Suid-Afrikaners het die afgelope naweek in hulle duisende na stemlokale regoor die land gestroom om hulle vir vanjaar se algemene verkiesing te laat registreer.
Dit was die laaste geleentheid waar kiesers by stemlokale kon registreer. Die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, het ’n beroep op stemgeregtigde Suid-Afrikaners gedoen om van nou af van die aanlyn platform gebruik te maak as hulle nog moet registreer.
Missed the registration weekend? Don't worry! Register online before the voters' roll closes at https://t.co/QFgJgjwl82. #RegisterToVote #SAelections24 pic.twitter.com/6VfEf3rvdt
— IEC South Africa (@IECSouthAfrica) February 5, 2024
Moepya het na afloop van die registrasienaweek gesê meer as ’n halfmiljoen mense het die naweek geregistreer. Hy sê Suid-Afrikaners kan voortgaan om aanlyn of by hulle naaste OVK-kantoor te registreer totdat president Cyril Ramaphosa die verkiesingsdatum aankondig.
[MEDIA STATEMENT]
MORE THAN HALF A MILLION SOUTH AFRICANS REGISTER ON DAY ONE OF REGISTRATION WEEKEND. GOOD START TO DAY TWO. pic.twitter.com/M0WNIueWMZ
— IEC South Africa (@IECSouthAfrica) February 4, 2024
Politieke partye het veral ’n beroep op jongmense gedoen om te registreer.
Die Veelpartyhandves, wat uit 11 opposisiepartye bestaan, sê in ’n verklaring jongmense het die meeste om te wen, maar ook die meeste om te verloor.
“Slegs as hulle geregistreer is, kan hulle die krag van hul stem gebruik om ’n beter toekoms vir hulself te kies – ’n toekoms gebaseer op die Veelpartyhandves se visie van ’n nuwe regering om ’n regverdige, inklusiewe en welvarende Suid-Afrika te bou gebaseer op geleenthede, vryheid en veiligheid vir al sy burgers.”
Die partye sê die 2024-verkiesing is in die hande van die mense, eerder as in die hande van politici. “2024 is die een keer wat gewone Suid-Afrikaners die verandering vreedsaam by die stembus kan bring wat hulle wil sien. Maar hulle kan daardie verandering bring net as hulle geregistreer is om te stem.”
Al die groot partye was die afgelope naweek sigbaar teenwoordig by die meeste groot stemlokale om kiesers aan te moedig om te registreer.
ActionSA members in the Amathole Region (Butterworth) are ensuring that residents #RegisterToFixSA on the last day of the Registration Weekend. pic.twitter.com/AW5YVvZBwU
— ActionSA Eastern Cape (@ActionSAEC) February 4, 2024
Die DA maak daarop aanspraak dat hulle vir die eerste keer beter as die ANC presteer het in nuwe kiesersregistrasies en herregistrasies.
Die party sê in ’n verklaring die mees onlangse registrasiedata beklemtoon die DA se sukses om die grootste deel van nuwe en herregistrasies te verseker.
“Tussen 23 November verlede jaar en 5 Januarie het die OVK 162 598 nuwe en herregistrasies aangeteken. 59 689 hiervan was vir die DA, of byna 37%. Slegs 33,8% was vir die ANC. Hierdie sukses wys wat hierdie naweek en op verkiesingsdag moontlik is.”
Volgens die Departement van Binnelandse Sake het meer as 33 500 mense gebruik gemaak het van sy verlengde ure oor die registrasienaweek. Oor die tydperk van twee dae het meer as 23 000 mense hul identiteitsdokumente afgehaal.
Met meer as 350 geregistreerde politieke partye en talle onafhanklike kandidate om vanjaar uit te kies, sal stemgeregtigde Suid-Afrikaners ’n groter keuse as ooit tevore hê wanneer hulle vanjaar gaan stem.
"We are seeing growth of the movement"
WATCH: RISE Mzansi NLC member Irfaan Mangera giving wrapping up our voter registration weekend in KwaZulu-Natal. #RegisterToVoteRISEMzansi#2024isour1994 #RISEMzansi#ForThePeopleByThePeople#SAelections24 pic.twitter.com/tx1IORjsAw
— RISE Mzansi (@Rise_Mzansi) February 4, 2024
In KwaZulu-Natal het die wedloop vir stemme skerp toegeneem na die aankondiging dat Jacob Zuma die uMkhonto weSizwe- (MK-) party gaan steun en vir die eerste keer in sy lewe nie vir die ANC nie. Dit het aanleiding gegee tot sy skorsing uit die party waaraan hy 60 jaar lank behoort het
Die IVP-president, Velenkosini Hlabisa, het kiesersregistrasiesentrums in Ndwedwe, noord van Durban, besoek, terwyl die DA-leier, John Steenhuisen, wat sommige kiesersregistrasiestasies in die Howick-distrik besoek het, die registrasienaweek as bemoedigend beskryf.
Cyril Ramaphosa, wat ook die afgelope naweek registrasiesentrums bygewoon het, het die woelinge in sy party onderspeel en ontken dat wegbreekleiers soos Ace Magashule en Jacob Zuma se nuwe politieke partye ’n bedreiging vir die ANC inhou.
Volgens mediaberigte die afgelope naweek is daar wel heelwat kiesers wat in dié stadium aangedui het dat hulle vir verandering wil stem, terwyl ander skynbaar tevrede is om weer vir die regerende party te stem.
Kiesers moet vanjaar vir die eerste keer hul stem uitbring by die presiese stemlokaal waar hulle geregistreer is. Dit beteken daar is geen opsie om op verkiesingsdag by ’n ander lokaal te stem nie.