Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het hom die afgelope week ’n dubbele verleentheid op die hals gehaal.
Eers moes hy toekyk hoedat sy begrotingsrede in die asblik beland enkele ure voordat hy dit in die parlement sou lewer. Kort daarna het hy tydens ’n media-inligtingsessie onvleiende opmerkings gemaak oor die kommissaris van die SA Inkomstediens (SAID), Edward Kieswetter, sonder dat hy besef het die mikrofoon is aan en almal hoor hom.
Die uitstel van Suid-Afrika se nasionale begroting op 19 Februarie 2025 is iets wat nog nooit in die land se demokratiese geskiedenis gebeur het nie. Of dit “goed” of “sleg” is, hang af van die perspektief en die uiteindelike uitkoms. Waarnemers meen daar is voor- en nadele om te oorweeg op grond van die huidige konteks.
Almal stem egter saam dat die ANC met ’n rooi gesig loop. Dit is ’n tydige herinnering aan die party dat hulle nie meer alleen regeer en kan maak en breek soos wat hulle wil nie.
Die uitstel spruit uit onenigheid binne die RNE, veral oor Godongwana se voorstel om BTW met 2% te verhoog (van 15% na 17%). Die ANC se bondgenote in die RNE, soos die DA en ander kleiner partye, het hierteen beswaar gemaak, wat gelei het tot ’n gebrek aan konsensus. Die speaker van die parlement, Thoko Didiza, moes noodgedwonge die uitstel van die begroting tot 12 Maart 2025 aankondig om verdere onderhandelinge moontlik te maak.
Die uitstel gee nou aan die RNE kans om ’n meer inklusiewe en aanvaarbare begroting op te stel. As die BTW-verhoging sonder ooreenkoms geforseer was, kon dit politieke spanning en openbare onrus veroorsaak het, veral omdat BTW-stygings swaar op verbruikers druk.
Ander partye in die RNE, soos die DA en VF Plus, sê die afgelope week se gebeure het gewys dat hulle nie langer geboelie gaan word nie.
Die uitstel van die nasionale begrotingsrede vir 2025/26 is volgens die DA-leier, John Steenhuisen, ’n oorwinning vir die mense van Suid-Afrika, aangesien dit die implementering van ’n 2%-BTW-verhoging verhoed het wat die land se ekonomie sou geknak het.
📺 SA needs a growing economy — NOT higher taxes! The DA calls for a budget that drives growth & job creation. We reject the proposed 2% VAT hike that will make life harder for everyone, and will kill jobs.
Join the fight! Sign the petition now: https://t.co/saRH6izhkv… pic.twitter.com/8067pzYlts
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 20, 2025
“Die uitstel op die nippertjie het ontstaan weens die mislukking deur die ANC, en spesifiek minister van finansies Enoch Godongwana, se versuim om sinvol betrokke te raak by die alternatiewe voorstelle wat deur die DA ter tafel gelê is.”
Daar sal nou met dieselfde mag geveg word om ’n nuwe begroting op te stel wat geanker is in die groei van die ekonomie, eerder as om belasting of skuld te verhoog, het Steenhuisen in ’n verklaring gesê.
Die voorgenome skokverhoging van BTW met 2% sou volgens die VF Plus direkte en sigbare gevolge op Suid-Afrika se ekonomie hê. Die party sê in ’n verklaring die vorige BTW-verhoging het reeds gewys dat BTW nie ’n gans is wat goue eiers kan optower uit ’n bankrot ekonomie en verarmde gemeenskap nie. “Die realiteit is dat dit die ekonomie verder sal laat stagneer en die ekonomiese krisis laat vererger.”
❗️UITSTEL VAN BEGROTINGSREDE: "Ons het egter Woensdagoggend 'n Zoom-vergadering met die president en al die RNE-leiers gehad. Ek het toe vir die eerste keer gehoor dat 'n verhoging van 2% in BTW voorgestel word. Dis waar die probleem ontstaan het. @GroenewaldPJ @Netwerk24 pic.twitter.com/P4zJyAsVpD
— VRYHEIDSFRONT PLUS (@VFPlus) February 20, 2025
En toe die volgende blaps. Aan die einde van Godongwana se die inligtingsessie het mikrofone ’n gesprek tussen hom en Duncan Pieterse, direkteur-generaal van die nasionale tesourie, opgevang wat ’n vraag oor Kieswetter bespreek het.
Daar is gehoor hoe Pieterse vir Godongwana sê: ”Ek is bly jy het die vraag oor die kommissaris geneem. Jy het dit baie beter beantwoord as wat ek sou gedoen het.”
Godongwana het geantwoord: “O nee, ek was ’n bietjie bekommerd. Hy [Kieswetter] maak my kwaad; selfs hier kom hy met hierdie gemors ...”
Hierdie opmerking, wat nie vir die media se ore bedoel was nie, het Suid-Afrikaners ernstig aan die gis oor die vertrouensverhouding tussen die Minister en sy top amptenare by finansies.