Suid-Afrika het reeds duisende dosisse Covid-entstof weens vermorsing gedurende die pandemie verloor.
Dit is volgens ’n onlangse antwoord van die minister van gesondheid, Joe Phaala, op ’n vraag wat die DA in die parlement aan hom gestel het.
Die totale aantal entstofdosisse wat sedert 17 Mei 2021 op die voorraadsigbaarheidstelsel (21 November 2021) aangeteken is as verlore weens vermybare vermorsing, insluitend skade en vervaldatum, is nasionaal 274 312.
Hoewel dit slegs 0,9% is van die dosisse wat versprei is, beloop dit baie geld.
Die koste van een Pfizer-inspuiting word op R308 geraam, met een Johnson & Johnson-inspuiting wat na raming sowat R280 kos. Dit is gelyk aan ’n geraamde R83 miljoen se verlore geld weens vermybare vermorsing, insluitend skadevergoeding, vervaldatums en die dosisse wat tydens die onrus in Julie 2021 verloor is.
Die DA het ’n beroep op die Departement van Gesondheid gedoen om dringend met werkbare oplossings vorendag te kom om sulke vermybare vermorsing hok te slaan. “Hierdie entstowwe is kosbaar en ons kan nie toelaat dat ’n enkele dosis tot niet gaan nie,” sê die DA-parlementslid Haseena Ismail, lid van die portefeuljekomitee van gesondheid, in ’n verklaring.
Ismael sê die departement moet sy entstofbewusmakingsveldtogte verskerp om die aantal entstowwe wat ongebruik word en verval, tot die minimum te beperk. “Ons verloor nie net belangrike entstowwe as gevolg van vermorsing nie, maar ons mors ook miljoene rande en ondermyn ons vermoë om voort te gaan om die Covid-19-pandemie te beveg.”
Die Suid-Afrikaanse farmaseutiese vervaardiger Biovac het intussen aangekondig dat hy vroeg volgende jaar reeds gaan begin om die Pfizer-BioNTech-entstof te vervaardig. Hy het die nodige komponente reeds uit Europa ontvang, aansienlik vroeër as wat verwag is. Volgens die maatskappy se oorspronklike beplanning sou die proses eers in Julie volgende jaar begin het. Daar is gehoop dat dit sal help om ’n oplossing te bied vir entstofongelykheid op die vasteland.
Ministers van gesondheid in die Europese Unie vergader vandag (Dinsdag) om te bespreek of daar enige aanpassings gemaak moet word aan die reisbeperkings vir lidlande. Die EU het in November ’n reisverbod teen verskeie lande in Suider-Afrika ingestel weens kommer oor die nuwe Omikron-variant. Volgens berigte kan die ministers instem om persone uit Suider-Afrika toe te laat mits hulle ten volle ingeënt is en ’n geldige Covid-toets as bewys kan toon. Dit kan daartoe lei dat sommige reisbeperkings oor die volgende week verslap word.
Vroeër het die VSA se voorste kenner op die gebied van aansteeklike siektes, Anthony Fauci, gesê die Amerikaanse regering voel sleg oor sy instelling van ’n reisverbod teen Suider-Afrika. Volgens Fauci word Amerika se beleid daagliks hersien en is dit moontlik dat dit nie te lank van krag sal wees nie.
President Cyril Ramaphosa het Maandag in Dakar tydens sy besoek aan Afrikalande gesê die VSA en EU noem Afrika hul vennote, maar volg nie die wetenskap met betrekking tot reisbeperkings nie.
Ramaphosa het ’n ernstige pleidooi gelewer dat die reisverbod wat deur Westerse lande aan Suid-Afrika opgelê is, opgehef word. Die president van die Europese Raad het egter ontken dat daar teen Afrika gediskrimineer word.
The Dakar International Forum on Peace & Security has become an essential meeting place for decision makers involved in Africa. It brings together many African Heads of State and Government, international partners, as well as multiple actors of Peace and Security. #FDD2021 pic.twitter.com/GaDJzDt922
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) December 6, 2021
En in Gauteng het die Universiteit van Johannesburg (UJ) hom by vyf ander Suid-Afrikaanse universiteite aangesluit om die verpligte inentingsbeleid op kampus aan te neem.
UJ Council adopts mandatory COVID-19 vaccination policy to access campuses and facilities
For more details on the mandatory vaccination policy: https://t.co/0ErRe7FMn6
— University of Johannesburg (@go2uj) December 6, 2021
Dit volg op die opsporing van die nuwe variant in Suid-Afrika op 25 November.
UJ vereis nou dat alle personeel, postdoktorale navorsingsgenote en studente óf hul eerste inenting moet voltooi het óf ten volle ingeënt moet wees voordat hulle die kampus betree.