Meer as 100 jaar later het Duitsland verskoning gevra vir sy rol in die massamoord, nou erken as volksmoord, op tienduisende Herero’s en Namas tussen 1904 en 1908 in Namibië (destydse Duits-Suidwes-Afrika) deur Duitse troepe.
Die volksmoord staan in die geskiedenis bekend as die vergete menseslagting van die 20ste eeu, berig The New York Times. Daar word geraam dat sowat 80 persent van die Herero-bevolking en die helfte van die Nama-bevolking tydens die slagting uitgeroei of verdryf is, volgens Washington Post. Duitsland het verlede Vrydag vir die eerste keer die massamoord as volksmoord amptelik erken.
Volgens die nuusagentskap Reuters het Namibië se president, Hage Geingob, die verskoning deur Duitsland se minister van buitelande sake, Heiko Maas, verwelkom. Hy bestempel dit as ’n historiese stap.
Nie almal is egter in hulle noppies met die vergoeding wat Duitsland aanbied nie en beskou dit as ’n belediging, berig Reuters.
Duitsland het aangebied om 1,1 miljard euro te bewillig vir ontwikkelingsprojekte in Namibië, maar aanvaar nie dat daar wetlike aanspreeklikheid vir vergoeding is nie, berig Rapport.
Die Duitse TV-kanaal ZDF berig dat Duitsland die sowat R18 miljard sal aanwend vir grondhervorming, landelike infrastruktuur, watervoorsiening en opleiding in gemeenskappe wat onder die slagting gely het.
Sechs Jahre Verhandlungen - nun der Durchbruch: Deutschland bekennt sich zum Völkermord an den #Herero und ist zu einer Wiedergutmachung bereit. Das bestätigt die Regierung in Namibia. Danach sollen in den nächsten 30 Jahren rund 1,1 Milliarden Euro in Aufbau-Projekte fließen. pic.twitter.com/617hPSf2NT
— ZDFheute (@ZDFheute) May 27, 2021
Die Namibiese koerant die Republikein berig dat verskeie hoofmanne in Namibië die ooreenkoms wat tussen Duitsland en Namibië bereik is, verwerp. Die Zeraeua- en Maharero-koningshuise van die Ovaherero is onder diegene wat die ooreenkoms oor reparasie vir die koloniale volksmoorde verwerp.
Die koerant berig dat hoofman Manasse Zeraeua skerp kritiek oor die ooreenkoms uitgespreek het. Hy sê hulle het nie die geleentheid gehad om die konsepooreenkoms met die gemeenskappe te bespreek sodat hulle namens die stam terugvoer kon gee nie.
Die stamhoofde wil hê dat die betalings vir reparasie direk na die betrokke gemeenskappe gaan. Hulle sê die bedrag waarop daar ooreengekom is, is ook nie voldoende nie.
Daar moes volgens hoofman Zeraeua meer geld oorweeg gewees het vir die verligting van armoede. Hy sê die oorlewendes van die slagoffers moes ook direk by die onderhandelings betrek gewees het. Hy versoek dat die ondertekening van die ooreenkoms uitgestel word totdat daar aandag aan die eise van die Herero’s gegee is.
Duitsland en Namibië onderhandel meer as vyf jaar met mekaar oor die aangeleentheid, volgens Rapport.
Volgens Reuters bestempel die Herero-stamhoof Vekuii Rukoro die ooreenkoms ook as ’n belediging, omdat dit nie regtig voorsiening maak vir reparasie nie, maar slegs vir ontwikkelingsprojekte.
“Dit is ’n swart kat in ’n sak pleks van reparasie vir ’n misdaad teen die mensdom,” het Rukoro aan Reuters gesê. Hy sê geen selfrespekterende mens in Afrika sal in vandag se dae so ’n belediging deur ’n sogenaamde beskaafde Europese nasie aanvaar nie.
Reuters berig: Hoewel Duitsland voorheen morele verantwoordelikheid vir die slagting aanvaar het, is dit nou die eerste keer dat hulle een of ander vorm van vergoeding aanbied daarvoor.
Daar word geraam dat Duitse soldate sowat 65 000 Herero’s en 10 000 Namas doodgemaak het tussen 1904 en 1908 se koloniale grondvergrype. Dit word bestempel as die eerste menseslagting van die 20ste eeu, volgens Reuters.
Rapport het Sondag berig Duitsland se toegewing van die massaslagting as volksmoord kan moontlik ‟nuwe stukrag” gee ‟aan oproepe dat Europa verantwoording doen vir sy vergrype van die verlede en moontlik selfs toegee aan voormalige kolonies se eise vir vergoeding”.
In ’n verklaring oor die ooreenkoms sê Heiko Maas die gebeure tydens die koloniale tydperk moet erken en in die gesig gestaar word sonder om dit goedsmoeds te aanvaar. Hy het bygevoeg dat Duitsland van nou af met ’n hedendaagse perspektief amptelik daarna sal verwys as ’n menseslagting.
— Heiko Maas 🇪🇺 (@HeikoMaas) May 28, 2021
Duitsland, wat al sy koloniale gebiede na die Eerste Wêreldoorlog verloor het, was die derde grootste koloniale mag naas Brittanje en Frankryk. Die land se koloniale verlede is egter vir dekades geïgnoreer terwyl historici op die nalatenskap van die Holocaust en ander Nazi-misdade gefokus het.