Druk op Dis-Chem en regering na bohaai oor rassebeleid

  • 0

Die apteekgroep Dis-Chem se “moratorium” op die aanstelling of bevordering van enigiemand wat toevallig wit is, sowel as die regering se wette wat dit ondersteun, moet gestop word.

Dit help nie om Dis-Chem te breek of bankrot maak te nie, maar dit is tyd dat Dis-Chem en ander maatskappye standpunt inneem teen geïnstitusionaliseerde rassisme.

So sê die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) in reaksie op die herrie wat uitgebreek het nadat ’n interne brief van Dis-Chem se uitvoerende hoof, Ivan Saltzman, oor die “moratorium” verlede week uitgelek het.

Die gewraakte memorandum is intussen teruggetrek. Die vakbond Solidariteit sê egter hulle wil eers seker maak dat dit nie net die memo is wat onttrek is nie, maar ook die beleid.

Intussen het die burgerregteorganisasie AfriForum sy meer as 308 000 lede aangemoedig om eerder gemeenskapsapteke te ondersteun.

“Dis-Chem is nie die enigste apteek in Suid-Afrika nie. AfriForum spoor sy lede en ondersteuners aan om hul plaaslike gemeenskapsapteek te ondersteun om sodoende hulle geld te laat praat,” het Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, in ’n verklaring gesê.

Die IRR sê egter dit help nie om Dis-Chem te breek of bankrot te maak nie. In plaas daarvan moet ordentlike Suid-Afrikaners opstaan ​​en “daardie apteek red van die geïnstitusionaliseerde rassisme wat hy nou probeer implementeer, en so deel van die oplossing wees”.

Dit is tyd dat Dis-Chem en ander maatskappye standpunt inneem, sê die IRR. Hulle sê in ’n verklaring Dis-Chem se moratorium strook nie met die Grondwet, wat nierassigheid identifiseer as ’n grondliggende waarde van Suid-Afrika se demokrasie nie.

Boonop weerspreek dit volgens hulle die gelykheidsklousule (artikel 9), wat die private sektor verbied om onbillik teen mense op grond van hul ras te diskrimineer. Volgens die klousules is enige diskriminasie op rassegronde onbillik tensy die teendeel bewys word.

Gabriel Crouse, hoof van veldtogte by die IRR, het gesê mens moet die werklike konteks begryp om te verstaan wat aangepak moet word. Hy se Dis-Chem se rassistiese aanstellingsbeleid is net ’n breukdeel van die probleem.

“Die groot probleem hier is dat die regering meer aggressiewe rassewette maak. Die oplossing is om daardie wette te beveg en om nie die knie te buig vir ’n rassewet nie. Dis-Chem moet opstaan ​​en deel word van die oplossing.”

Volgens die IRR ruïneer swart ekonomiese bemagtiging (SEB) Suid-Afrika ekonomies, sosiaal en polities.

“Die Zondo-verslag het gesê rassewette is die kern van korrupsie in die staatsdiens, want dit ondermyn die merietebeginsel en skep verwarring wat mense uitbuit. Meriete is die beste medisyne. Maar minister Thulas Nxesi het meer aggressiewe SEB belowe en nou voldoen Dis-Chem aan sy wens.”

Die IRR het die publiek aangemoedig om ’n petisie te onderteken om “nee! te sê vir geïnstitusionaliseerde rassisme by Dis-Chem en regdeur Suid-Afrika”.

Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, sê hulle verwelkom die feit dat die memorandum teruggetrek is, maar betreur dit dat so ’n memorandum enigsins bestaan het. “Ons gaan seker maak dat dit nie net die memorandum is wat teruggetrek is nie, maar ook die beleid. Indien Dis-Chem voortgaan met die beleid om ’n moratorium op die aanstelling van wit mense te plaas, sal ons voortgaan met die hofsaak,” het Hermann in ’n verklaring gesê.

Twee uitsprake van die Konstitusionele Hof (wat teen staatsdepartemente, eerder as private maatskappye gelewer is) het volgens die IRR skynbaar aanleiding gegee tot die rigiede rassekwota wat Dis-Chem toepas.

Hulle sê hierdie uitsprake sien die drievoudige toets vir die geldigheid van rasgebaseerde regstellende-aksie-maatreëls wat die Konstitusionele Hof in die Van Heerden-saak in 2004 neergelê het, oor die hoof.

Volgens die Van Heerden-uitspraak moet “gemagtigde regstellende maatreëls” aan drie toetse voldoen: Dit moet (1) die benadeeldes teiken; (2) ontwerp wees om hulle te bevorder; en (3) die bereiking van gelykheid bevorder.

Volgens die IRR voldoen Dis-Chem se moratorium nie aan hierdie drie toetse nie en daarom is dit ongrondwetlik.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top