Duisende Suid-Afrikaners in die buiteland stem op 17 en 18 Mei

  • 0

Duisende stemgeregtigde Suid-Afrikaners in die buiteland, van wie die meeste in Brittanje en Nederland is, sal op 17 en 18 Mei kan stem in vanjaar se verkiesing wat hier op 29 Mei plaasvind.

Daar is byna 80 000 stemgeregtigde Suid-Afrikaners in die buiteland wat vandeesmaand hulle kruisies mag trek om ’n nuwe regering in Suid-Afrika te kies.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die finale reëlings bekendgemaak vir die 78 092 Suid-Afrikaners in die buiteland wat mag stem.

Die stemmery vir kiesers in die buiteland wat kwalifiseer om te stem, sal in 111 buitelandse sendings plaasvind. Die stemmery sal in nege lande op Vrydag 17 Mei plaasvind en in die res van die lande op Saterdag 18 Mei. Stemlokale sal oop wees van 07:00 en die stemtye vir die 2024 nasionale verkiesing is verleng na 21:00, pleks van die aanvanklike 19:00 wat in die meeste land sou gegeld het.

Die grootste internasionale stemlokale volgens stembevolking is Londen (24 535 stemgeregtigde kiesers), Den Haag (6 659), Canberra (3 674), Dubai (3 266), Dublin (3 040), Wellington (2 292), Abu Dhabi (1 825), New York (1 799), Washington DC (1 799) en Berlyn (1 478).

Ten opsigte van die sending in die Verenigde Koninkryk het die OVK twee dae van spesiale stemming bepaal, nl Saterdag 18 en Sondag 19 Mei 2024 van 07:00 tot 21:00. Die addisionele spesiale stemdag en verlengde stemure is bedoel om behoorlike reëlings moontlik te maak vir die 24 535 kiesers wat geregtig is om by die sending te stem.

Algiers, Amman, Kaïro, Damaskus, Koeweitstad, Jeddah, Ramallah, Rijadh en Teheran sal op Vrydag 17 Mei 2024 stem.

Die OVK sê daar is in samewerking met die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) begin met die proses om stemmateriaal, insluitend stemlokale, stembusse, stembriewe, skryfbehoeftespakke en die relevante lyste van goedgekeurde kiesers na die 111 Suid-Afrikaanse sending regoor die wêreld te stuur waar daar gestem sal word.

Op die spesiale stemdae sal kiesers persoonlik moet aanmeld by ’n sending waar hulle geregistreer is, of waar hulle suksesvol aansoek gedoen het vir ’n spesiale stem.

Kiesers wat gaan stem, moet hulle identiteitsdokument, slimkaart of tydelike identiteitsertifikaat aan die verkiesingsbeampte toon om te kan stem.

Die linkerduimnael van die kieser sal met onuitwisbare ink gemerk word om aan te dui dat hulle gestem het.

Die naam van die kieser word afgemerk op die lys van kiesers om aan te dui dat hy of sy aan die verkiesing deelgeneem het.

Kiesers sal, soos altyd, hulle stem in die geheim uitbring nadat die stembrief aan hulle oorhandig is, waarna hulle dit in ’n ongemerkte koevert plaas en dit verseël.

Die ongemerkte koevert word in ’n ander koevert geplaas wat gemerk is met die naam, ID-nommer en die naam van die sending waar die stem uitgebring is. Die gebruik van twee koeverte is om die geheimhouding van die stembrief te verseker deur die kieser en die stembrief te ontkoppel.

Verkiesingsbeamptes neem dan die koevert en plaas dit in ’n veilige stembus vir spesiale stemme.

Na die stemproses sal al die stembriewe deur ’n veilige kanaal terug vervoer word na die nasionale kantoor van die verkiesingskommissie in Suid-Afrika, waar die stemme getel sal word in die teenwoordigheid van agente wat die deelnemende partye verteenwoordig.

Die OVK sê hulle is bewus daarvan dat daar om veiligheidsredes nie in sommige lande gestem kan word nie. Dirco het bevestig dat die missies in Soedan, Tel Aviv en Kiëf gesluit bly. Kiesers wat by hierdie twee missies geregistreer is, sal nie in die verkiesings kan stem as hulle nie teen 22 April reëlings kon tref om by ’n ander sending te stem nie.

  • ’n Lys van Suid-Afrikaanse missies in die buiteland waar daar gestem sal word, kan hier gevind word.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top