Duisende onopgeëiste lyke lê die land vol

  • 0

Duisende onopgeëiste lyke lê in staatslykhuise regoor die land, sommige daarvan glo van so ver terug as 2017.

Boonop is daar ’n tekort aan spasie om die liggame te stoor, met sommige wat in die yskaste gelaat word om te ontbind omdat daar nie plek in die vrieskaste is nie.

Die adjunkminister van gesondheid, Sibongiseni Dhlomo, sê daar is meer as 4 000 onopgeëiste lyke regoor die land. Sowat 1 500 lyke is nog onopgeëis in die KwaZulu-Natalse staatslykhuise, terwyl daar in Gauteng meer as 1 000 sulke lyke is.

Dhlomo het bevestig dat daar ’n beleid is wat sê dat ’n liggaam nie langer as 30 dae in ’n lykshuis moet bly nie. Hy sê die regering het egter nie grond om armlastiges se begrafnisse te hou nie.

Die Gautengse Departement van Gesondheid sê hulle moedig gesinne en familielede aan om die oorskot van hul geliefdes te identifiseer en weg te neem. Volgens inligting wat die DA ontvang het, blyk dit egter dat ’n afpersingskartel in en om Johannesburg bedrywig is waar familielede gedwing word om vir die liggame van hul geliefdes te betaal.

Van dié liggame is van slagoffers wat tragies gesterf het in die verskriklike brand wat in Albertstraat in Marshalltown plaasgevind het. Altesaam 77 volwassenes en kinders het hul lewens in daardie brand verloor.

Die DA het in ’n verklaring ’n beroep gedoen op die minister van gesondheid, Joe Phaahla, en die minister van elektrisiteit, Kgosientso Ramakgopa, om dringend aandag te gee aan die ramp wat fase 6-beurtkrag in die staatslykhuise kan veroorsaak en om hulle van noodopwekkers en diesel te voorsien om die yskaste koud te hou.

Die provinsiale Departemente van Gesondheid is gevra om die identifisering van liggame te bespoedig om ruimte in hul oorvol lykshuise beskikbaar te stel.

Al die oorskot van die slagoffers van die Marshalltown-brand is na die Diepkloof-lykshuis geneem, waar familielede vermoedelik ’n fooi van R700 sou betaal vir die lykskouing en verkryging van die liggaam. Dit gebeur ten spyte daarvan dat hierdie dienste gratis uitgevoer word deur die forensiese patologiedienste wat aan alle staatslykhuise verbonde is.

Boonop word gesinne van bakboord na stuurboord gestuur omdat die verwagte gebruik van biometriese en DNS-identifikasiestelsels blykbaar tot stilstand gekom het. Slegs 30 liggame is positief geïdentifiseer en 44 moet nog geïdentifiseer word, volgens die Gautengse Departement van Gesondheid. Daar is 74 name aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se slagofferidentifikasiesentrum voorgelê, maar die kwessie van ongedokumenteerde persone met geen bekende familielede in Johannesburg nie maak steeds die identifikasie van die oorskot van ander slagoffers uiters uitdagend, sê die DA se adjunkskaduminister van gesondheid, Madeleine Hicklin.

“Die aantal lyke wat in staatslykhuise onopgeëis bly, hou ’n yslike oortreding van die gesondheidsregulasies in, en soos ons nader aan die somermaande beweeg, sal hierdie verskynsel aansienlike gesondheidsrisiko's inhou, aangesien fase 6-beurtkrag onverpoosd voortgaan. Baie min van die lykshuise landwyd het kragopwekkers, en dit sal veroorsaak dat liggame vinnig ontbind, wat selfs verdere uitdagings vir die oorlaaide staatslykhuise veroorsaak,” het Hicklin gesê.

Dit is algemene praktyk dat indien ’n liggaam nie binne sewe dae opgeëis word nie, die Departement van Gesondheid vingerafdrukke van die SAPD se kriminele-rekords-afdeling aanvra en aan die Departement van Binnelandse Sake stuur in ’n poging om die liggame te identifiseer. Daarna kan ’n armlastige begrafnis gereël word.

Die DA sê dit blyk nie hier die geval te wees nie.

“Die ministers van gesondheid en elektrisiteit moet hierdie krisis-in-wording aanspreek. Hierdie verskriklike toedrag van sake verhoog die trauma en hartseer van familielede wat oor hulle geliefdes rou,” sê die party.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top