EFF wil weer ontwrigting saai by Kaapse skool

  • 0

Die EFF dreig om Vrydag vir ’n tweede keer by die Hoërskool Brackenfell in die Kaap te betoog teen beweerde rassisme by die skool.

Spanning het verlede week hoog geloop by die skool toe EFF ondersteuners en van die skoolkinders se ouers voor die skool slaags geraak het.

Die onderonsie, waartydens die vuiste gebal is en selfs skote geklap het, het gevolg nadat die indruk vermoedelik geskep is dat die skool ’n matriekafskeid gereël het waarheen slegs wit kinders genooi is.

Die EFF het Woensdag die rassekaarte kwistig uitgedeel op sosiale media en gesê “alle wit rassiste” wat ’n onbeheerbare begeerte het om swart mense te beheer en wil dikteer waarheen hulle mag gaan en waarheen nie, sal net so verneder word soos “die rassiste” in Senekal.

Die party het op Twitter gesê daar was nog nie genoeg weerstand teen die “vertrapping van demokrasie deur rassiste van Brackenfell” wat skynbaar dink hulle besit sekere dele van die land en wat swart mense in die land van hulle geboorte aanrand nie.

Die EFF sê hulle het gewaarsku dat hierdie gewelddadige aanvalle in Brackenfell nie onbeantwoord gelaat sal word nie. “Ons sal Vrydag opruk en seker maak dat niks werk nie. Hulle het ons gedruk en hulle moet daarop voorbereid wees om harder gedruk te word.” Die EEF-ondersteuners sê hulle betoging by die skool sal 10h00 Vrydag begin.

Die skool ontken enige bewerings van rassisme en sê daar was geen amptelike matriekafskeid waarheen slegs witmense genooi is nie. Hulle sê die skool en die beheerliggaam het juis besluit om nié ’n matriekafskeid te hou nie gegewe die COVID-19-toestande.

Sommige mense hou egter vol dat daar wel ’n partytjie was waarheen slegs wit kinders genooi is en dat van die skool se onderwysers by die reëlings betrokke was.

Die skool se beheerliggaam het intussen gepoog om ’n hofbevel te bekom om te keer dat betogers werksaamhede by die skool ontwrig, maar die aansoek is tot 2 Desember uitgestel.

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, het verlede week ook gesê sy sal haar tot die hof wend indien EFF-lede betogings hervat en die matriekeksamen ontwrig.

Die EFF voer egter aan dat hulle beplande betoging by die skool vreedsaam sal wees en dat dit nie met die skool se werksaamhede sal inmeng nie.

Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het na verlede week se skermutseling by die skool gesê die ANC-regering kyk te lank reeds anderpad terwyl die EFF en sy leierskap doelbewus rassekonflik in Suid-Afrika veroorsaak.

Groenewald sê dit is onaanvaarbaar en ironies dat die EFF, wat geen geheim maak van sy wrewel jeens boere, wit mense en Afrikaans nie, morele waghond probeer speel oor die Afrikaner en geweldsdreigemente gebruik as metode om sy doel te probeer bereik. Hy sê dit is net ’n kwessie van tyd voordat hierdie soort optrede tot ’n tragedie gaan lei.

Groenewald het in ’n verklaring gesê die VF Plus het al by herhaling in die parlement gewaarsku dat hierdie soort rasse-opstokery nie onbepaald kan voortduur nie. “Dit is soos om met vuurhoutjies in droë gras te speel, waaraan daar tans ’n oormaat in Suid-Afrika is juis vanweë die EFF se opruiende optrede en haatspraak, aanhitsing van geweld en intimidasie.”

Hy sê die regering sal moet ingryp voordat dit te laat is. “Die feit dat daar nie opgetree word nie, skep duidelik die indruk van stille goedkeuring aan die kant van die ANC.”

Die skool se beheerliggaam het verlede week ’n brief aan die ouers gestuur waarin hulle die geweld by die skool ten sterkste veroordeel en die skool van enige gewelddadige optrede distansieer.

Volgens verskeie berigte in die media was daar al in die verlede klagtes oor ’n gebrek aan beweerde diversiteit by die skool.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top