Grondbesetters het Maandag voortgegaan om grond in en om Bloemfontein te beset ondanks ’n hofbevel wat dit verbied.
Die burgemeester van die omstrede Mangaung-metro, Gregory Nthatisi, het gesê ’n groep plakkershutte wat by Brandkop 702 en Uitbreiding 148 naby Pellissier in Bloemfontein opgerig is, sal vir eers bly staan terwyl die munisipaliteit probeer om ’n blywende oplossing te vind.
Nthatisi sê hy het begrip vir die plakkers en hulle het toegang tot grond nodig, maar die onwettige grondgrype sal nie geduld word nie. “Ons wag vir regsadvies en dit sal die volgende stappe bepaal wat die stad doen om die verspreiding van hierdie invalle stop te sit," het Nthatisi gesê.
Hy het gesê die stad se Direktoraat Menslike Nedersettings werk nou saam met die SAPD om mense te keer om strukture op te rig.
He said the city's Human Settlements directorate is working closely with the SAPS to stop people from erecting structures. pic.twitter.com/H1j9nWMHc0
— Mangaung Metro Official (@CityofMangaung_) March 4, 2024
Inwoners in nabygeleë buurte waar die plakkers toegesak het, se gemoedere het die naweek hoog geloop terwyl van die grondbesetters onverpoosd voortgegaan het om onwettige strukture op te rig.
Meanwhile in Bloemfontein across from Lourierpark and Casino near Pellisier.
People are occupying the prime land near the Suburbs.
Ace Magasule has encouraged these people to take this land by force.
It is election time. pic.twitter.com/piUxDNqQmd
— Sir Cabonena Alfred (@alfred_cabonena) March 2, 2024
Die Mangaung Belastingbetalervereniging het op Facebook gesê die besetting is reeds aansienlik aan die Pellisier-kant van die pad, terwyl sekondêre plakkershutte besig is om ook aan die Lourier-kant van die pad oral soos paddastoele op te skiet.
“Van ons lede was vanmiddag daar en dit was duidelik dat die besetting goed georganiseerd was, omdat bevele op draagbare luidsprekers weerklink het. Lugfoto’s het ook getoon dat erwe duidelik uitgemerk was vir die besetters. Alhoewel polisievoertuie opgemerk is, het die polisie bloot in hul voertuie gesit en eet, en geen optrede het plaasgevind nie. Ongelukkig word die regsproses aansienlik bemoeilik en duurder, namate al hoe meer huisies opgerig word en permanent raak. Dit terwyl die manne in blou blykbaar op ’n saaknommer wag,” lui een van die inskrywings op die Belastingbetalersvereniging se blad.
Die besetting so naby die Lourierpark- en Pellisier-woonbuurte hou volgens inwoners ernstige veiligheidsrisiko’s vir die woonbuurte in. Die waarde van die eiendomme kan ook negatief beïnvloed word. ’n Spoedige oplossing vir hierdie situasie word volgens die inwoners vereis.
Netwerk24 berig van die inwoners en boere se gemoedere het so opgevlam die naweek dat hulle Sondag gedreig het om met ’n oorlog te begin as daar nie opgetree word teen die sowat 3 000 besetters wat sedert Saterdagoggend op die gebied toegesak het nie.
Max Blom van Mangaung se Belastingbetalersvereniging het op Facebook gesê hoewel die metro ’n voorlopige hofbevel teen die plakkers gekry het, beteken dit nie veel nie. Die metro moet nou eers ’n verifikasieproses doen wat name en identiteitnommers insluit, en vasstel of die plakkers werkloos is.
Die Grondbesettingswet bepaal dat indien die “shack” reeds opgerig is, dit nie summier verwyder kan word sonder die nodige prosedure nie. Daar word gevrees dat die metro doelbewus besig is om voete te sleep op die vooraand van die naderende verkiesing en so min as moontlik van die plakkers wil ontstel. Daarom het die burgemeester reeds verklaar dat indien ’n erf afgemerk is, daar geen optrede teen die besetter sal wees nie.
Daar word gesê die metro se voeteslepery is slegs ’n vertragingsmeganisme om permanensie aan die grondbesetting te gee.
Blom sê inwoners van Lourierpark is uiters ontsteld en Pellisier het ook verskerpte veiligheidsmaatreëls ingestel. Inwoners dreig ook met verdere stappe omdat hul veiligheid nou bedreig word.
Die Belastingbetalersvereniging beskuldig die metro van ’n gebrek aan aksie soos wat ook die geval is met instandhouding oral in die stad. Hulle sê dit het nou ook deurgesypel na hul gebrekkige aksie ten opsigte van grondbesetting.
“Getroue belastingbetalers se posisie word ondergeskik beskou aan die status van plakkers. Die besetting kan regstegnies reeds as permanent beskou word, wat die probleem vir die metro en inwoners vergroot.”
Blom sê eiendomswaardes in Lourierpark en Pellisier gaan oornag val. “Misdaad het reeds ’n monster in Bloemfontein geraak en nou moet onskuldige inwoners verder gekonfronteer word met ’n plakkerskamp op hul voorstoep. Verder moet die metro vinnig begin om water en krag aan die plakkers te voorsien. Die probleem van riolering kan lei tot die uitbreek van siektes in die gebied.”
Inwoners vrees dat die metro se hantering van hierdie krisis Bloemfontein se status as woon- en beleggingsbestemming verder kan ruïneer.