EFF plunder en brand na omstrede haar-advertensie

  • 0

Die EFF-leier, Julius Malema (Foto: YouTube)

Die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela sê die onmin wat losgebars het na die Clicks-advertensie wat die hele land in rep en roer het, is ’n teksboekgeval van onbewuste vooroordeel.

Madonsela, wat die leerstoel in maatskaplike geregtigheid in die Fakulteit Regte aan die Universiteit Stellenbosch beklee, sê dit is goed om die advertensie te veroordeel, maar anargie en geweld ondermyn die saak.

Sy het op Twitter reageer op Maandag se vandalisme toe ondersteuners van die EFF verskeie winkels van Clicks gedwing het om hulle deure te sluit. Van die winkels is selfs met petrolbomme bestook.

Die adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu, het op Twitter uitgevaar teen Madonsela. Hy sê hoe gouer die hele Suid-Afrika besef dat sy ’n woordvoerder en lakei van die wit kapitalistiese establishment is, hoe beter. “Dit is waarom hulle jou Stellenbosch toe laat kom en dit vir jou gereël het. Daar is geen anargie aan wettige en geregverdigde protes nie,” het Shivambu getwiet.

Hy sê die party het nie opdrag gegee dat Clicks-winkels met petrolbomme aangeval word nie. Dit volg nadat takke van Clicks in Emalahleni in Mpumalanga en Alberton in Ekurhuleni met petrolbomme bestook is te midde van die landwye protesoptrede oor die omstrede haaradvertensie. Shivambu het ook op die bewerings gereageer waar hy by ’n protesoptrede by Clicks in Sandton City, noord van Johannesburg, was. Hy sê die party se protesaksie is vreedsaam en hulle keur nié enige geweld goed nie.

Die EFF-leier, Julius Malema, het sy ondersteuners aangehits om toe te sien dat Clicks-takke hul deure sluit. Hy het op Twitter gesê: “As hulle oorlog wil hê, gee dit vir hulle, insluitend enige verhuurder van enige winkel wat julle toegang weier.”

Malema en lede van sy party het Clicks se tak in die Mall of the North-winkelsentrum op Polokwane in Limpopo besoek en gewaarsku dat EFF-lede die hele week protesoptrede by takke van dié winkelgroep gaan hou. Malema sê regstellende stappe moet gedoen word oor die haaradvertensie wat die waardigheid van swart mense aantas. Malema het die Clicks-tak in Polokwane se deure self met ’n ketting toegesluit.

Hy was ook verontwaardig oor Madonsela se kritiek op die anargie en geweld en wou by haar weet of sy vreedsame protes as anargie beskou.

Die Clicks-winkel in die Goodwood-winkelsentrum in Kaapstad het ook hulle deure gesluit nadat EFF-ondersteuners ’n stille protesoptrede by die winkel gehou het. Die EFF het die winkel se ingang versper en regstellende stappe deur Clicks geëis.

Clicks het vroeër reeds verskoning gevra vir die advertensie. “Ons het ’n fout gemaak en vra opreg verskoning dat ons julle in die steek gelaat het. Ons erken ons het ’n rol om te speel om ’n meer diverse en inklusiewe Suid-Afrika te skep, deur op ons eie webwerf daarmee te begin.” Die EFF is egter nie tevrede met die verskoning nie en wou hê Clicks moet al hulle winkels se deure vir vyf dae sluit.

Die bestuurshoof van Clicks, Vikesh Ramsunder, het bekendgemaak dat twee junior personeellede geskors is oor die omstrede advertensie wat op hul webwerf gelaai is.

Brandbestryders moes ook ’n brand by die Clicks-winkel in die Lemon Tree-winkelsentrum in Alberton oos van Johannesburg blus. ’n Groep betogers het volgens RSG by die winkel ingebreek, die winkel gevandaliseer en die brand gestig.

Die Ekurhuleni-nooddienste sê die meeste van die skade is weens vandalisme en water en rook. Al die winkels in die sentrum was Maandag vir die res van die dag gesluit.

Op George in die Wes-Kaap is vier lede van die EFF  volgens RSG in hegtenis geneem nadat hulle in die middestad by Clicks betoog het. Een van hulle is die provinsiale voorsitter, Melikhaya Xego. Volgens die polisie is die vier aangekeer omdat hulle inperkingsmaatreëls oortree het toe hulle onwettig betoog het.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top