’n Vergete skeepsjoernaal uit die 18de eeu wat per toeval deur die geskiedkundige skrywer en navorser Dan Sleigh ontdek is, werp nuwe lig op die destydse retoervlote van die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) uit Nederland wat die oseane tussen Europa en die Verre Ooste eeue gelede deurkruis het.
Sleigh het die afgelope Saterdag (18 Junie) tydens ’n praatjie van die Orde van den Prince in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev) in Pinelands, Kaapstad gesels oor hierdie buitengewone ontdekking van hom. Dit het uiteindedelik aanleiding gegee tot sy jongste boek, Retoervloot: Kaapstad en die VOC in 1713.
Hy het hierdie waardevolle joernaal van VOC-admiraal Johannes van Steelant in die biblioteek van die Universiteit van die Witwatersrand ontdek terwyl hy besig was met navorsing oor hierdie Nederlandse skeepsvaarder.
Sleigh is geen onbekende met die VOC en die vloot nie, maar sê hierdie ontdekking het sy asem weggeslaan.
Die VOC was ’n organisasie wat in die 17de en 18de eeu die monopolie by die Nederlandse owerheid verkry het om handel te dryf met en vir die kolonisering van Asië. Die VOC word ook beskou as die eerste maatskappy wat aandele uitgegee het.
Deur middel van hierdie geskiedkundige joernaal wat eeue lank onder die stof begrawe gelê het, kon Sleigh onder andere vasstel watter skip die draer was van die verwoestende epidemie van kinderpokke wat in die Kaap uitgebreek het.
Die agtergrond speel af in 1713 wanneer VOC-admiraal Johannes van Steelant sy retoervloot vanuit Batavia via Kaap de Goede Hoop terugneem na Nederland.
Saam op die vlagskip was sy vyf jong kinders. Hulle word een na die ander siek aan die gevreesde kinderpokke. Op 12 Februarie gaan die gesin aan land in Tafelbaai. Enkele maande later is sowat die helfte van die Kaapse bevolking dood aan pokke.
Danksy hierdie langvergete joernaal van Van Steelant, wat nou ook vir Jan Alleman toeganklik gemaak is in Sleigh se Retoervloot, kan ons vandag ’n lewensgetroue terugblik kry op die omstandighede in die Kaap van destyds en hoe dit gelyk het.
Sleigh het sy praatjie deur middel van ’n skyfievertoning gelewer met sketse uit die 18de eeu.
Op een van die sketse is onder meer die galgeheuwel in Groenpunt te sien. Daar is ter dood veroordeeldes in die openbaar opgehang om deur die inkomende skepe gesien te word wanneer hulle Tafelbaai binnevaar. Dit moes as afskrikmiddel dien vir enige matroos wat wou kom moeilikheid maak aan die Kaap
Sleigh verduidelik dat die maritieme vesting aan die Kaap met slegs een doel deur die VOC tot stand gebring is, en dit was om die retoervlote van proviand en bystand te voorsien en vir geen ander doel nie.
Die retoervlote se besoeke aan die Kaap was ’n geweldige ekonomiese inspuiting vir die Kaap se ekonomie. Losieshuise, kroeë en selfs die kerk het groot finansiële voordeel daarby gevind.
Een van die vele interessante staaltjies wat Sleigh vertel, is dat daar in die kroeg van alle plekke ’n kollektebussie was waar die matrose geld vir die kerk kon ingooi. Elke skip het sy eie ’n kollektebus gehad wat in die kroeg geplaas is. Daarin kon die matrose dan geld vir die kerk gooi wanneer hulle gaan drink en so het selfs die kerk aan die Kaap gebaat by die retoervlote se dors matrose.
’n Retoervloot van die VOC het uit ongeveer 19 tot 20 skepe bestaan met sowat 150 matrose aan boord van elk. Een van die skepe was ongeveer die lengte van twee tennisbane en ook so breed soos ’n tennisbaan.
Nederland se mariene tegnologie was destyds van die beste in die wêreld, sê Sleigh. Daarom kon die VOC se vlote die afstand tussen die kontinente vinniger as enige ander vloot aflê, wat meegebring het dat Nederland aan die voorpunt van die seehandel tussen Europa en die Verre Ooste was.
Vir byna 200 jaar het die VOC die handelsroetes op see oorheers voordat hulle later weens verskeie faktore, onder andere korrupsie, bankrot gespeel het.
Sleigh is geen leek wanneer dit gaan oor die seelewe nie. Hy is ’n afstammeling van seelui en het ook langs die see grootgeword nadat hy op 3 November 1939 op die plaas Geelbeksfontein aan die Langebaan-strandmeer gebore is.
Sy pa was ’n afstammeling van kaptein Francis Sleigh van HMS Russell van die Royal Navy wat in 1806 aan die Slag van Blouberg aan die Kaap deelgeneem het. Sy ma, Susanna, is die vierde geslag van skipper Klaas Acker, bevelvoerder van die VOC se skepe Duyfje, Diamant en Zoutman.
In Retoervloot bring Sleigh egter nie net die verbysterende werkinge van die VOC-retoervlootstelsel lewend voor die oog nie, maar los hy ook die geheim op van hoe die gevreesde kinderpokke in die Kaap beland het.
Van Steelant se retoervloot van 1713 het meer aan boord gehad as die kosbare vrag handelsware waarmee hulle op pad terug was Nederland toe.
Saam met die vrag was daar ook die gevreesde pokke op pad na Kaapstad wat vandag se koronavirus na ’n Sondagskoolpiekniek laat lyk as in ag geneem word dat die helfte van die Kaap se bevolking destyds as gevolg daarvan omgekom het.
Hoewel die pokke-epidemie die verreikendste gevolg van die besoek van die retoervloot van Van Steelant was, is daar in sy joernaal geen amptelike melding gemaak van pokke aan die Kaap of aan boord van die Sandenburg, die boot waarop Van Steelant gevaar het, nie.
Daar kan egter afgelei word dat Van Steeland se vyf jong kinders onderweg na die Kaap een vir een siek geword het as gevolg van die gevreesde kinderpokke. Op 12 Februarie gaan die gesin aan land in Tafelbaai. Hulle skeepsklere word in die VOC se slawelosie gewas.
Enkele maande later is byna die helfte van die Kaapse bevolking egter dood aan pokke.
Interessant is dat die plaasarbeiders wat op die plase gewerk het, volgens Sleigh die minste deur die epidemie geraak is en dit makliker oorleef het. Die rede daarvoor is onduidelik, maar Sleigh meen dit kan wees omdat hulle een of ander natuurlike immuniteit teen die siekte gehad het.
- Meer besonderhede oor die VOC is beskikbaar by TANAP (Towards a New Age of Partnership). Verskeie Nederlandse organisasies het gesamentlik die TANAP-projek geloods. Dan Sleigh was redakteur van dié projek. Die transkribering van dokumente soos die Resolusies van die Politieke Raad en die Inventarisse van die Weeskamer het inligting oor ons voorvaders vir ons toeganklik gemaak. Die TANAP- dokumente is tans op die webwerf Nationaalarchief VOC: Opvarendenbeskikbaar (https://www.nationaalarchief.nl/onderzoeken/zoekhulpen/voc-opvarenden).