Druk neem toe om brandstofpryse te snoei

  • 0

Terwyl die regering Suid-Afrikaners voorberei vir verdere brandstofprysverhogings in die maande wat kom, word daar al hoe meer druk vanuit opposisiepartye en burgerlike organisasies op die regering geplaas om te keer dat pryse verder styg.

Solidariteit het Donderdag aangekondig dat sy regspan dringend besig is om verskeie regsroetes te ondersoek ten einde stygende brandstofpryse te bestry. Die DA eis dat die prys van brandstof dereguleer word, belasting gesny en die brandstofprys verlaag word.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê hy verwelkom die regering se besluit om verligting ten opsigte van die verlaagde brandstofheffing te verleng, maar het Suid-Afrikaners daaraan herinner dat die maatreël net tydelik is.

Petrol het die afgelope week met tot R2,43 gestyg, terwyl diesel nou R1,10 meer per liter kos – maar die regering het die insamel van ’n verlaagde heffing verleng om die slag vir verbruikers te help demp.

Die verligting van R1,50 sou Dinsdag 31 Mei 2022 eindig, maar sal nou tot 6 Julie geld – gevolg deur ’n afwaartse aanpassing tot ’n verlaging van 75c per liter van 7 Julie tot 2 Augustus.

Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie het Woensdag gesê verbruikers moet hulself gereed maak daarvoor dat hoë brandstofpryse hier is om te bly weens die voortslepende wêreldwye energiekrisis.

Volgens Solidariteit speel die regering, en veral die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, steeds ’n beduidende rol in die onlangse rekordtoename in brandstofpryse.

Solidariteit voer aan dat die tydelike verligting in die vorm van ’n verlenging van die korting op die brandstofheffing wat onlangs deur die minister aangekondig is, onvoldoende, kortsigtig en op lang termyn selfs skadelik sal wees.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê in ’n verklaring die tydelike verligting wat die minister voorstel, is ’n korttermynoplossing wat op lang termyn uiters skadelike gevolge vir die fiskus inhou.

“Dit hanteer boonop nie die strukturele probleme in Suid-Afrika se brandstofmark nie. Volhoubare verligting lê daarin om die regering se wurggreep op die brandstofwaardeketting te verbreek sonder om nóg druk op ’n reeds wankelrige staatskas te plaas,” sê Du Buisson.

Hy sê  ten spyte van ondernemings wat in die parlement en in die media gegee is om te dereguleer, het die departement nie by sy woord gehou nie. “Ons moet ons derhalwe nou na die howe wend vir oplossings om die regering te dwing om tot aksie oor te gaan,” het hy gesê.

Die DA sê verdere brandstofprysstygings sal tien miljoene Suid-Afrikaners selfs dieper in ’n finansiële en humanitêre krisis dompel.

Die party het ’n brief aan Mantashe en aan die minister van finansies, Enoch Godongwana, gerig waarin hulle vra dat brandstofpype verlaag word. Die publiek word gevra om die brief te mede-onderteken sodat die ANC-regering gedwing word om die belasting op brandstof te verminder.

Die DA doen ook ’n oproep om ’n dringende debat van nasionale belang in die parlement om druk op die ANC-regering uit te oefen om die DA se voorstelle te implementeer.

Die DA sê die ANC-regering het Suid-Afrikaners al dekades lank ongeërg misbruik deur die kunsmatig hoë brandstofprys. “Deur belasting en heffings op brandstof te sny, kan ons die koste van brandstof maklik met tot ’n derde verminder.”

“Stel dringende wetgewing in om die brandstofprys te dereguleer en te verlaag, wat onmiddellike verligting vir alle pendelaars sal bring, aangesien kleinhandelaars sal meeding om laer pryse aan te bied,” vra die DA.

Die regering se aankondiging dat hy brandstofverligting in die vorm van ’n verlaagde Algemene Brandstofheffing (GFL) in Junie en Julie sal verleng is deur die AA verwelkom.  Die AA waarsku egter dat die massiewe stygings in brandstofpryse vir Junie steeds verbruikers en die ekonomie ernstig knou.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top