Duisende Suid-Afrikaners maak beswaar teen sogenaamde ontwapening

  • 0

Duisende Suid-Afrikaners het reeds ’n petisie onderteken om te probeer keer dat hulle deur die regering ontwapen word ingevolge die nuwe wysigingswetsontwerp op vuurwapenbeheer.

Twee politieke partye, die DA en die Vryheidsfront Plus, het hulle ten sterkste uitgelaat teen die voorgenome wetswysiging en Suid-Afrikaners aangemoedig om hulle daarteen uit te spreek nadat dit verlede maand bekend geword het.

Indien die wetsontwerp goedgekeur word, sal dit vuurwapenlisensies vir selfverdedigingsdoeleindes verbied. Dit beperk ook die aantal vuurwapens wat ’n persoon vir sport en jag mag besit.

Byna 60 000 mense het teen Dinsdag 1 Julie reeds die DA se petisie teen die voorgestelde wetswysiging onderteken. Die DA sê in ’n verklaring hy is sterk teen die wetsontwerp gekant. Die DA se woordvoerder oor polisie, Andrew Whitfield, sê ’n wettige handwapen is die laaste verdedigingslinie vir miljoene Suid-Afrikaners. Hy sê in ’n gewelddadige samelewing soos Suid-Afrika is dié beplande wetgewing heeltemal irrasioneel en onredelik en is dit daarop gemik om wetsgehoorsame Suid-Afrikaners te ontwapen.

Volgens Whitfield is die DA se petisie besig om aansienlike momentum op te bou. Hy sê dit is ’n roekelose stap aan die regering se kant en laat wetsgehoorsame burgers met hulle hande agter die rug vasgemaak wanneer hulle kriminele in die gesig moet staar.

Die polisie se begroting vir sigbare polisiëring is onlangs met byna R4 miljard besnoei, terwyl die beskerming van ministers en ander BBP’s se begroting met R26 miljoen vergroot is. Volgens Whitfield is dit ’n klinkklare bewys dat die ANC nie omgee vir die veiligheid van gewone Suid-Afrikaners nie.

Hy sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens is tans meer as ooit in ’n staat van algehele wanorde, soos wat onder andere blyk uit die chaotiese toestand van die vuurwapenregistrasie-aansoeke en die berging van DNS-bewysstukke.

Die VF Plus se provinsiale leier in Mpumalanga, Werner Weber, sê die jongste plaasaanval in Mpumalanga beklemtoon die noodsaak om ’n vuurwapen te besit vir selfbeskerming asook vir meer effektiewe landelike beveiliging.

Dionne van Rensburg is verlede Donderdag op sy kleinhoewe naby Naauwpoort buite Witbank aangeval. Vier persone het hom oorval, gemartel en gewurg terwyl hulle op geld aangedring het.

Die verdagtes het uiteindelik met goedere ter waarde van sowat R200 000 gevlug. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Weber sê in ’n verklaring die voorgestelde wysigingswetsontwerp is nie net onlogies nie, maar sal tot meer plaasaanvalle en moorde op weerlose burgers lei.

“Indien die staat jou nie kan beskerm nie, het jy die volste reg om jou en jou gesin met alle moontlike middels te beskerm, insluitend die besit van ’n vuurwapen ter selfverdediging.”

Die VF Plus sê die party veroordeel alle moord en geweld in Suid-Afrika, maar veral geweld op die landbougemeenskap vanweë die weerloosheid van die landelike gemeenskap. Landelike gemeenskappe is afgeleë en moet met tye vir etlike ure vir hulp vanuit stedelike gebiede wag.

“Die VF Plus het nog altyd erns gemaak met plaasaanvalle en beywer hom daarvoor om volgehoue druk op die regering te plaas om plaasaanvalle en -moorde tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar.”

Intussen het die VF Plus ook geëis dat Gauteng se LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, en die Gautengse polisiekommissaris, luitenant-generaal Elias Mawela, dringend optree om die huidige vlaag van misdaad op Gautengse snelweë hok te slaan.

Voorvalle waar petrolbomme na motoriste geslinger word en skerp voorwerpe in die pad geplaas word om voertuie tot stilstand te dwing, vind gereeld in Gauteng plaas en is aan die toeneem.

In die jongste voorval het ’n groep betogers verlede Donderdag en Vrydagoggend langs die R59-snelweg buite Alberton in lang gras weggekruip en vragmotors en motors met petrolbomme en klippe bestook.

Twee vragmotors is getref, wat ’n botsing met twee motors veroorsaak het. Verskeie ander motors is ook deur petrolbomme getref. Betogers het ook die pad met brandende bande, bloekombome en stukke beton versper.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top