Die wittebrood tussen die EFF en die DA is verby nadat hulle gedwonge huwelik op die rotse beland het in die munisipaliteite wat hulle as koalisievennote regeer het.
Dit volg nadat die DA nie wou bes gee aan die EFF se eis dat Tshwane se burgemeesterskap aan die EFF toegeken word in ruil vir hulle verdere samewerking met die DA nie.
Die besluit van die EFF om hulle samewerkingsooreenkoms met die DA te beëindig kan minstens twee van die land se grootse munisipaliteite, naamlik Johannesburg en Tshwane, tot ’n groot mate destabiliseer.
Albei die metro’s word sedert die vorige munisipale verkiesing gesamentlik deur die DA en EFF regeer. Beide metro’s het DA-burgemeesters. Na die algemene verkiesing, waarin die EFF veld gewen en die DA veld verloor het, het die EFF sy pond vleis geëis en gevra dat Tshwane ’n EFF-burgemeester kry. Die DA het geweier om afstand te doen van die burgemeesterskap in Tshwane.
Die DA sal nou in albei die metro’s sonder die EFF se hulp moet probeer klaarkom, wat sal beteken dat hulle dalk selfs met die ANC ooreenkomste sal moet aangaan om te verseker dat twee van die land se grootste metro’s nie tot stilstand kom wanneer begrotings goedgekeur moet word nie.
Dit kan albei die metro’s se diensverskaffing tot ’n groot mate verlam indien die DA nie genoeg steun kan kry om sy diensleweringsplanne tot uitvoering te bring nie.
Die EFF-leier, Julius Malema, het sy party se planne die afgelope week tydens ’n nuuskonferensie aangekondig.
EFF Media Briefing addressed by CIC Julius Malema - 2 July 2019 https://t.co/SxFKIVDGj8
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) July 2, 2019
Dit kom daarop neer dat sy party nie meer in enige munisipaliteit in Suid-Afrika vir die DA sal stem nie. Hulle sal ook nie saam met die ANC stem nie. Malema sê hulle sal wel aan die debatte deelneem en insette lewer, maar as daar gestem word, sal die EFF buite stemming bly.
Die EFF het tydens die vorige munisipale verkiesing ’n deurslaggewende rol daarin gespeel dat die DA daarin kon slaag om die burgemeesters vir Tshwane, Johannesburg en die Nelson Mandelabaai-metro’s aan te wys. In Nelson Mandelabaai moes die DA reeds die burgemeesterskap prysgee na onenigheid tussen hulle en die UDM.
Die DA se federale voorsitter, James Self, het die EFF se besluit betreur.
We note the comments made today, that the EFF will no longer vote with the DA in any municipality, and that they will abstain from voting when it comes to it.https://t.co/guNN5pUsf9
— Democratic Alliance (@Our_DA) July 2, 2019
Die party sê in ’n verklaring dit is jammer dat die EFF hierdie besluit geneem het ten koste van miljoene Suid-Afrikaners wat tydens 2016 se munisipale verkiesing vir verandering gestem het.
Volgens die DA het hulle ooreenkoms met die EFF goed gewerk in munisipaliteite waar geen party ’n volstrekte meerderheid gehad het nie. Volgens die DA was daar ’n goeie verstandhouding tussen raadslede van die twee partye op plaaslike vlak.
Die politieke ontleder Xolani Dube het aan Netwerk24 gesê hy meen Malema bluf net, en hy dink nie die EFF sal hulle besluit op raadsvergaderings deurvoer nie. Hy sê mens kan Malema nie meer ernstig opneem nie en dat Malema se aansien in die politiek verwater is. Volgens Dube sê Malema alewig dinge wat hy nie kan deurvoer nie.
Die meeste ander politieke waarnemers meen egter dat die EFF se besluit dinge vir die DA baie kan bemoeilik en die munisipaliteite kan verlam. As die DA egter daarin kan slaag om gemene grond met van die ANC-raadslede te bereik, kan dit die EFF frustreer en nuwe koalisiemoontlikhede skep.
Buro: MvH