Suid-Afrika het reeds ’n duur prys betaal vir dié oudpresident se optrede waar hy toegelaat het dat belastinggeld geplunder word. Die tyd het daarom aangebreek dat hy ook die prys betaal vir sy optrede,” sê die VF+ in hul verklaring.