Die Investec Cape Town Art Fair (ICTAF) het onlangs in Kaapstad plaasgevind
’n Uiteenlopende verskeidenheid skilderye, tekeninge, beeldhouwerke, foto's, video's en installasiekunswerke. ’n Ontploffing van kleur, tekstuur en allerlei interessante konsepte. ’n Swierige affêre, waar eietydse kuns gevier word. Dié jaar se Investec Cape Town Art Fair (ICTAF) het beslis nie teleurgestel nie.
Toeskouers bespreek die kuns
Die geleentheid is ’n jaarlikse instelling waar kuns gevier word
ICTAF is ’n jaarlikse instelling en behels die uitstal van eietydse visuele kuns. Die geleentheid het die afgelope naweek in die CTICC in Kaapstad plaasgevind, waar galerye hul beste kunswerke vir die publiek ten toon gestel het.
Skilderye, tekeninge, beeldhouwerke, foto's, video's en installasiekunswerke is net sommige van die tipes kunswerke wat te sien was
’n Lewendige atmosfeer en stampvol lokaal wat bruis met stemme het besoekers die naweek begroet en daar was vir seker nie ’n tekort aan kunswerke om te besigtig nie. Hierdie sewende kunsskou het immers gespog met oor die honderd versamelings en kunswerke van regoor Afrika.
Skilderye, beeldhouwerke, aangrypende foto's, videokunswerke en installasiekunswerke was net sommige van die verskeie tipes kunswerke te sien. Unieke en interessante konsepkunswerke het die oog gevang. Interessant was dat talle van die kunswerke digitale komponente gehad het. Temas soos geografiese skoonheid, kultuurerfenis en identiteit is in kunswerke aangespreek.
’n Toeskouer besigtig die kuns
Die kunsskou behels ’n uitstalling van eietydse visuele kuns
Kaapstad is bekend vir sy dinamiese visuele-kunste-toneel en daarom was dit geen verrassing dat talle Kaapstadse galerye teenwoordig was by die geleentheid nie. Tog was die kunsskou nie beperk tot net Kaapstadse galerye nie, en was daar galerye en instansies van regoor die land en vasteland teenwoordig. Angola, Zimbabwe en Nigerië is onder die Afrika-lande wat teenwoordig was.
Plaaslike galerye het ingesluit Stevenson, Smac, 99 Loop Gallery, Goodman Gallery, Guns and Rain, SMITH en The Melrose Gallery, om net ’n paar te noem. Galerye van oorsese lande soos Italië, Duitsland, Frankryk en België het ook hul beste voetjie voor gesit. Instansies soos die South African Foundation for Islamic Art, Kuenyeiha Trust for Contemporary Art, en Southern African Foundation For Contemporary Art (SAFFCA) was betrokke by die geleentheid. Verder was daar ook talle praatjies wat besoekers kon bywoon, soos "Artists in dialogue", "Art in the digital age" en “Curating in the 21st century".
Toeskouers bekyk die interessante kuns
Kuns van Williams Chechet
Kunstenaars wie se werk te sien was, sluit in Zyma Amien van Kaapstad, Kyu Sang Lee van Kaapstad, John-Michael Metelerkamp van Knysna, Azael Langa van Pretoria, Angel Ihosvanny van Angola, Armand Boua van die Ivoorkus, Prince Gyasi van Ghana en Michael Cook van Australië, om net ’n paar te noem.
Toekennings soos die Africa First-prys en die Tomorrows/Today-prys was ook op die spel. Tumelo Mosaka is die kurator van die Tomorrow/Today-afdeling, waar ontluikende kunstenaars verteenwoordig word. Opkomende kunstenaars soos Chris Soal van Suid-Afrika, Medina Dugger van Nigerië en Troy Makaza van Zimbabwe het deelgeneem. Mongezi Ncaphayi het die Africa First-prys losgeslaan, en Makaza die Tomorrows/Today-prys, wat ’n kontantprys sowel as ’n solo-uitstalling by die Zeitz Mocaa insluit.
- Foto's: Marli van Eeden