Suid-Afrika se eerste resessie in bykans ’n dekade is verby danksy sterk groei in die ekonomie in die derde kwartaal.
Die goeie nuus vir die land se ekonomie is deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) bekendgemaak. Volgens SSA het die ekonomie in die derde kwartaal (Julie tot September) met 2,2 persent gegroei vergeleke met die vorige kwartaal.
SSA sê in ’n verklaring die vervaardigingsektor was in die derde kwartaal die bedryf wat die vinnigste gegroei het met 7,5%. Die landbou het ook ’n stewige groei van 6,5% in die derde kwartaal getoon.
Die welkome opbloei in die land se ekonomie kom nadat die ekonomie in die eerste kwartaal met 2,6% gekrimp het, wat veroorsaak het dat die land in ’n tegniese resessie gedompel is. Ekonome voorspel dat die ekonomie volgende jaar verder kan verbeter namate beleggingsvertroue toeneem, maar waarsku dat die ekonomie op ’n jaar tot jaar basis steeds ’n negatiewe groei toon en dat dit geruime tyd mag neem voordat die ekonomie weer ten volle herstel het.
Die nuus dat die ekonomie in die derde kwartaal ’n stewige groei getoon het vergeleke met die vorige kwartaal het ook ’n positiewe uitwerking op die rand se wisselkoers gehad. Die rand het vinnig met 10c teenoor die dollar versterk tot R13,54 Dinsdagmiddag maar het later weer effens veld verloor.
Die ANC het die nuus verwelkom dat die ekonomie besig is om te herstel. Die party sê in ’n verklaring hulle was nog altyd optimisties oor die land se langtermyn ekonomiese vooruitsigte. Volgens die ANC het president Cyril Ramaphosa se verbintenis tot ekonomiese groei en werkskepping, wat sentraal staan in die ANC se ekonomiese plan, gehelp om die land op ’n gesonde ekonomiese koers te plaas.
STATEMENT BY THE ANC ON THE ECONOMY EXITING RECESSION
The ANC welcomes the news that the South African economy has exited recession. This follows the announcement by Statistics South Africa that the economy has reported a 2.2% growth for the third quarter of this year. pic.twitter.com/Da2fsO6I8P
— #MaSisulu100 (@MYANC) December 4, 2018
Die DA het dit ook verwelkom dat Suid-Afrika nou amptelik nie meer in ’n resessie is nie. Die party sê in ’n verklaring dit sal ekonomiese verligting bring op die korttermyn maar nie vir lank nie. Dit verleen volgens die DA weinig troos aan die vir die 9,8 miljoen werklose Suid-Afrikaners.
Dit bied volgens die amptelike opposisie ook geen waarborg dat die regerende ANC enige langtermynplanne het om welvaart te skep nie. Die DA wys daarop dat twee van die drie kredietgraderingsagentskappe Suid-Afrika steeds as ’n rommelstaat gradeer en sê die ANC is nie in staat om die ekonomie die hupstoot te gee wat nodig is om die land te laat groei en werksgeleenthede vir die bykans 10 miljoen werklose Suid-Afrikaners te skep nie.
Statistieke Suid-Afrika se volledige verslae oor die derde kwartaal se ekonomiese groei kan hier afgelaai word: https://drive.google.com/drive/folders/0B0Kc4DuZomAAc0JoTWtsOGRlY2s
Buro: NB