Nie Kaapstad of Johannesburg nie, maar Durban is die stad in Suid-Afrika met die beste lewenskwaliteit.
Volgens die 20ste Mercer Quality of Living verslag wat die afgelope week vrygestel is, kan Durbaniete spog dat hulle stad ʼn hoër lewenskwaliteit as Kaapstad of Johannesburg bied wat gewoonlik spog húlle is die beste stede in die land.
Mercer se navorsing word bestempel as van die omvangrykste hieroor in die wêreld. Hulle resultate word jaarliks vrygestel om multinasionale maatskappye en ander organisasies in staat te stel om hulle werknemers billik te vergoed wanneer hulle internasionaal geplaas word.
Durban is miskien nie so wêreldbekend soos Kaapstad nie en ook nie so ryk soos Johannesburg nie, maar volgens Mercer se verslag klop Durban beide Kaapstad en Johannesburg wanneer dit by lewenskwaliteit kom.
Durban is nommer 89 op die lys van stede wêreldwyd volgens lewenskwaliteit met Kaapstad in die 94ste plek en Johannesburg een trappie laer as Kaapstad. Altesaam 231 stede in die wêreld se name verskyn op die lys.
Port Louis in Mauritius is Afrika se nommer een stad op die lys en is in die 83ste posisie.
Die opname evalueer stede wêreldwyd volgens 39 faktore in 10 kategorieë insluitend die politieke en sosiale omstandighede, die ekonomiese klimaat, openbare dienste, vervoer, behuising, onderwys, ontspanning en die natuurlike omgewing.
Die stede in Afrika wat die lys gehaal het, maar die swakste gevaar het is N’Djamena in Tjaad (226), Kartoem in Soedan (227) en Bangui in die Sentraal Afrika Republiek (230). Voortdurende politieke onstabiliteit, armoede, ekstreme klimaatsomstandighede en ʼn gebrek aan behoorlike infrastruktuur en beleggingsvooruitsigte maak van hierdie stede van die plekke met van die laagste lewenskwaliteit ter wêreld.
Durban se burgemeester Zandile Gumede sê die verslag se resultate bewys dat die eThekwini-munisipaliteit op die regte koers is.
Dit is die vierde agtereenvolgende jaar dat Durban stof in Kaapstad en Johannesburg se oë skop. Gumede sê die stad is trots daarop dat hulle erkenning kry vir hulle diensleweringsprogramme. Sy sê die stad streef daarna om voort te gaan om ʼn positiewe impak te lewer in die lewe van sy inwoners.
Oostenryk se hoofstad Weenen stap weer eens met die louere weg as die wêreld se stad met die beste lewenskwaliteit terwyl Irak se hoofstad Bagdad heel onder op die lys is wanneer dit by lewenskwaliteit kom.
Die volledige verslag van Mercer kan hier gelees word.
Buro: NB