Duisende sterf weens nalatigheid in Gautengse hospitale

  • 0

Foto: Pixabay.com

Byna 4 000 mense het verlede jaar in Gauteng se provinsiale hospitale gesterf as gevolg van mediese nalatigheid wat voorkom kon word.

Dié skokkende syfers is in die Gautengse wetgewer bekendgemaak in antwoord op ’n skriftelike vraag van Jack Bloom, ’n DA-lid van die wetgewer. Hy sê die sterftes kon verhoed gewees het. Bloom het op Twitter bekendgemaak dat altesaam 3 832 pasiënte verlede jaar in Gautengse hospitale dood is en dat daar meer as 10 000 gevalle van ernstige terugslae weens growwe mediese nalatigheid was. Die inligting is deur Gauteng se LUR vir gesondheid, Bandile Masuku in die wetgewer bekendgemaak in reaksie op Bloom se vraag.

Volgens Masuku is die pasiënte dood as gevolg van 10 741 gevalle van ernstige nalatigheid. 

“’n Geval van SAE of ernstige teenspoed word beskryf as voorvalle waar onbedoelde skade aan ’n pasiënt berokken word weens iets wat gedoen is, of nie vir ’n pasiënt gedoen is nie, eerder as weens ’n siekte of ’n onderliggende mediese toestand van ’n pasiënt,” het Bloom gesê.

Die meeste van die sterfgevalle het by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal voorgekom waar daar verlede jaar 1 763 pasiënte weens nalatigheid dood is.

By die Steve Biko-hospitaal is 893 mense as gevolg van nalatigheid dood, George Mukhari-hospitaal 766, Charlotte Maxeke Johannesburg-hospitaal 722, Helen Joseph-hospitaal 644, Thelle Mogoerane-hospitaal 625, Tembisa-hospitaal 517, Sebokeng-hospitaal 511, Weskoppies-hospitaal 504, Kopanong-hospitaal 415, Bertha Gxowa-hospitaal 409, Tambo Memorial-hospitaal 393, Rahima Moosa-hospitaal 385, Kalafong-hospitaal 345 en by die Leratong-hospitaal 323.

Bloom sê hy is veral bekommerd oor die 2 307 aangetekende sterftes van pasgebore babas en 238 moedersterftes.

Daar was ook 866 septiese keisersnitte en meer as 1 000 voorvalle van breinskade wat by kinders veroorsaak is weens ’n tekort aan suurstof of hipoksiese iskemiese enkefalopatie.

Bloom sê al hierdie faktore het ’n direkte uitwerking op die gemiddelde tyd hoe lank ’n pasiënt gehospitaliseer moet word. Dit jaag die koste van behandeling verder op en kan ook tot verdere liggaamlike skending lei.

Ten spyte van die talle voorvalle wat aangemeld is, was daar slegs 77 gevalle wat verwys is vir dissiplinêre optrede. Bloom sê dit is uiters onrusbarend dat daar so min tugoptrede ingestel word teen die skuldiges.

Hy sê dit beklemtoon die ernstige bestuursprobleme by staatshospitale en die gebrek aan optrede teen diegene wat hulle skuldig maak aan mediese nalatigheid. Dit lei ook tot hofsake en skadevergoedingseise wat die departement van gesondheid onder verdere finansiële druk plaas.

Bloom sê die toedrag van sake is ’n verdere bewys dat die regering se voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) tot mislukking gedoem is omdat dit administratiefgewys baie ingewikkeld is.

Die gemiddelde wagtyd vir ’n pasiënt by die Steve Biko Akademie by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal is ongeveer vyf uur.

  • Bron: IOL
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top