Daar word wyd bespiegel dat die land dalk binnekort na Vlak 2 van die inperkingsregulasies sal oorskakel.
Dit volg nadat TimesLIVE berig het die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het geskimp die land kan dalk dié week goeie nuus te wagte wees na afloop van die week se kabinetsvergadering.
Die hutsmerke #level2 en #AlcoholBan was ook die hutsmerke wat Woensdag die meeste in Suid-Afrika op Twitter gegons het.
Please Mr @CyrilRamaphosa hear us 😢#Level2 pic.twitter.com/i2CvRsar5U
— Brandon (@Ntsako_br) August 12, 2020
I cant wait for the day Ramaphosa a re "Fellow S.Africans it is with a great happines that the National lockdown is over"
Yoooo bafwetu 💃 💃 💃
#Level2 pic.twitter.com/wl733sKNgU— 2013 😭💔🇿🇦 (@Madikela06) August 12, 2020
Selfs die omstrede en ongewilde minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, sê in haar hofstukke in die hofaansoek van ’n groep wynboere die drankverbod kan opgehef word namate omstandighede verander, berig Netwerk24.
Volgens alle aanduidings is omstandighede inderdaad besig om te verander. Die land se aantal COVID-19-gevalle toon volgens Mkhize ’n merkbare daling. Hy sê dit het reeds gedaal van 10 000 nuwe infeksies elke dag tot sowat 2 500 nuwe daaglikse infeksies.
Mkhize het volgens TimesLIVE gesê die afwaartse tendens sal dié week aan president Cyril Ramaphosa voorgelê word. “Ons is besig om voorleggings voor te berei en sal aanbevelings maak rakende die moontlike verligting van die regulasies,” het Mkhize gesê.
Health minister Zweli Mkhize has hinted that South Africans can expect good news this week as his team is preparing to make recommendations to the national coronavirus command council around the easing of lockdown restrictions. https://t.co/U1ptnNcHKE
— Times LIVE (@TimesLIVE) August 12, 2020
Hy sê daar is verskeie kwessies wat in ag geneem sal moet word en dat die President die nodige leiding sal gee oor wat moontlik is. Volgens Mkhize sal Ramaphosa se leiding op wetenskaplike getuienis berus.
Hy sê die President verlang ’n deeglike analise van die wetenskaplike basis waarop die advies wat hy kry, berus. Die jongste tendense en al die ander insette van die onderskeie sektore sal in ag geneem word voordat besluit sal word wat in die beste belang van die hele land is, het Mkhize gesê.
Die nasionale ramptoestand kom ingevolge die wet die einde van die week ten einde. Indien die regering dit wil verleng, verg dit ’n nuwe aankondiging van die President om dit vir nog ’n maand te verleng.
Die regering verkeer ook onder groot druk vanuit verskeie oorde in die sakesektor, burgerlike organisasies sowel as die algemene publiek om die huidige beperkings op te hef of ten minste te verlig. Daar is ook verskeie hangende hofsake daaroor wat die druk op die regering verder verhoog. Die algemene konsensus is dat die land se ekonomie ernstig skade ly as gevolg van die ramptoestandregulasies.
Mkhize het die publiek intussen aangemoedig om die nodige voorsorgmaatreëls te tref as hulle wil hê die huidige beperkings moet verlig word. Hy sê gewone mense moet fokus op daardie aspekte wat dit vir die regering makliker sal maak om dit te doen, soos die dra van maskers, die gebruik van handreinigers en gereelde was van hande met water en seep, en natuurlik ook om sosiale afstand te handhaaf.
The Do’s and Don’ts of mask wearing. It is important to continue practicing wearing masks, washing and sanitizing hands and social distancing to assist in curbing the spread of #COVID19. pic.twitter.com/Shgp7cQOid
— Dr Zweli Mkhize (@DrZweliMkhize) August 11, 2020
Mkhize sê hoewel dit te gou is om te sê wanneer die noodregulasies opgehef sal word, Suid-Afrikaners dalk binnekort goeie nuus kan verwag indien hulle hul kant bring.
Die vakbond Cosatu het ook aangedui dat hulle die regering gaan vra om die verbod op die verkoop van alkohol op te hef, berig Netwerk24. Cosatu sal na verwagting Donderdag ’n voorlegging aan die regering doen met voorstelle om die verbod te verlig. Hulle stel voor dat die verbod soos wat dit tans geld, opgehef word maar dat daar steeds streng voorwaardes geld vir die verkoop van drank aan die publiek.
Die verwagting is dat president Ramaphosa die land nie later nie as Saterdagaand sal toespreek oor die pad vorentoe.
Buro: MvH