Die EFF, wat alles in hulle vermoë gedoen het om van oudpresident Jacob Zuma ontslae te raak vanweë sy beweerde korrupte bedrywighede, bevind hulle nou midde-in ’n korrupsieskandaal en sit met ’n rooi gesig onder hul rooi barette.
Die EFF en hul adjunkpresident, Floyd Shivambu, het volgens die Daily Maverick finansiële voordeel ten bedrae van miljoene rand uit die VBS Mutual Bank-skandaal getrek.
Floyd Shivambu (Foto: Garyvdm [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)
Volgens die koerant se bronne het Shivambu sowat R10 miljoen op ’n onreëlmatige manier van VBS ontvang. Hy het glo ook vir maande gepoog om die ondersoek na VBS in die kiem te smoor en het ’n skadu van wantroue oor die integriteit van die beamptes van die nasionale tesourie en die Reserwebank gegooi om sy eie bas te probeer red.
Die Reserwebank het ’n forensiese verslag bekendgestel wat aandui dat Floyd se broer, Brian Shivambu, onder diegene is wat betrek word by die onreëlmatige verkryging van miljoene rand se lenings, saam met politici, tradisionele leiers en sakelui.
Brian Shivambu sê hy gaan die Reserwebank dagvaar vir naamskending. Shivambu het ’n verklaring oor die VBS-sage en sy beweerde betrokkenheid daarby vrygestel. Hy het ontken dat hy enige geld van die bank ontvang het en sê die verslag het spanning in sy familie veroorsaak.
Die meeste van die VBS Bank se werknemers het reeds briewe ontvang wat hulle inlig dat hulle binnekort uit diens gestel gaan word. Die briewe dui ook aan watter finale pakkette betaal sal word. Die woordvoerder van die kantoor van die kurator, Louise Brugman, het aan RSG bevestig dat slegs 25 werknemers hulle werk sal behou. Die res sal skeidingspakkette ontvang, drie weke se salaris en R5 000 vir die vereffening van skuld. Die werkers sal nog steeds hulle 13de tjeks kry, en hulle laaste dag by die werk sal op 12 November wees.
Die DA het reeds kriminele klagtes ingedien teen 50 mense wat na bewering by die bankdiefstal betrokke was en miljoene rand laat verdwyn het.
Dit volg op ’n verslag van die Reserwebank vroeër die week onder die opskrif “VBS Mutual Bank – The Great Bank Heist” ná ’n forensiese ondersoek. Die verslag het verskeie persone met politieke invloed geïdentifiseer wat na bewering hulle politieke invloed gebruik het om die bank kaal te steel.
Die EFF se Floyd Shivambu het ’n verklaring van sy broer op Twitter geplaas waarin hy vure probeer doodslaan en ontken dat hy enige sake met VBS Mutual Bank gedoen het.
Statement by Brian Shivambu on the VBS allegations: “Sgameka projects doesn’t have any working relationship with VBS & has never received payment from VBS. SA’s law does not permit anyone to be put into trial, &convict them without granting them the right to state their version”. pic.twitter.com/Bpy3xPaJBf
— Floyd Shivambu (@FloydShivambu) October 11, 2018
Die EFF was tot dusver nog redelik stil oor die aangeleentheid en sê enige persoon wat skuldig bevind word aan die bedrogspul moet vervolg word. Die party het egter niks gesê oor die betrokkenheid van Shivambu se broer by die hele aangeleentheid nie.
Die EFF-leier, Julius Malema, sal glo volgende week ’n nuuskonferensie hou. Hy sal na verwagting reageer op die verdoemende bewerings waarby sy party betrek word.
Die Sowetan het vroeër die week op sy voorblad oor die aangeleentheid berig onder die opskrif “How to steal a bank”.
Volgens die politieke ontleder Protas Madlala lê die inkonsekwentheid van die EFF dié party se beleid teen korrupsie bloot. Netwerk24 berig Madlala sê die EFF se ongewone stilswye hieroor is rede tot kommer.
Hy sê die EFF was nog altyd die enigste party wat gesê het dat die bank gered moet word. “Ons weet nou hoekom, Floyd moet nou maar vir die gelag betaal.”
Buro: MvH