EFF se nasionale stilstand bedreig lewens, sê DA

  • 0

Die EFF se planne om die hele land volgende Maandag tot stilstand te dwing stel die welstand van Suid-Afrika se mank ekonomie asook mense se lewens in gevaar.

So voer die DA aan as rede waarom hulle Dinsdag dringende regstappe en ander maatreëls aangekondig het teen die EFF se beoogde nasionale stilstand.

Die party het onder andere ’n meganisme bekendgestel om Suid-Afrikaanse burgers te bemagtig om enige EFF-lid aanspreeklik te hou vir enige skade wat as gevolg van hulle optrede aangerig word.

Die EFF beplan ’n nasionale stilstand op 20 Maart en eis die bedanking van president Cyril Ramaphosa en ’n einde aan beurtkrag.

In die aanloop tot die stilstand het die party gemeenskappe gewaarsku om besighede te sluit of die risiko van plundering te loop.

Die DA sê dit sal ’n fout wees om die skade te onderskat wat die EFF se dreigende “national shutdown” aan besighede en werkers kan aanrig.

Daarom gaan die DA hof toe vir ’n dringende interdik teen die EFF, sodat “plunderaars en anargiste” gestuit kan word, het die party se leier, John Steenhuisen, in ’n verklaring gesê.

Steenhuisen sê hulle is diep bekommerd oor die intimiderende taktiek wat deur lede van die EFF toegepas word, wat besighede wat dit waag om handel te dryf, en mense wat dit waag om Mandag werk of skool toe te gaan, dreig dat hulle die gevolge daarvan sal moet dra.

Die DA sê daar is toenemende bewyse op sosiale media en in openbare verklarings deur EFF-leiers en ondersteuners dat hulle van plan is om die wet te oortree in die nastrewing van hul eie politieke agenda.

Steenhuisen sê hulle sal nie agteroor sit en toelaat dat die EFF besighede en lewens bedreig nie.

Die EFF se uitdruklike dreigemente van geweld en dade van intimidasie sluit volgens die DA ’n foto in op sosiale media van die EFF se Mpumalanga-leier in volle rooi EFF-gewaad wat met ’n semi-outomatiese geweer poseer, en ’n byskrif wat sê: “By all means necessary or possible we are ready @EFFSouthAfrica.”

Steenhuisen sê hulle het aan die minister van verdediging geskryf om te verseker dat daar voldoende soldate op bystand sal wees vir ontplooiing en om te verseker dat die nodige hulpbronne beskikbaar is om toe te sien dat daar geen uitbreek van geweld en plundering is nie.

Hulle het ook aan Bheki Cele, minister van polisie, geskryf om die bedreiging wat die EFF se beplande landwye stilstand vir die ekonomie, openbare en private infrastruktuur, sowel as die veiligheid van burgers inhou, uit te lig, asook aan president Ramaphosa.

Ander voorkomende stappe wat die DA doen om “hierdie dreigende geweld” te voorkom of die skade wat dit kan aanrig te beperk, sluit ’n hofinterdik in om te verseker dat die EFF-leierskap alle intimidasiebriewe wat hulle uitgereik het, formeel terugtrek, soos die brief wat aan OR Tambo-lughawe uitgereik is en die lughawe-owerheid waarsku om nie enige vlugte of sake-aktiwiteit op die dag toe te laat nie.

Hulle nader ook die hof om te verseker dat die EFF voldoen aan die voorwaardes van permitte wat uitgereik is deur relevante munisipaliteite wat toestemming gee vir vreedsame protes.

Steenhuisen sê die reg om vreedsame protesoptrede te onderneem is ’n wettige grondwetlike reg en die DA sal hierdie reg verdedig, of dit nou die DA, die EFF, of enige ander groep of individu is wat betoog.

“Maar hierdie reg is nie onbeperk nie, en dit kan nooit regverdiging wees vir kriminele gedrag, of gedrag wat die regte van ander skend of bedreig nie. Net soos mense die reg het om te betoog, het hulle ook die reg om nie te protesteer nie, die reg om nie met die betogende organisasie te assosieer nie, en die reg om skool toe te gaan of te werk of om ’n besigheid te bedryf, en ook om ongehinderd en onbelemmerd aan te gaan met hul daaglikse lewens.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top