Byna 4 000 ton polonie en kouevleisprodukte is reeds deur Tiger Brands van die mark onttrek sedert die dodelike uitbreek van listeriose in Suid-Afrika.
Die land ervaar tans die grootste uitbraak van listeriose in die wêreld. Meer as 180 mense is al dood as gevolg daarvan.
Die Johannesburgse regsfirma LHL-prokureurs het die afgelope week die eerste klasaksie-eis (groepsgeding) by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien. LHL sê in ’n verklaring hulle eis R500 miljoen skadevergoeding vir besering en verlies in verband met die “tragiese listeriose-uitbreking wat na bewering voorkom kon word”.
Hulle sê hulle tree op namens almal wat beserings as gevolg van listeriose opgedoen het, of namens hul geliefdes.
Tiger Brands sê op hulle webwerf se tuisblad voedselveiligheid geniet die hoogste voorkeur en dat hulle al hul verwerkte kouevleisprodukte van die mark onttrek as ’n veiligheidsmaatreël.
Verbruikers word op Tiger Brands se webwerf aangeraai om alle verwerkte Enterprise-kouevleisprodukte uit hulle yskaste te verwyder en terug te neem na die handelaar waar hulle dit gekoop het en sê hulle sal vergoed word daarvoor.
Die elektroniese meningsblad The Conversation berig Suid-Afrika was sleg voorberei vir die uitbreek van die dodelike voedselsiekte.
Prof Lise Korsten van die departement mikrobiologie by die sentrum van voedselveiligheid aan die Universiteit van Pretoria het in ’n onderhoud aan The Conversation gesê daar is verskeie probleme in die Suid-Afrikaanse wetgewing oor voedselveiligheid.
Sy sê dele van die wetgewing oor voedselveiligheid in Suid-Afrika is verouderd. Daar is onvoldoende stelsels in plek om die oorsprong van sulke gevalle, soos wat tans in die nuus is, betyds te identifiseer.
Om sake te vererger is daar ’n ernstige tekort aan inspekteurs, laboratoriumpersoneel, wetenskaplikes en ouditeure om dit te monitor.
Netwerk 24 berig intussen dat ’n ander regsfirma van Johannesburg, Richard Spoor, ook besig is met ’n aansoek om ’n groepsgeding teen Tiger Brands by die hof in te dien. Hulle werk glo saam met ’n Amerikaanse regsfirma wat spesialiseer in voedselveiligheid.
Suid-Afrikaners word sedert die begin van die week gereeld deur middel van radioflitse op hoogte gehou van al die feite en wolhaarstories rondom listeriose. Mense word aangeraai om gereeld hulle hande te was voor en tydens kosvoorbereiding.
LHL het lede van die publiek gevra om met hulle in verbinding te tree indien hulle geliefdes as gevolg van listeriose verloor het of wat listeriose opgedoen het om tot die groepsgeding toe te tree by info@listerialawsuit.co.za.
Volgens ’n woordvoerder van Tiger Brands is die groep nog nie deur die hof in kennis gestel van die aansoek nie en wou nie daarop kommentaar lewer nie.
Buro: NB