Duisende onderwysers gereed om teen COVID-19 geënt te word

  • 0

Duisende onderwysers in Suid-Afrika het hulle die afgelope week teen COVID-19 laat inent terwyl die derde vlaag van die pandemie besig is om oor die land te spoel.

Volgens ’n verklaring deur die Departement van Basiese Onderwys is byna 50 000 onderwysers en personeellede in die basiese-onderwys-sektor Woensdag ingeënt op die eerste dag waarop hulle dit kon doen.

Die departement hoop om onderwysers landwyd binne twee weke klaar in te ent en het die versekering gegee dat daar genoeg entsstowwe bekom is om dit te doen.

Die meer as 48 000 onderwysers en personeel wat Woensdag ingeënt is, sluit nie die Wes-Kaap en Limpopo in wat eers Donderdag met hulle volskaalse inentings vir onderwysers begin het nie.

Leiers van onderwysersunies het hulle ook Donderdag in Atteridgeville laat ent.

Die Wes-Kaap se minister van onderwys, Debbie Schäfer, het in ’n afsonderlike verklaring gesê sy doen ’n beroep op alle onderwysers en personeel in die provinsie wat kwalifiseer om hulle te laat ent sodat skole so gou as moontlik na normaal kan terugkeer.

“Hoewel die entstof nie die personeel van COVID-19 kan vrywaar nie en al die veiligheidsprotokolle steeds gehandhaaf moet word, sal dit hulle teen ernstige siekte help beskerm,” het Schäfer gesê. Sy sê daar is reeds soveel mense as gevolg van die pandemie dood dat alles moontlik gedoen moet word om onderwysers en skole veilig te hou.

Die eerste 50 onderwysers in die Wes-Kaap is ook Woensdag ingeënt. Die provinsie het egter eers Donderdag in alle erns begin om onderwysers en personeel te laat ent. Volgens Schäfer het sowat 75% onderwysers in die Wes-Kaap reeds ingestem om geënt te word.

Sowat 1 000 onderwysers sal elke dag in Pinelands geënt word, terwyl daar tot soveel as 1 400 per dag by die Tygerberg-hospitaal geënt kan word. ’n Verdere 27 persele is regoor die provinsie geïdentifiseer waar onderwysers hulle kan laat ent. Die veldtog om onderwysers te ent sal op 8 Julie ten einde loop.

In Limpopo sal onderwysers en personeel die volgende twee naweke op Vrydae en Saterdae geleentheid gebied word om hulle te laat ent.

Die res van die provinsies het almal Woensdag begin om onderwysers en personeel in te ent.

Die Departement van Basiese Onderwys sê in hulle verklaring fopnuus het daartoe bygedra dat daar in sommige provinsies ’n toestroming van onderwysers was wat hulle op die eerste dag wou laat ent. Volgens ’n vals boodskap op ’n WhatsApp-groep beskik die departement nie oor genoeg entstof nie. Dit het veroorsaak dat daar veral in die Oos-Kaap, Noordwes en Vrystaat ’n stormloop by sommige van die plekke was waar die inentings plaasvind.

Die departement het onderwysers verseker hulle beskik wel oor genoeg entstof vir al die personeel en dat alle onderwysers en personeel binne 14 dae geënt sal kan word.

Intussen het die DA in ’n verklaring ’n beroep op die regering gedoen om dringend fondse beskikbaar te stel sodat gesondheidspersoneel oortyd betaal kan word om mense ook oor naweke te ent. Die DA sê dit is eenvoudig nie waar dat daar nie geld hiervoor beskikbaar is nie.

Die party se skaduminister van gesondheid, Geordin Hill-Lewis, sê elke dag wat verspeel word om mense in te ent is ’n verlore dag wat kon gehelp het om ’n lewe te red.

Hill-Lewis sê die nasionale tesourie het in Februarie R6 miljard in die begroting bewillig om die inentingsprogram te finansier. Dit sluit R1,5 miljard in wat vir provinsiale departemente geoormerk is en R4,35 miljard vir die nasionale departement. ’n Verdere R9 miljard is as reserwe begroot met die versekering dat dit gebruik kan word om inentings te finansier indien nodig.

Hill-Lewis sê dit is nou die tyd om toe te sien dat hierdie geld wat begroot is, aan provinsies beskikbaar gestel word om die inentings te versnel.

Luister hier na ’n klanksnit van die DA se verteenwoordiger.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top