EFF blaas in DA se nek om die amptelike opposisie te word

  • 0

Die ANC is besig om steeds agteruit te boer, terwyl die EFF besig is om sy lippe af te lek om die DA verby te steek in vanjaar se nasionale verkiesing en om die amptelike opposisie in die parlement te word.

Volgens die jongste meningspeiling van die marknavorsingsmaatskappy Ipsos vaar die EFF tans marginaal beter as die DA en is hy besig om homself moontlik as die amptelike opposisie te posisioneer vir na die verkiesing.

In ’n politieke wending wat deur die jongste Ipsos-peiling voorspel word, sal die ANC dalk met ’n kleiner party moet saamwerk om ná die verkiesing te bly regeer, en kan die EFF meer stemme kry as die DA.

Ipsos het sy jongste verteenwoordigende aangesig-tot-aangesig-peiling in Suid-Afrika van 23 Oktober tot 1 Desember 2023 gedoen. Een van die sleutelvrae wat gestel is, was: "As daar môre nasionale [of provinsiale] verkiesings was, vir watter politieke party sou jy stem?"

Respondente is gevra om hul keuse op ’n nagemaakte stembrief op ’n rekenaar te kies voordat hulle die rekenaar aan die onderhoudvoerder teruggee.

Volgens Ipsos verteenwoordig hierdie benadering ’n ware stembriefproses en verseker dit die vertroulikheid van die stemming. Ipsos inkorporeer ’n uitgebreide reeks moontlike partykeuses in die vraelys. Nie alle partye wat by die OVK geregistreer is, verskyn op die lys nie. Insluiting word hoofsaaklik bepaal deur vorige verkiesingsprestasie eerder as hulle mediaprofiel of die prominensie van partyleierskap. Respondente het egter die opsie om die naam van enige politieke party in te skryf wat hulle wil ondersteun, selfs al is dit nie gelys nie.

Volgens die bykomende ontleding van die data is:

  • die steun vir die ANC ver onder 50%
  • die DA besig om agteruit te beweeg as amptelike opposisie
  • die EFF besig om die DA se plek as amptelike opposisie uit te daag
  • die IVP-steun op nasionale vlak in die omgewing van 5%, maar kom hoofsaaklik van KwaZulu-Natal, waar die party ’n sterk aanspraakmaker is
  • Action SA se ondersteuning hoofsaaklik in Gauteng geleë.

Die EFF se jeugleier, Sihle Lonzi, het op X met die uitslae van die Ipsos-peiling gespog en gesê: "’n Statistiese & wetenskaplike WERKLIKHEID is dat die rassistiese DA uit die wedloop is."

Hy sê die komende verkiesing is tussen die EFF en die ANC. "Boonop sal die ANC nie 50% kry nie en as hy gelukkig is, kan hy 40% nasionaal kry."

Ipsos sê dit is van kritieke belang om te beklemtoon dat hierdie uitslae nie ’n verkiesingsvoorspelling is nie. "Geloofwaardige verkiesingsvoorspellings kan slegs in die finale stadiums wat tot die verkiesing lei, gemaak word. Verskeie faktore, insluitend veldtogdinamika, politieke en ekonomiese veranderinge, sowel as die stand van noodsaaklike dienste soos elektrisiteit en watervoorsiening, kan die verkiesingsuitslag in die laaste maande beïnvloed. Dit is verstandig om al hierdie verwikkelinge fyn dop te hou voordat enige gevolgtrekkings oor die finale verkiesingsuitslag gemaak word."

Die deurslaggewende faktor in hierdie verkiesing is volgens Ipsos kiesersopkoms op die dag van die verkiesing. Verskeie ontledings dui daarop dat die verwagting van ’n hoë kiesersopkoms dalk nie realisties is nie, wat grootliks toegeskryf word aan wydverspreide moedeloosheid oor die land se situasie en lae vlakke van vertroue in politici en politieke partye.

’n Lae stempersentasie kan moontlik die ANC bevoordeel, wat die ANC-steun moontlik tot naby die halfpadkerf (50%) sal verhoog. Hierdie scenario maak staat op veranderlike kiesersopkoms oor metropolitaanse en landelike gebiede. ’n Hoër stempersentasie in landelike gebiede sal die ANC bevoordeel, gegewe sy oorwegend landelike steunbasis.

Volgens Ipsos se huidige modelle sal ’n lae stempersentasie beteken dat in die omgewing van 39–41% van die geregistreerde kiesers gaan stem; ’n medium opkoms 55–57%; en ’n hoë stempersentasie 69–71% van die kiesers wat gaan stem.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top