Duisternis wag op Suid-Afrika as Koeberg vou

  • 0

Die land staar ’n ineenstorting van sy hele kragnetwerk in die gesig, of ten minste langdurige fase 6-beurtkrag, as Eskom nie baie vinnig sy sokkies optrek om die huidige krisis by Koeberg op te los nie.

Dié donker prentjie word deur die DA geskets nadat die party die afgelope week besonderhede bekend gemaak het oor die huidige stand van sake by Koeberg en Eskom se steenkoolkragstasies.

’n Reeks noodsaaklike stappe sal volgens die DA gedoen moet word om Koeberg se lewensverlengingsprojek te red en ’n moontlike ineenstorting van die netwerk te voorkom.

Met Eskom wat onlangs aangekondig het dat die “waarskynlike risikoscenario” vir beurtkrag hoog gegradeer word, lyk Suid-Afrika se kragvooruitsigte vir die jaar wat voorlê, somber.

Dit is om hierdie rede dat die ontvouende krisis by Koeberg volgens die DA stiptelik gemonitor moet word om bedryfsveiligheid te beskerm en kragtoevoer na die netwerk te waarborg.

Suid-Afrika het tot dusver vanjaar 1 345 uur se beurtkrag ervaar. Die DA sê in ’n verklaring om fase 6-beurtkrag en die ineenstorting van die Koeberg-kragstasie te vermy, moet die nasionale regering die DA se planne implementeer om die ligte aan te hou.

Die voortdurende uitdagings by Koeberg getuig volgens die party van ’n kragstasiebestuursproses wat in ’n krisis verkeer. Die party sê president Cyril Ramaphosa se energiereaksieplan loop ’n ernstige risiko van permanente ontsporing tensy hy persoonlike beheer neem daarvan pleks daarvan om dit aan die ondoeltreffende Nasionale Elektrisiteitskrisiskomitee oor te laat.

Die hernuwing van Koeberg se bedryfslisensie na 2024 is in ernstige gevaar nadat Koeberg belangrike spertye op sy lewensverlengingsprojek gemis het. Die krisis word vererger weens die uittog van geskoolde personeel.

Data van die DA se energie-implementeringsprogram (Energy Response Plan Implementation Tracker) wat op 11 Augustus bekendgestel is, onthul dat maatreëls wat deur Ramaphosa aangekondig is om die elektrisiteitskrisis en eindbeurtkrag aan te spreek, tot stilstand gekom het.

Behalwe ’n enkele fotosessie vir die media kort nadat Ramaphosa sy energiereaksieplan vrygestel het, het ministers wat in die Nasionale Elektrisiteitskrisiskomitee dien, volgens die DA versuim om gereelde verslae te verskaf oor die vordering wat gemaak word met implementering.

“Indien hierdie komitee wel vergader, is Suid-Afrikaners in die duister oor die presiese aard van hul beraadslagings en die ooreenstemmende resolusies wat hulle neem om die elektrisiteitskrisis aan te spreek.”

Die voortdurende uitdagings by Koeberg, asook die instandhoudingsprobleme by sommige van die steenkoolkragstasies, getuig volgens die DA se ondersoek van ’n kragstasiebestuursproses wat in ’n krisis verkeer.

Met die aankondiging van fase 4-beurtkrag die afgelope week is 2022 vinnig op koers om die ergste beurtkragjaar op rekord te word.

Die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) Salto (Safety Aspects of Long Term Operation) het van 22 Maart tot 31 Maart 2022 ’n hersieningsending na Koeberg-kragstasie uitgevoer. Die doel van die sending was om aspekte wat noodsaaklik is vir die veilige langtermynoperasie (LTO) van Koeberg se twee eenhede te hersien. Eenvoudig gestel, dit was ’n oorsig wat bedoel was om die vordering wat Eskom met die Koeberg-lewensverlengingsprojek maak, te evalueer.

In ’n verklaring wat op 31 Maart vrygestel is, het die sending ’n onderneming gegee om die finale verslag binne drie maande aan die Koeberg-aanlegbestuur, die Nasionale Kernreguleerder en die nasionale regering (Departement van Minerale Hulpbronne en Energie, DMRE) voor te lê. Sedert Junie, wat die geprojekteerde sperdatum vir die indiening van die verslag was, het nie een van die drie genoemde entiteite moeite gedoen om die verslag aan die publiek bekend te maak nie.

Die DA het intussen ’n PAIA-aansoek by minister Gwede Mantashe ingedien om toegang tot die Salto-verslag te verkry. Die departement het sedertdien ontvangs van die DA se PAIA-aansoek erken en hulle word nou ingevolge die PAIA-wet verplig om die verslag binne 30 kalenderdae aan die DA bekend te stel.

Die DA het ’n hutsmerk #KeepTheLightsOn op sosiale media begin om die aandag op die krisis te vestig en sy plan bekend te stel hoe om die ligte aan te hou.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top