Eben Etzebeth en die tragedie van die vrou

  • 0

Baie mense is kwaad vir die Springbok-rugbyspeler Eben Etzebeth. Hoewel daar geen bewyse is dat hy skuldig is op enige klagtes van aanranding nadat hy onlangs in ’n groep vir ’n aand uit na Langebaan was nie, voel baie mense, veral vroue, dat waar daar ’n rokie is, daar minstens ’n vape-kooltjie moet wees.

Toksiese manlikheid is duidelik aanwesig onder rugbyspelers, sê hulle, en al is hy nie nou skuldig nie, is dit net ’n kwessie van tyd voor hy of ’n ander sportman iemand (weer) geweld aandoen. Dit is tog wat op die speelveld gebeur. En Etzebeth is dikwels in die middel van relletjies onder spelers.

Sulke sentimente is hoogs verstaanbaar. Geweld teen vroue, sê die politieke denker Steven Friedman, is ou nuus, dis alledaags in Suid-Afrika. Die afgelope weke was daar die fraaie vrou in haar dertigs wat in haar hoë-sekuriteitskompleks vermoor en aan stukke gekap is. Toe word een doodgeslaan met ’n skaal in ’n poskantoor. Twee gevegskampioene – ’n bokser en skopbokser – is deur hul minnaars doodgemaak. En vir die eerste keer is ’n meisie by ’n wit skool ontvoer vir ’n losprys.

Die berigte hieroor het die land in ’n kollektiewe toestand van wanhoop gedompel. Maar ewe veel mense het daarop gewys dat dit self ’n ou storie is: daar is groot woede en optogte, laasweek selfs na die parlement, maar op die ou end gebeur niks nie.

Maar wat kan gebeur? In die eerste plek is daar ’n statistiese drogredenasie: vroue is min of meer die helfte van die bevolking. Omdat daar altyd moorde sal wees, selfs in die veiligste lande, sal daar altyd geweld teen vroue wees. Net soos daar altyd geweld teen mans sal wees.

In dieselfde tyd as die optogte teen vrouegeweld het die Wêreldgesondheidsorganisasie syfers vrygestel wat daarop dui dat vier keer meer mans as vroue in Suid-Afrika selfmoord pleeg, waarvan die meeste vuurwapens gebruik. Die navorsing het nie oor die verband met vrouegeweld gegaan nie, maar dit is nie moeilik om te sien dat toksiese manlikheid daartoe lei dat mans geweld teen óf andere óf hulself pleeg nie.

Die eintlike vraagstuk is: presies wat is hierdie toksiese manlikheid? 

Een antwoord lê dalk in ’n nadere beskouing van een van die bokser-gevalle hierbo genoem. Een foto wys “Baby Lee” Jegels as wêreldkampioen, maar die skraal, mooi vrou lyk nie of sy iemand leed kan aandoen nie. Die tragedie vir vroue is dat hulle die swakkere vat is.

So ’n stelling moet natuurlik onmiddellik gekwalifiseer word. In my jong dae het ’n vriendin my gereeld op die muurbalbaan geklop. Daar is dikwels grepe in die nuus en op sosiale media waarin vroue inbrekers, aanvallers en lasposte laat les opsê. Maar hulle is die uitsondering wat die reël bewys: oor die spektrum van liggaamlike soorte heen is vroue oor die algemeen nie genoegsaam in staat om hulself fisies teen mans te verset nie.

Toksiese manlikheid is hierop gegrond. Soos Camille Paglia dit in die 1980s gestel het: “Mans verkrag vroue want hulle kan.”

Die tweede aspek van die tragedie van die vrou is dat sy weens haar swakker vermoëns haarself in die meeste gemeenskappe net kan beskerm deur haar op mans te verlaat. Selfs al sou die doodstraf teen verkragting ingestel word, sal daar ’n manier moet wees om boosdoeners aan te keer en aan te hou. Moderne polisiedienste bestaan uit mans en vroue, maar as die meeste vroue is, is die kanse goed dat sulke eenhede sal faal wanneer dit kom by fisiese polisiëring.

Toksiese manlikheid is ook hierop gegrond: Geweld is nodig om orde en sekuriteit te verseker.

Sekere genetici soos Steve Jones gaan verder: die eintlike tragedie van die vrou is dat die man wat haar moet bevrug ’n minderwaardige stel gene het. Hulle voer aan dat al die gene wat ’n mens kan assosieer met ’n meer produktiewe en vreedsame lewe, oorwegend in vroue voorkom. Mans daarenteen, word geneties voortgestu na aggressie, kompetisie, onbeperkte paring. Geen wonder dat sekere radikale feministe glo daar sal net vrede op aarde wees as mans verdwyn nie.

Wat is dan die antwoord? Selfs in die mees “beskaafde” lande is vroue op hul hoede wanneer hulle op straat verskyn. Sekerlik is streng wetstoepassing noodsaaklik. Paglia redeneer dat vroue hul vrees te bowe moet kom anders mis hul die avontuurlike sy van die lewe – in die meeste gevalle is “gevaarlike mans” nie noodwendig geweldenaars nie. Maar sy sê ook ’n verontregte vrou “moet haar dag in die hof kry.”

Dit is elke vrou se keuse. Maar vir so ’n keuse om eties volhoubaar te wees, moet daar veel meer gelykheid tussen mans en vroue kom as wat daar tans in selfs die “mees gevorderde” lande soos Nederland is. Pagila se redenasie is nie anti-feministies nie, dit onderskraag eerder die stryd om vroueregte.

Deel van die antwoord moet egter ook wees om mans se genetiese agterstande te bestuur. Deesdae help middele soos Prozac, maar in hierdie verband speel sport ’n groot en onderskatte rol. Twee-en-twintig of dertig mans wat rondhardloop of soos gekke rondval agter ’n bal aan, of selfs hordes aanhangers van sportspanne wat ’n paar winkelvensters stukkend slaan, is veel beter as ’n kernoorlog.

Moet dus nie kwaad wees vir Eben Etzebeth nie. In die eerste plek is hy onskuldig tot dit anders bewys word. In die tweede plek is ’n hy ’n twee meter-lange lewende weerligafleier met ’n pet op. Daar is leliker spelers met nog leliker name as hy, ware Frankensteinmonsters, wat nog meer blitse en rook kan opskop.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top