Suid-Afrikaners moet van Woensdag af meer as ooit tevore vir petrol betaal wanneer dit vir die eerste keer meer as R17 vir ’n liter in die binneland sal kos.
Dié week se styging van nagenoeg R1 per liter is die agtste brandstofprysverhoging vanjaar.
Dieselgebruikers gaan die swaarste getref word – diesel word R1,24 per liter duurder. Die groothandelprys van diesel styg tot R15,65 in die binneland en R15,16 aan die kus.
Paraffien is R1,04 duurder, terwyl vloeibare gas met R1,79 styg.
Die stygings word toegeskryf aan duurder Brent-ruolie, wat tot meer as $83 per vat gestyg het, en ’n swakker rand. Die waarde van die rand het die afgelope maand gewissel van R13,90 tot R14,90 teenoor die Amerikaanse dollar.
Die ekonoom Azar Jammine het aan die SABC gesê verbruikersbesteding gaan deur die hoër brandstofpryse geraak word.
Die jongste skok in die brandstofprys kom nadat die grootste styging in die petrolprys sedert April Maandag deur die Sentrale Energiefonds aangekondig is.
Ekonome waarsku dat die brandstofprysverhoging ’n bose siklus van ander prysstygings gaan veroorsaak. Dit kan die prys van baie produkte, van kos tot motors, die hoogte injaag.
Die groot verhoging in die prys van brandstof kan ook ’n negatiewe invloed op voedselproduksie hê. Boere begin vandeesmaand om te plant. Die landbou-ekonoom Wandile Sihlobo sê die verhoging sal die vervoerkoste van graan na silo's en produkte na fabrieke beïnvloed. Hy sê sowat 75 persent van graan tussen plase en silo's word per pad vervoer, wat nog groter druk op verbruikers sal plaas.
Gewone Suid-Afrikaners het met skok op die drastiese verhoging reageer. Hulle blameer die regering daarvoor ondanks die hoër prys van Brent-ruolie. Hulle meen dat die politieke verwikkelinge in Suid-Afrika en die buiteland se sentimente oor die land ook ’n rol speel.
Laasgenoemde sentimente is volgens sommige negatief as gevolg daarvan dat die buiteland ontevrede is met die bestuur van die land, wat aspekte soos korrupsie, misdaad, werkloosheid, die ekonomie, groeikoers en die benarde situasie by Eskom, SAL, SABC en vele meer insluit.
“In kort ... die staat is die muishond in die verhaal,” het een van die deelnemers aan die gesprek op Netwerk24 se kommentaarblad geskryf.
“Wag tot grondonteiening inskop en sanksies inskop en die rand in die grond in duik, dan gaan die R17 per liter soos kleingeld lyk,” het nog een van die doemprofete gewaarsku.
Die hoër brandstofprys gaan ook die armstes van die armes wat van taxivervoer afhanklik is, se sakke ruk, aangesien taxi-eienaars nie die duurder petrolpryse sal kan absorbeer nie.
Die Automobiel-Assosiasie (AA) het reeds gewaarsku dat die ongekende brandstofprysverhoging katastrofies sal wees vir motoriste. Dit is die grootste styging in Suid-Afrika se geskiedenis, en volgens die AA is die grootste oorsaak daarvan die land se chaotiese ekonomiese beleid wat die land weerloos laat teen stygings in internasionale pryse.
Buro: MvH