Druk is besig om al hoe meer toe te neem dat president Cyril Ramaphosa die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, uit die kabinet verwyder. Dit volg ná die onthulling dat ’n Valke-ondersoek bevind het sy was na bewering betrokke by tenderkorrupsie.
Minstens vier politieke partye, naamlik die DA, ActionSA, Vryheidsfront Plus en EFF, het reeds haar kop geëis.
News24 het vroeër berig hoe die Valke hul ondersoek afgehandel het na ’n tender van R2,5 miljoen wat die minister in die presidensie betrek het, terwyl sy in 2009 die munisipale bestuurder van die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit was.
Die DA-woordvoerder oor staatsveiligheid, Dianne Kohler Barnard, sê sy kan nie as minister in hierdie portefeulje (of enige ander) dien, terwyl sy deel is van so ’n ernstige kriminele ondersoek nie.
“Ons doen ’n beroep op haar om dadelik uit te tree. By gebreke daarvan moet die president haar van haar pligte onthef.”
🚨The DA calls for the immediate removal of Minister Ntshavheni following her involvement in a R2.5 million tender corruption case during her time as Municipal Manager of Ba-Phalaborwa. The DA demands Ramaphosa act to ensure accountability & transparency.https://t.co/bxCD1IPsCw
— Democratic Alliance (@Our_DA) January 21, 2025
ActionSA het ook ’n beroep op Ramaphosa gedoen om Ntshavheni te skors na aanleiding van die Valke se bevestiging dat hulle ’n dossier na die NVG verwys het wat bewerings van bedrog en korrupsie teen die minister behels.
Athol Trollip, ActionSA se parlementêre leier, sê Ntshavheni sluit kommerwekkend aan by ’n groeiende lys van Ramaphosa se vertrouelinge en ministers wat krimineel ondersoek word vir bedrog en korrupsie. Hy sê dit beklemtoon ’n kommerwekkende patroon van die president se versuim om behoorlike omsigtigheid aan te wend wanneer hy individue in kritieke posisies binne sy regering aanstel.
We call on President Cyril Ramaphosa to suspend Minister in the Presidency Khumbudzo Ntshavheni following the Hawks' confirmation that they have referred a docket to the NPA involving allegations of fraud and corruption against the Minister.https://t.co/m3OuHAsSsk
As the…
— ActionSA (@Action4SA) January 20, 2025
Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus het hom by die ander partye aangesluit. Hy sê die Valke se ondersoek na die minister se beweerde betrokkenheid by tenderkorrupsie moet ernstig opgeneem word en sy moet summier geskors word hangende die finale uitslag van die saak.
Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) se ondersoek na die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, se beweerde betrokkenheid by tenderkorrupsie moet ernstig opgeneem word. @MulderCorn https://t.co/w0K5HYjMmJ
— VRYHEIDSFRONT PLUS (@VFPlus) January 21, 2025
Die EFF het in hulle reaksie gesê dat Ntshaveni se rol in die beweerde korrupte toekenning van ’n tender in Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit “die grondslag verteenwoordig van wat verkeerd is met plaaslike regering in Suid-Afrika”.
The EFF’s Statement on the Hawks Investigation into Fraud and Corruption Allegations Against Minister Khumbudzo Ntshavheni
-Ntshaveni’s role in the corrupt awarding of a tender in Ba-Phalaborwa Local Municipality, represents the foundations of what is wrong with local government… pic.twitter.com/kHjWCd4zyx
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) January 20, 2025
Barnard van die DA sê in ’n verklaring dit is nog ’n voorbeeld van ’n ANC-minister in Ramaphosa se kabinet wat hy moet verwyder weens bewerings van korrupsie. “Óf hy was nie bewus van hierdie bewerings nie, wat ’n aanklag op sigself sou wees, óf hy was bewus daarvan, wat verdoemende vrae sou laat ontstaan oor sy sorgsaamheidsplig as hoof van die uitvoerende gesag.”
Mulder van die VF Plus sê in sy verklaring dit bly verstommend dat korrupsie herhaaldelik na vore kom in die omgewing van Ramaphosa en sekere senior lede van sy kabinet sonder dat daar ooit enige daadwerklike optrede gesien word.
“Dit blyk dat daar binne die magskringe van die ANC geen werklike behoefte is om korrupsie uit te roei nie, maar eerder om persone wat daarby betrek word, te beskerm.”
ActionSA sê in hulle verklaring op dieselfde wyse waarop die regsprobleme waarmee die huidige minister van menslike nedersettings en voormalige minister van justisie, Thembi Simelane, te kampe het, skep Ntshavheni se geval met die NVG ’n duidelike konflik weens haar rentmeesterskap van die Staatsveiligheidsagentskap, wat noodsaak dat sy geskors word.
ActionSA het verlede jaar ’n soortgelyke beroep op die president gedoen oor Simelane, wat geïgnoreer is. Dit het gevolg op bewerings dat sy tydens haar ampstermyn as burgemeester van Polokwane ’n “lening” by ’n VBS-gekoppelde beleggingsmakelaar aangevra het, wat haar in ’n onhoudbare posisie as minister van justisie geplaas het.
Fikile Mbalula, ANC-sekretaris-generaal, sê die party sal eers kommentaar lewer oor die aantygings teen Ntshavheni sodra sy aangekla is.
Mbalula het Maandag by Luthuli-huis in Johannesburg aan die media gesê dat die ANC geen kommentaar oor die saak het nie. Hy sê daar is niks vir die ANC om op te reageer nie.
“Daar is niks regtig oor Khumbudzo waarop ons tans moet reageer nie, behalwe dat daar berigte is dat die Valke ’n verslag oor beweerde korrupsie afgehandel het. Dit eindig daar.
“Ons reageer op iets tasbaars wanneer iemand in hegtenis geneem word. Dis wanneer jy daarop reageer. Wetstoepassers in Suid-Afrika moenie mense deur die media verhoor nie,” het Mbalula gesê.