Ekologiese ramp dreig in Krugerwildtuin weens vergiftiging

  • 0

Die VF Plus het Donderdag ’n voorstel by die provinsiale wetgewer in Mpumalanga ingedien om aasvoëlbedreigings in die Nasionale Krugerwildtuin en omliggende natuurreservate in die Bosbokrandse plaaslike munisipaliteit dringend aan te spreek.

Dit volg nadat meer as honderd aasvoëls en ’n hiëna einde verlede week gevrek het nadat hulle aan ’n vergiftigde buffelkarkas naby Punda Maria in die Krugerwildtuin gevreet het.

Die VF Plus sê indien die provinsiale regering aanhou om die situasie in plaaslike natuurreservate (die Krugerwildtuin, Manyeleti-wildreservaat, Sabi Sands-wildreservaat en Bosbokrand-natuurreservaat) te ignoreer, dit tot ’n ekologiese ramp kan lei.

Wat die situasie vererger, is dat dit broeiseisoen is en kuikens nie sonder hul ouers sal kan oorleef nie.

Hierdie vergiftiging kom volgens Werner Weber, lid van die provinsiale wetgewer in Mpumalanga, gereeld voor en kan grootliks daartoe bydra om verskeie spesies Afrika-aasvoëls uit te wis.

Weber sê in ’n verklaring aasvoëls word boonop deur tradisionele genesers in medisyne gebruik en die prys vir een wissel glo van R300 tot R1 500.

Daar word geraam dat die vereniging van tradisionele gesondheidspraktisyns in die Bosbokrandse plaaslike munisipaliteit 400 tot 800 aasvoëls per jaar doodmaak.

Die VF Plus se voorstel vra vir ’n strenger beleid, wat ’n opvoedingsveldtog vir die plaaslike inwoners insluit om bewustheid van aasvoëls en hul belangrike rol in die ekosisteem te beklemtoon.

Die party sê daar moet ook aanhoudingsteelprogramme ingestel word vir die herstel van spesies in gebiede waar hulle plaaslik uitgewis word.

Aasvoëls is ’n sambreelspesie in die ekosisteem. Indien die aasvoëlbedreiging aangespreek word, sal ander wild ook veiliger in die ekosisteem wees.

Die VF Plus het gevra dat befondsing beskikbaar gestel word om bogenoemde ingrypings in werking te stel.

SA Nasionale Parke (SANParke) het vroeër gesê hulle ondersoek ’n vermoedelike vergiftigingsvoorval in die Krugerwildtuin ná die ontdekking van ’n buffelkarkas wat blykbaar verlede Donderdag met gif besmet was. Meer as 100 dooie aasvoëls en ’n dooie hiëna wat waarskynlik van die karkas gevreet het, is ook op die toneel gevind.

Twintig voëls is lewend gevind en na Shingwedzi en Moholoholo-rehabilitasiesentrum gehaas vir behandeling.

Die toneel is afgesper vir verdere ondersoek en die karkasse is verbrand om te verseker dat daar geen verdere vergiftigings is nie.

“Aanvanklike aanduidings is dat van die karkasse vir hul liggaamsdele geoes is. Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het bevestig dat die saak na die SAPD verwys is vir ondersoek,” het SANParke gesê.

’n Foto wat op sosiale media gedeel is, wys ’n skrikwekkende foto van die aasvoëls wat almal langs mekaar gestapel lê nadat die ontdekking deur parkwagters gemaak is.

Die aasvoëlbevolking in die Krugerwildtuin word volgens City Press bedreig. Die koerant berig dat die onwettige handel in aasvoëls vir tradisionele medisyne, bekend as muti,  ’n ernstige bedreiging vir die bewaring van Afrika-aasvoëls inhou.

Yolan Friedman, uitvoerende hoof van die Bedreigde Natuurlewe Trust (EWT), het aan  die radiostasie JakarandaFM gesê gegewe die kritieke status van aasvoëls wêreldwyd, plaas vergiftigings op hierdie skaal die spesie in groter gevaar om uit te sterf.

Volgens die Krugerwildtuin gebeur vergiftiging van wilde diere in Suid-Afrika om verskeie redes. Dit kan wees as gevolg daarvan dat mense proteïene soek om te eet, boere probeer om “probleemdiere of -voëls” te hanteer, gewetenlose individue probeer om voël- of dieredele vir die mutihandel te misbruik, of weens chemikalieë wat deur onervare werkers gestort word.  Al hierdie faktore beteken die dood vir ’n verskeidenheid voëls en diere.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top