Die hofgeding tussen AfriForum en die EFF-leier Julius Malema oor die sing van die omstrede struggle-lied “Kill the Boer” het Suid-Afrikaners verder in kampe verdeel.
AfriForum daag die EFF voor die hof oor die sing van die lied omdat dit volgens hulle haatspraak is en geweld aanhits.
Terwyl die EFF en AfriForum mekaar in die hof getakel het, het gewone Suid-Afrikaners wat die hofsaak soos ’n sepie volg, mekaar ook aan die keel gegryp oor die saak.
EFF-ondersteuners staan bankvas agter Malema se verdediging van die omstrede lied en is eenstemmig in hulle verdediging daarvan. Onder sy opponente is daar egter geen eenstemmigheid of dit wys was om die saak weer op dié manier in die kollig te plaas nie.
Sommige meen dit is ’n goeie ding, terwyl ander sê dit bied slegs ’n platform vir Malema en sy party om groter verdeling onder Suid-Afrikaners te saai en polarisasie te skep.
Die politieke kommentator Piet Croukamp het in Vrye Weekblad geskryf hy het nie die hele saak in die hof gevolg nie, maar wel in die donker ure van die nag daarvan probeer sin maak op YouTube en Twitter.
Croukamp skryf in sy meningsartikel hoe langer die nag geword het, hoe meer het hy besef wit Suid-Afrikaners se “morbiede fiksasie en soms rassistiese nydigheid” jeens die EFF gee nie net politieke suurstof aan Malema nie, maar gee ook bestaansreg aan die idees wat hy en sy party verteenwoordig.
Hierdie sentiment van Croukamp is nie net onder linkses vaardig nie. Sommige regses meen ook Ernst Roets, wat namens AfriForum getuig het, het meer gedoen om Malema ’n spreekbeurt te gee vir sy beweerde haatspraak as enige iets anders.
AfriForum het hierdie klag in Oktober 2020 aanhangig gemaak nadat ondersteuners van die EFF “Kill the Boer, kill the farmer” buite die landdroshof in Senekal gesing het waar beskuldigdes vir die moord op die plaasbestuurder Brendin Horner verhoor is.
Malema is in 2011 aan haatspraak skuldig bevind vir die sing van die dreunsang “Dubul’ibhunu” (Skiet die Boer). In hierdie saak het die Hoogste Hof van Appèl ook ’n bevel uitgereik ingevolge waarvan Malema daarvan weerhou word om soortgelyke dreunsange te sing en hy sy ondersteuners van die sing van sulke dreunsange moet ontmoedig.
Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum en die skrywer van die boek Kill the Boer, getuig namens AfriForum in hierdie saak. Hy sê AfriForum dien hierdie klag ingevolge die Gelykheidswet in, maar daar word onder meer van die hof gevra dat die saak ook vir strafregtelike vervolging verwys word.
In AfriForum se pleitstukke vra die organisasie vir ’n bevel dat Malema, die EFF-parlementslid Mbuyiseni Ndlozi en die EFF haatspraak gepleeg het, dat hulle in die openbaar verskoning moet vra en dat hulle ’n boete van R500 000 moet betaal aan ’n organisasie wat hulle vir die bekamping van haatspraak beywer.
Hein Willemse, professor in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, het in ’n meningstuk op Netwerk24 gesê die regstreekse stroming van die hofsaak via die internet het ’n belangrike, ongeredigeerde binneblik gebied op die denke van die twee groepe wat by die saak betrokke is.
Volgens hom het veral Malema die geleentheid aangegryp om homself regstreeks tot ’n gehoor buite die hof te projekteer.
Vrye Weekblad se redakteur, Max du Preez, se standpunt is dat dit nie saak maak wat die hof in AfriForum se hofsaak teen Julius Malema en die EFF oor die struggle-lied beslis nie, Malema is klaar die wenner.
“Al wat AfriForum regtig reggekry het, is om die meeste swart Suid-Afrikaners en die meeste wit Suid-Afrikaners te laat ‘kant kies’; om Malema ’n verhoog te gee van waar hy emosioneel oor historiese swart pyn en voortslepende ongelykheid kon praat,” is Du Preez se mening.
Al wat AfriForum regtig reggekry het met die haatspraak-saak teen Julius Malema en die EFF is om die meeste swart Suid-Afrikaners en die meeste wit Suid-Afrikaners te laat ‘kant kies’, sê Max du Preez.@MaxduPreez
https://t.co/FPS4mYNGTu— Vrye Weekblad (@vryeweekblad) February 21, 2022
Die Grondwetkenner Pierre de Vos het op Twitter gesê wat regtig krag aan Malema en hierdie liedjie gegee het, was nie dat hy dit gesing het nie, maar die reaksie daarop met verwysing na die hofsaak deur AfriForum. De Vos het reageer op ’n artikel van die joernalis Stephen Grootes in Daily Maverick waarin hy ook tot die gevolgtrekking kom dat die hofsaak Malema eerder polities kan versterk.
"What really gave power to Malema and this song was not that he performed it, but the reaction to it. AfriForum (and the farmers’ union TLU — which still stands for the Transvaal Landbou Unie) took Malema to court." https://t.co/6BjqhvFpif
— Pierre de Vos ⚖️ (@pierredevos) February 21, 2022
Die aansoek deur AfriForum om die EFF se leierskap en Julius Malema te keer om “Dubul’ibhunu” te sing, het gelei tot baie openbare debat oor die werklike motief vir die saak. Dit het ook daartoe gelei dat baie tot die gevolgtrekking gekom het dat dit tot gevolg kan hê dat Malema polities versterk word. Dit is waarskynlik waar, sê hy.
Roets het teruggekap en op Twitter gesê wanneer Malema die media aanval, word hy deur die media voor die hof gedaag vir haatspraak maar wanneer Malema dreunsing “Kill the boer, kill the farmer” en na boere wys, dryf die media die spot met die minderheidsgemeenskap wat hom hof toe vat.
When Malema attacks the media, he's taken to court for hate speech *by the media*.
When Malema chants "kill the boer, kill the farmer," "one settler one bullet," "shoot to kill, kill a man" and points to farmers, the media ridicules the minority community who takes him to court. https://t.co/A6kD1ORtun
— Ernst Roets (@ErnstRoets) February 23, 2022