Eise dat ramptoestand moet waai val op dowe ore

  • 0

Die verlenging van die ramptoestand met nóg ’n maand het Suid-Afrikaners die harnas in nadat die regering vroeër beloof het om dit spoedig op te hef.

Suid-Afrika se ramptoestand moes vandag (15 Maart 2022) verstryk het. Dit  is reeds bykans twee jaar van krag sedert dit die eerste keer aan die einde van Maart 2020 afgekondig is.

Tydens sy staatsrede vroeër vanjaar het president Cyril Ramaphosa gesê dat hy die beëindiging van die nasionale ramptoestand as ’n dringende saak beskou.

Verskeie mediese kenners, politieke partye en burgerlike organisasies dring reeds geruime tyd aan op die beëindiging daarvan.

Sedert die ramptoestand die einde van Maart 2020 verklaar is, is dit reeds 23 keer verleng. Die regulasies wat daarmee gepaard gaan, is reeds 20 keer verleng na hul eerste einddatum van Junie 2020.

Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het op Twittter gesê daar is min tot geen rede nie om die ramptoestand te behou.

Suid-Afrika se Nasionale Koronavirusbevelsraad het  Maandag (14 Maart) vergader om nuwe bygewerkte inperkingsregulasies te bespreek.

Bronne wat by die proses betrokke was, het volgens mediaberigte gesê daar is meningsverskille oor die hoeveelheid regulatoriese magtiging wat die Departement van Gesondheid moet hê wanneer die pandemie nie meer onderhewig is aan die Wet op Nasionale Rampbestuur nie.

Regeringsministers is tot vandeesweek gegun om nuwe regulasies op te stel wat die ramptoestand sou vervang. Sodra daar ooreengekom is daaroor, sal die regulasies in die staatskoerant gepubliseer word en sal Ramaphosa waarskynlik weer die nasie toespreek.

Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, het Sondag op Twitter gesê Solidariteit sien die regering volgende maand in die hof oor die verlenging van die ramptoestand.

Solidariteit en die regering pak mekaar op 20 April in die hof oor die opheffing daarvan. Die Hooggeregshof het die datum vroeër aan Solidariteit bekend gemaak.

Volgens Solidariteit is daar geen rede waarom die ramptoestand steeds van krag moet wees nie. Hulle sê die voorwaardes vir die ramptoestand het verval en daarom moet die ramptoestand ook beëindig word.

Hermann het getwiet dat maskers ook moet weg.

Daar is glo ’n gevoel by sommige mense in die regering dat die huidige voorstelle te veel magte in die hande van die minister van gesondheid laat, terwyl ander voel die Nasionale Bevelsraad moet voortgaan om die pandemie te beheer.

Ramaphosa het die naweek aan die media gesê die regering oorweeg dit nog of die ramptoestand verleng moet word en watter regulasies hy sal instel om dit te vervang indien dit nie verleng word nie. Hy het gesê dit sal nie so streng wees nie en van ’n ligter aard om die regering in staat te stel om die pandemie vorentoe te bestuur.

“Ons kyk na die beëindiging van die nasionale ramptoestand, maar ons moet verseker dat die nodige gesondheidsmaatreëls daar is om ons te help om die pandemie doeltreffend te bestuur,” het Ramaphosa gesê.

Die DA het intussen met ’n aanlyn petisie begin wat eis dat die kabinet, waaronder die minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, moet bedank.

“Nkosazana Dlamini-Zuma ‘Minister van Lockdowns’ moet weg!” het die party Maandag getwiet.

Die DA sê sy het die bevoegdhede wat aan haar toevertrou is, misbruik, wat ernstige skade aan mense se lewensbestaan ​​tot gevolg gehad het.

“As Ramaphosa nie NDZ wil afdank nie, sal ons dit doen met ons mosie van wantroue,” het die DA gesê.

“Ons sal daardie las van sy skouers neem as president Ramaphosa nie enige van sy skelms en bloedsuiers in die kabinet gaan afdank nie en dit vir hom doen.”

Die DA se mosie van wantroue teen president Ramaphosa se kabinet is geskeduleer vir 30 Maart.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top