Suid-Afrika is onder groot druk om die Russiese president, Wladimir Poetin, te arresteer wanneer hy die land later vanjaar vir die Brics-beraad besoek.
Dit volg nadat die Internasionale Strafhof, waarvan Suid-Afrika ’n ondertekenaar is, ’n lasbrief vir Poetin se inhegtenisneming uitgereik het omdat hy na bewering oorlogsmisdade gepleeg het in Rusland se voortslepende oorlog in Oekraïne.
Suid-Afrika bied die 15de Brics-beraad in Augustus aan en die staatshoofde van Brasilië, Rusland, Indië en China sal dit na verwagting almal bywoon.
Presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, het aan die media gesê dit is voortydig om kommentaar te lewer oor of Suid-Afrika Poetin sal arresteer wanneer hy die land later vanjaar besoek.
Die DA sê in ’n verklaring tensy Ramaphosa van voorneme is om met die Internasionale Strafhof saam te werk en Poetin in hegtenis te neem sodra hy sy voete op Suid-Afrikaanse bodem sit, moet hy hom nie toelaat om die Brics-beraad by te woon nie.
“Die DA doen ’n beroep op president Cyril Ramaphosa om die land se reputasie en welstand bo dié van die Russiese president, Wladimir Poetin, te prioritiseer en te verseker dat hy nie onder die leiers is wat die Brics-beraad in Augustus in Suid-Afrika sal bywoon nie,” sê Darren Bergman, die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking.
Hy sê die Internasionale Strafhof se uitreiking van ’n lasbrief vir Poetin se arrestasie behoort as ’n finale waarskuwing aan die ANC te dien dat hoewel die regerende party kan maak asof die inval van ’n buurland nie veel is nie, die internasionale gemeenskap dit nie so beskou nie.
Poetin en die Russiese kommissaris vir kinderregte, Maria Alekseyevna Lvova-Belova, word daarvan beskuldig dat hulle kinders en ander mense onwettig uit Oekraïne na Rusland gedeporteer ontvoer het.
Bergman sê Ramaphosa se poging om DA-leier John Steenhuisen se vraag oor die deelnemers aan die Brics-beraad te ontduik, wys dat sy bewondering vir Poetin hom verblind vir die spanning wat Rusland se inval in die Oekraïne op Suid-Afrikaanse burgers geplaas het.
“As president Ramaphosa daarop aandring om sy vriendskap met ’n gesoekte oorlogsmisdadiger bokant die welstand van sy mense te plaas, doen ons ’n beroep op hom om te verseker dat die vergadering op neutrale grond plaasvind en dat vrede en Rusland se onmiddellike onttrekking uit Oekraïne voorrang geniet.”
Volgens die DA sou dit die mees produktiewe en doeltreffendste gebruik van Brics-hulpbronne en -energie wees om ’n herstel van die wêreldekonomie te verseker.
Die party sê in hulle verklaring Suid-Afrika word reeds as swak en onaktief beskou en hoef nie simpatiseerders van oorlogsmisdadigers by die lys te voeg nie.
“Die land kan eenvoudig nie nog ’n kishou vir ons reputasie bekostig nie. Die Financial Action Task Force (FATF) se gryslys weens die versuim om geldwassery doeltreffend te bekamp en die finansiering van terrorisme het reeds veroorsaak dat die res van die wêreld Suid-Afrika se globale transaksies as hoërisiko beskou. En die versuim om die voormalige Soedannese president Omar al-Basjir in 2015 in hegtenis te neem, dui beslis daarop dat die ANC-regering, ten spyte van sy vele teenoorgestelde uitsprake, nie menseregte prioritiseer nie.”
Omar al-Basjir is in 2015 toegelaat om Suid-Afrika te verlaat sonder om ingevolge die Internasionale Misdaadhof-wetgewing aangehou te word. Suid-Afrika het daarna aansoek gedoen om uit die Internasionale Strafhof te onttrek, maar het sy voorneme om te onttrek in 2017 teruggetrek nadat ’n uitspraak van die Hooggeregshof bevind het dat die stap ongrondwetlik sou wees.
Lees ook:
https://www.litnet.co.za/die-internasionale-strafhof-se-arrestasiebevel-vir-poetin-wat-is-die-gevolge-en-wat-gaan-suid-afrika-doen/