Duisende gekant teen naamsverandering van Afrikaanse Taalmonument

  • 0

’n Versoekskrif met byna 10 000 handtekeninge is die afgelope week aan die bestuur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) oorhandig waarin daar beswaar gemaak word teen die moontlike naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument.

Dit volg nadat die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, Afrikaanssprekendes die harnas ingejaag het omdat hy volgens berigte daarop aandring dat die woord “Afrikaanse” uit die monument se naam verwyder moet word om dit meer inklusief te maak.

Daar word nou geëis dat die minister in die openbaar aankondig dat die monument se naam nie verander sal word nie.

Die handtekeninge is deur die DA ingesamel as deel van die party se veldtog teen Mthethwa se plan om “Afrikaanse” uit die naam van die monument te verwyder. Volgens die DA is dit ’n waansinnige plan wat die monument van alle betekenis sal stroop.

Verlede Saterdag het die oorgrote meerderheid mense wat ’n vergadering oor die voorgestelde naamsverandering in die Paarl bygewoon het, ook aangedui dat hulle ten gunste daarvan is om die huidige naam te behou.

Die ATM se bestuur het na afloop van die vergadering gesê hulle neem kennis van die sentimente wat tydens die vergadering uitgespreek is.

Die raad se voorsitter, Jean Meiring, het gesê hulle bly gefokus op die bevordering van maatskaplike samehorigheid, Afrikaans en ander inheemse tale asook veeltaligheid – en die rol wat hulle in die groter dekolonialiseringsproses speel.

Hy sê die raad het reeds met die nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur ’n gesprek gevoer oor hierdie kwessie sowel as oor die voorgestelde amalgamasieproses wat deur die Witskrif oor Kuns, Kultuur en Erfenis van 2018 in die vooruitsig gestel word.

Die DA sê in ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is elke persoon wat die petisie onderteken het, het ’n boodskap aan die ATM se bestuur gestuur dat dit ’n absurde en roekelose voorstel is om ’n verwysing na Afrikaans te verwyder uit die naam van ’n monument wat juis opgerig is as ’n viering van die invloede van dwarsoor Afrika en die wêreld wat gelei het tot die totstandkoming van hierdie unieke taal.

Volgens die ondertekenaars kom dit neer op ’n growwe aanval op Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners – en veral op die Afrikaanssprekende meerderheid in die Wes-Kaap, waar die Taalmonument geleë is.

Die DA het ’n dringende beroep op die bestuur van die ATM gedoen om nie die knie te buig voor wat hulle bestempel as “die waansin van Nathi Mthethwa en die ANC” nie.

“Eerder as om monumente van hul betekenis te stroop en ons diversiteit te probeer aanval, behoort Suid-Afrika se ryk en diverse taalerfenis gekoester en beskerm te word,” lui die petisie.

Die DA het elke Suid-Afrikaner wat hulle petisie onderteken het, bedank. Hulle sê daardeur het die ondertekenaars hul deel gedoen om die land se ryk taalerfenis teen die nasionale ANC-regering te beskerm.

Die party dring nou daarop aan dat Mthethwa in die openbaar moet aankondig dat die Taalmonument se naam nie verander sal word nie, en dat beheer van die Afrikaanse Taalmonument aan die DA-beheerde Wes-Kaap oorgedra sal word, aangesien die nasionale regering volgens hulle duidelik “geen respek vir hierdie kosbare deel van die land se erfenis het nie”.

Die herrie oor die ATM se naam volg kort op die hakke van ’n hewige stryd deur Afrikaanse belangegroepe om Afrikaans as ’n inheemse taal erken te kry nadat die minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, Blade Nzimande, Afrikaans uitgesluit het as inheemse taal.

Intussen het die ATM se bestuur mense gewaarsku om nie geld te gee aan persone wat voorgee hulle samel geld in om die ATM se naam te behou nie. Die ATM het op Facebook gesê hulle is nie van so ’n projek bewus nie en waarsku mense om nie slagoffers van die slenter te word nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top