Duisende stroom na Senekal uit protes teen plaasmoorde

  • 0

Duisende Suid-Afrikaners van uiteenlopende agtergronde en politieke oortuigings het Dinsdag na Senekal in die Vrystaat opgeruk om protes aan te teken teen plaasmoorde. Dit volg na die wreedaardige moord verlede Vrydag op die 21-jarige Brendin Horner wat as plaasbestuurder op die plaas De Rots naby Paul Roux gewerk het.

Chaos het buite die hof uitgebreek waar twee verdagtes vlugtig verskyn het in verband met Horner se moord. Van die betogers het die gebou bestorm en geëis dat die twee verdagtes, Sekwetje Mahlamba en Sekola Matlaletsa, aan hulle oorgegee word. ’n Polisievoertuig is ook deur van die betogers beskadig en aan die brand gesteek.

Horner is Vrydag deur die polisie dood aangetref waar hy vasgebind was aan ’n plaashek. Hy is vermoedelik voor sy dood gemartel. Die twee verdagtes is Saterdag in hegtenis geneem. Hulle moet weer op 16 Oktober in die hof verskyn wanneer hulle vermoedelik om borgtog sal aansoek doen. ’n Aantal boere en lede van die gemeenskap het Dinsdag by die hof saamgetrek met plakkate wat lui “Genoeg is genoeg” en dat boere se lewens ook saak maak.

Brendin se jonger broer, Basjan, het in ’n Facebook-opname wat buite die hof gemaak is, gesê woorde kan nie hul gevoel beskryf nie. “Dis hartseer en dis rou. Niks gaan my broer terugbring nie, maar ek hoop dat hy vir sy land gesterf het, vir sy medeboere, sy medeplaasbestuurders en vir ’n beter Suid-Afrika vorentoe.”

Op sosiale platforms soos Twitter het dit behoorlik gegons met die hutsmerke #Senekal en #BrendinHorner. Mense van alle rasse het hulle weersin uitgespreek teen plaasmoorde en geweld in die algemeen.

Die sakevrou en voormalige lid van die Vryemarkstigting en die Instituut vir Rasseverhoudings, Unathi Kwaza, het op Twitter gesê die hartseer ding van die gebeure in Senekal is dat daar nog meer boere vermoor gaan word omdat president Cyril Ramaphosa en die minister van polisie, Bheki Cele, nie dink daar is ’n krisis ten opsigte van plaasmoorde in die land nie.

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê hulle beskou plaasmoorde as ’n vorm van plaasterreur. “In die geval van die moord op #BrendinHorner en die wreedheid wat daarmee gepaard gegaan het, is dit baie duidelik dat plaasmoorde nie ’n gewone misdaad is nie.” AfriForum het die publiek genooi om ’n aanlyn petisie te onderteken om die regering tot verantwoording te roep.

Die nasionale polisiekommissaris, Khehla Sitole, het die polisiediens intussen opnuut daartoe verbind om prioriteit te gee aan misdaadbekamping in landelike gebiede. Sitole en senior bestuurslede van Agri SA, TLU SA en AfrifForum het in Pretoria samesprekings gevoer oor verskeie aspekte van landelike veiligheid, waarna ’n gesamentlike verklaring uitgereik is.

Sitole het ook die polisie se regrukvisie vir landelike ontwikkeling bevestig wat sal fokus op die bestryding van plaasaanvalle en veediefstal, asook die inwerkingstelling van ’n landelikeveiligheidsplan. Tydens die vergadering is bevestig dat plaaslike en nasionale landelikeveiligheidsentrums op die been gebring sal word en dat ’n reservistestelsel ingestel sal word wat gemeenskappe by polisiëring betrek.

Die Vrystaatse Landbou-unie sê in ’n verklaring op hulle webwerf  die jare lange versuim en bykanse weiering om die broodnodige rol wat die landbousektor in sy geheel vir die land speel te erken is die oorsaak en gevolg van die sinlose moord op Horner wat brutaal in die fleur van sy lewe vermoor is.

Vrystaat Landbou (VL) sê die moord op Horner is aanduidend van die kultuur wat oor verskeie jare posgevat het, asook die versuim om hierdie vergrype te veroordeel en effektief vas te vat, en spreek hom ten sterkste daarteen uit. 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top