
Cyril Ramaphosa (Foto: Michel Temer [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons)
Suid-Afrikaners kan hulle gereedmaak vir ’n stormagtige parlementsitting wanneer president Cyril Ramaphosa Donderdagaand sy staatsrede lewer. Die EFF dreig om die president se toespraak Donderdagaand te ontwrig soos tydens die bewind van Jacob Zuma, tensy Ramaphosa minister Pravin Gordhan afdank.
Die EFF het Dinsdag verontwaardig reageer op berigte dat die parlement voorbereidings tref om enige ontwrigting deur die EFF die hoof te bied. Die party sê die parlement span saam met die polisie en dat enige poging om hulle te “onderdruk” beslissende en radikale reaksie sal uitlok.
Die EFF sê in ’n uitdagende verklaring hulle wil dit kategories stel dat hulle nie geïntimideer sal word nie. “As president Ramaphosa voortgaan om die onverdedigbare Pravin Gordhan te verdedig, beteken dit daar is nie meer omdraaikans nie en sal ons op dieselfde manier met hom handel as waarmee ons met Zuma gehandel het.” Die party sê hulle sal nie toelaat dat die staatsrede voortgaan solank as wat Gordhan ’n minister is nie. “As Cyril praat, sal ons ook praat.”
EFF Statement on the Unlawful Deployment of the South African Police Services to SONA. pic.twitter.com/C2JjLoavKy
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) February 11, 2020
’n Veglustige Julius Malema het reeds vroeër die week gedreig dat sy party Donderdag die staatsrede sal ontwrig as daar nie aan die EFF se eise voldoen word nie. Malema het tydens ’n mediakonferensie oudergewoonte uitgevaar teen die media en weer eens die rassekaart gespeel. Hy beskuldig ook die DA daarvan dat hulle en Ramaphosa kop in een mus is.
CIC Julius Malema and EFF Officials Adressing Media https://t.co/FWpQawYVpl
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) February 9, 2020
Malema se ondersteuners het hom op Twitter aangemoedig met sy planne om die staatsrede te ontwrig. Sy opponente sê hy gaan sy vingers verbrand as die EFF voortgaan met hulle planne.
“Die EFF moet sy magte op grondvlak mobiliseer om byderhand te wees en hulle moet alles wat nodig is, saambring om terug te veg, insluitend gewere,” het Simon Mtshotana getwiet in reaksie op die EFF se verklaring.
EFF must mobilize the ground forces to be there nearby. They must bring everything including guns to fight back.
— Simon Mtshotana (@MtshotanaSimon) February 11, 2020
’n Ander Twitter-gebruiker het gesê Mtshotana is ’n “onverantwoordelike gek” en nog een wou weet wat het hy gedrink. Iemand anders het gesê die EFF kan nie eers ’n verkoue in ’n apteek kafdraf nie.
Die politieke ontleder, Ralph Mathega, het volgens Netwerk24 gesê die EFF se dreigement is baie riskant en kan in die party se gesig ontplof. Hy sê die EFF se ontwrigting van Zuma se toespraak was dalk nog “opwindend” vir die publiek weens hulle afkeur aan Zuma. Hy sê die openbare gemoed het egter aansienlik verander sedert Ramaphosa president geword het en ’n EFF ontwrigting kan ’n groot risiko vir die EFF self inhou.
Suid-Afrikaanse parlement (Foto: Kotivalo [CC BY-SA 4.0], via Wikimedia Commons)
Politieke ontleders meen Donderdag se staatsrede is dalk die laaste kans wat president Ramaphosa het om weer vertoue in sy leierskap te herstel. Baie Suid-Afrikaners was vol moed vir die nuwe daeraad wat Ramaphosa beloof het nadat hy die leisels by Zuma oorgeneem het, maar begin al hoe meer wonder of hy die pyp kan rook.
Johannesburg se voormalige burgemeester, Herman Mashaba, wat verlede jaar uit die DA bedank het en sy eie politieke party wil begin, sê hy gaan dié week se staatsrede boikot. Mashaba het op Twitter gesê terwyl die politici Donderdag in deftige klere by die parlement gaan opdaag, is daar in die regte Suid-Afrika mense wat sukkel om kos op die tafel te kry en hulle families teen misdaad te beveilig.
“Ek sal nie na die staatsrede kyk nie maar besig wees om met die mense te praat,” het Mashaba getwiet. “Die staatsrede is ’n simptoom van ons gebroke politieke stelsel wat slegs die stelsel, die politici en die politieke partye dien. Dit is waarom ek die staatsrede vanjaar vir die eerste keer gaan boikot.”
Buro: MvHThis week, SA politicians will be at a fancy dress up show in Cape Town. In the real SA, people will be struggling to put food on the table, keep their families safe from crime, and suffering with no jobs. I will not be at #SONA2020. I will be meeting with the people. #SASpeaks https://t.co/2gZkULoFEx pic.twitter.com/Do1yKwP95j
— Herman Mashaba (@HermanMashaba) February 10, 2020