Druk op Zweli Mkhize om te bedank na COVID-19-skandaal

  • 0

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, is deur opposisiepartye en belangegroepe gevra om opsy te staan na bewerings van onreëlmatige kontrakte van miljoene rand deur sy departement.

Dit volg nadat Mkhize Woensdag 26 Mei tydens ’n nuuskonferensie erken het dat ’n ondersoek bevind het dat daar onreëlmatighede van miljoene rand se tenders met die kommunikasiemaatskappy Digital Vibes by sy departement was. Mkhize ontken egter dat hy voordeel getrek het uit die kontrak of by die toekenning daarvan betrokke was.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ondersoek bewerings dat die departement Digital Vibes R150 miljoen betaal het vir dienste wat verband hou met die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die regering se reaksie op die koronaviruspandemie.

Mkhize se voormalige woordvoerder, Tahera Mather, en ’n vorige persoonlike assistent, Naadhira Mitha, is glo in beheer van die maatskappy, hoewel hulle nie as direkteure gelys is nie.

Die DA, Vryheidsfront Plus en burgerregteorganisasie AfriForum het Woensdag almal skerp reageer op Mkhize se erkenning van onreëlmatighede in sy departement.

Die DA sê in hulle verklaring dit is nou duidelik dat plundering van openbare fondse by die Departement van Gesondheid onder Mkhize se leierskap plaasgevind het en dat daar ’n duidelike botsing van belange was. Die DA sê Mkhize kan nie speler en skeidsregter gelyktydig wees in die ondersoek nie en dat hy opsy moet staan sodat die saak verder onafhanklik ondersoek kan word om te bepaal of daar enige kriminele vervolging moet wees.

AfriForum het reeds Woensdag ’n klagte by die Openbare Beskermer ingedien en ook ’n beroep gedoen op Mkhize om opsy te staan. Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, moet die ANC die korrupsiepandemie in eie geledere nou daadwerklik begin hokslaan. “Die ANC moet dr Zweli Mkhize opsy laat staan hangende die uitslag van die ondersoek teen hom. Enigiets minder as dit is verraad teen gemeenskappe wat gebuk gaan onder die impak van die Covid-pandemie,” sê Kruger.

“Belastingbetalers is op breekpunt en word daagliks deur berigte van nuwe plundertogte deur ANC-amptenare gekonfronteer. Die ANC-regering besef duidelik steeds nie watter vlakke van frustrasie daar onder belastingbetalers bestaan nie. AfriForum word daagliks oorval deur raadop gemeenskappe wat daadwerklike belastingverset ondersoek,” sê Kruger in ’n verklaring.

Volgens Kruger voorspel hierdie ernstige korrupsiebewerings niks goeds vir die NGV wat die ANC teen elke prys wil probeer deurdruk nie. “Die plundering van hulpbronne by die eerste geleentheid wat tydens ’n pandemie opduik, is ’n voorspelling van wat verwag kan word wanneer hulpbronne sentraal bestuur word as NGV verwesenlik sou word.”

Die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, Philip van Staden, sê in sy verklaring Mkhize se erkenning oor die onreëlmatige kontrak met Digital Vibes laat verskeie vrae ontstaan oor hoe ook die NGV onder korrupsie kan deurloop.

Die party sê hulle het al herhaaldelik gevra watter waarborg die Minister kan gee dat die NGV nie deur korrupsie geteister sal word nie en hy kon geen waarborg lewer nie.

Die Digital Vibes-saak wys volgens die VF Plus dat die NGV nie bestand is teen korrupsie nie, en die party sê dit is onvermydelik dat die NGV gekaap sal word deur korrupte politici en kaders nog voordat dit op die wetboeke geplaas is.

Die onregmatige aanstelling van Digital Vibes, asook die onreëlmatige uitbetalings van R150 miljoen aan die maatskappy tussen Januarie 2020 en Februarie 2021 is ’n duidelike bewys dat korrupsie in die Departement van Gesondheid veel wyer en dieper strek as wat besef word.

Die VF Plus is van mening dat dit net die oortjies van die seekoei is en dat daar juis nou nog dieper gedelf moet word in die departement se sake.

Die party sê hulle wag dus vir die finale uitreiking van die verslag van die SOE oor die aangeleentheid.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top