Duisende soldate sal oor die naweek in die onlusgeteisterde gebiede in KwaZulu-Natal en Gauteng ontplooi word om die orde te herstel na die afgelope week se plundertogte in die provinsies.
Die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het Woensdagaand aan lede van die parlement gesê sy het gevra dat 25 000 lede van die weermag in die provinsies ontplooi word.
Sy het teenoor die parlementêre staande komitee oor verdediging erken die veiligheidsmagte is onkant betrap deur die grootskaalse onluste wat uitgebreek het toe vandale talle winkelsentrums in KwaZulu-Natal en Gauteng bestorm en rot en kaal geplunder het.
Opposisieleiers in die parlement het ook met president Cyril Ramaphosa vergader om die situasie te bespreek. Hulle het die ontplooiing van die bykomende soldate verwelkom, asook die besluit om die weermag se reserwemag op te roep vir diens.
SA Army Media Release | Urgent | Immediate reporting to Units: The South African Army Reserve Members.#SANDF#SAArmy#SANDFProtectSA#ProtectSouthAfrica pic.twitter.com/xe34JlvVZA
— SA National Defence Force (@SANDF_ZA) July 14, 2021
Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus sê die vergadering tussen Ramaphosa en politieke leiers van Suid-Afrika was konstruktief en die President het onderneem om die voorstelle wat gemaak is, ter harte te neem en waar moontlik toe te pas.
Groenewald sê in ’n verklaring om die orde te herstel moet veel meer soldate ontplooi word om die polisie te help. Hy sê daar moet gefokus word op hoofroetes waar brandstof, kos en medisyne vervoer word en hierdie roetes moet swaar bewaak en gepatrolleer word.
Die regering het Donderdag gesê regulasies sal binnekort in die Staatskoerant gepubliseer word wat die verkoop van brandstof in houers verbied. Die brandstofvoorraad by vulstasies is onder druk omdat geen aflewerings kan plaasvind nie. Produksie by die land se grootste raffinadery in Durban is ook tydelik opgeskort. Volgens die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe, werk die regering aan ’n plan om die veilige vervoer van petroleumprodukte moontlik te maak.
Groenewald sê sy voorstel was dat daar selfs weer 75 000 soldate ontplooi word, soos in ’n stadium verlede jaar om die inperkingsregulasies af te dwing. Die 2 500 wat tot nou toe ontplooi is, is veels te min.
"Die huidige Rampbestuurswet en die heersende aandklokreël van 21:00 tot 04:00 gee die President reeds genoeg mag en bevoegdheid om sterk op te tree en indien die soldate ontplooi word ingevolge artikel 201 van die Grondwet, is dit onnodig om ’n nasionale noodtoestand te verklaar.”
In KwaZulu-Natal, waar die polisie nie behoorlik van toerusting voorsien is nie, moes private organisasies help om die polisie van ammunisie te voorsien.
Groenewald sê die onrus is niks anders as sabotasie en ekonomiese terrorisme nie en daar moet vinnig opgetree word om totale anargie af te wend.
"Een van die groot bydraende faktore vir die onrus en misdadigheid is ’n nuwe virus in Suid-Afrika wat straffeloosheid genoem word.”
Gemeenskappe in Durban sê hulle sal voortgaan om hul woongebiede teen plunderaars te beskerm. Gemeenskapspolisiëringsforums in verskillende gebiede sê hulle sal eers veilig voel wanneer die weermaglede sigbaar is.
Intussen het Suid-Afrikaners oral op sosiale media vrywillig hulp aangebied om te help met opruiming in die gebiede wat geplunder is. Daar is verskeie veldtogte op sosiale media waarin mense aangemoedig word om met skoonmaakwerk te help
Die leier van Action SA, Herman Mashaba, was een van dié wat skouer aan die wiel gesit het om met die opruimingsproses te help. Mashaba het op Twitter gesê hy doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om aan te sluit by die opruimaksies in KZN en Gauteng met ’n foto van homself en ’n besem in hand aan die werk om te help opruim.
We are calling on all ActionSA members, volunteers and supporters to please join clean-up efforts across KZN and Gauteng.
It's time to #CleanupSA 🇿🇦 pic.twitter.com/O73YMBmcee
— ActionSA (@Action4SA) July 15, 2021
Die hutsmerke #RebuildSA en #CleanUpSA was Donderdag baie gewild op Twitter en talle mense het foto’s en video’s geplaas van waar hulle besig is met opruimingswerk.
Let us spread also the positive news coming from #KZN. #RebuildSA #CleanUpSA pic.twitter.com/iGPeKIGVO9
— Hassan Abdullahi Aalim (@Hamaalin) July 14, 2021
Die SABC berig dat inwoners van Soweto wat die Jabulani-winkelsentrum wou opruim, ontstoke was omdat hulle nie toegelaat is om dit te doen nie. Die sentrum word glo as ’n misdaadtoneel beskou weens die plundertogte. Sowat 200 vrywilligers het opgedaag om opruimingswerk te doen, maar moes onverrigter sake omdraai.