Die EFF se aanspraak dat die afgelope Maandag se poging om die hele land tot stilstand te dwing die suksesvolste protesaksie in die land se geskiedenis was, word allerweë as erg oordrewe beskou.
Sakelui, politieke partye en burgerlike organisasies meen almal dat ondanks die miljoene rande wat die EFF se nasionale stilstand die land se ekonomie gekos het, die politieke impak daarvan minimaal was.
Die rooi barette het Maandag die strate regoor die land ingevaar en geëis dat president Cyril Ramaphosa moet bedank terwyl die land deur aanhoudende beurtkrag geteister word.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag se protesaksie as ’n skouspelagtige mislukking bestempel.
Die DA het in hulle reaksie gesê die spreekwoordelike berg het op die ou einde ’n muis gebaar.
AfriForum sê in hulle verklaring Maandag se protes wys weer eens dat die EFF baie min steun het en dat die publiek nie aanklank vind by radikale retoriek nie.
“Alhoewel die party hard probeer het om op sosiale media die indruk te skep dat hulle die land ontwrig het, was dit duidelik dat die meeste mense soos normaal met hul dag voortgegaan het.”
Alhoewel daar sporadiese gevalle van geweldpleging en vandalisme deur EFF-ondersteuners was, was hulle geïsoleerd.
“Maandag se mislukte poging deur die EFF om mense se lewens te ontwrig, maak dit duidelik dat die groter meerderheid van die landsburgers nie die EFF se radikale sieninge deel nie. Die party het ook gemeenskappe se gereedheid om hul gebiede te beveilig onderskat,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.
Congratulations Afriforum. Doing amazing work! @afriforum https://t.co/deolvVS8J7
— Maliceinwonderland (@Maliceinwonder8) March 20, 2023
Die DA het gesê die EFF se blaf is altyd erger as sy byt.
Die party se nasionale woordvoerder, Solly Malatsi, sê die EFF se "national shutdown" was ’n groot ophef oor niks.
Malatsi sê in ’n verklaring daar is al te veel keer in die verlede gesien hoe die EFF beweer het dat hulle nasionale invloed het, en die waarheid is hulle het nie.
“Die DA se twee interdikte teen die dreigemente van geweld – een deur die Stad Kaapstad en die ander deur die DA – het die EFF Maandag van onwettige gedrag verhinder. Hulle het geweet dat die gevolge te ernstig sou wees om te dra.”
Die Gautengse Hooggeregshof het Saterdag op versoek van die DA die EFF verbied om die regte van Suid-Afrikaners om te werk, skool toe te gaan en handel te dryf, deur enige manier van intimidasie, geweld of dwang, te skend met die party se beplande nasionale stilstand Maandag.
Volgens die DA het hierdie interdik ’n rol gespeel om die arm van Suid-Afrika se wetstoepassingsliggame en veiligheidsdienste te versterk om die wet tydens die “nasionale stilstand" te handhaaf.
Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê dit moet vir almal duidelik wees dat die reg om te protesteer niemand die reg gee om iemand anders te teister, te intimideer of te dreig nie.
Ramaphosa het gesê een persoon se reg om te protesteer mag geensins inbreuk maak op enige ander persoon se reg op lewe en waardigheid nie.
“Die Grondwet is duidelik dat die staat al die vryhede wat vervat is in die Handves van Regte moet respekteer, beskerm, bevorder en vervul. Daarom, net soos die staat ’n plig het om die reg op vreedsame protes te handhaaf, het dit ’n verantwoordelikheid om enige poging om enige van die ander regte in die Grondwet te skend, te voorkom,” het Ramaphosa gesê.
Hy sê dit is in orde vir enige persoon of organisasie om binne die wet mede-Suid-Afrikaners op te roep om vrylik by protesaksies aan te sluit. Maar niemand moet gedwing, gedreig of geïntimideer word om by daardie protes aan te sluit nie.