Ekonomiese ramp tref KwaZulu-Natal na plundering

  • 0

Meer as die helfte van alle plattelandse dorpe in KwaZulu-Natal (KZN) stuur op ’n ekonomiese ramp af nadat hulle ekonomie feitlik totaal vernietig is tydens verlede week se onluste toe winkels en besighede voor die voet geplunder en vernietig is.

Volgens die KwaZulu-Natalse Landbou-unie, Kwanalu, het die sluiting van die N3-snelweg ook katastrofiese gevolge vir boere, kleinhandelwinkels en die hele landbouwaardeketting ingehou. Meer as 60% van die provinsie se dorpe beleef ’n ernstige voedseltekort.

Dit blyk uit ’n opname wat Kwanalu onder sy lede gehou het na afloop van verlede week se onrus. Die hoof- uitvoerende beampte van Kwanalu, Sandy La Marque, sê die sluiting van verspreidingsentrums en die brandstoftekorte het die landbousektor in die provinsie hard getref.

Kwanalu verteenwoordig plattelandse grondeienaars, boere en landboubesighede in KZN. Die opname onder sy lede is gebaseer op die impak wat verlede week se onrus in die provinsie op landbougebied en die plattelandse dorpe in KZN het.

Volgens ’n verklaring wat deur Kwanalu uitgereik is, toon die opname se vroeë resultate dat meer as 15% van die dorpe in die provinsie ’n baie ernstige graad van skade opgedoen het. Tussen 40% en 80% se skade is aan hierdie besighede aangerig. ’n Verdere 15% van die dorpe het ’n laer-vlak-plundering ervaar, met beperkte plundery, waar winkels en sentrums slegs gedeeltelik – tussen 11% en 40% – beskadig is.

La  Marque sê die inligting wat op grondvlak ingesamel is, is waardevol omdat dit die landbousektor help om te begryp hoe groot die skade is wat in die platteland aangerig is. Dit stel hulle in staat om die nodige bystand en humanitêre hulp te bied aan die gebiede wat dit benodig. Dit help ook met die identifisering van belangrike handelsroetes wat heropen moet word om die produksie en vervoer van voedsel weer vryelik te laat vloei om die landbouketting aan die gang te hou.

Volgens die opname ervaar 64% van die dorpe reeds ernstige voedseltekorte, 32% ervaar matige tekorte en slegs 4% sê hulle ervaar ’n betreklik normale voorsiening van voedsel in hulle dorpe.

Die sluiting van die N3, wat die hooftoevoerroete is vir die vervoer van goedere en voedselprodukte na en van KZN, het katastrofiese gevolge gehad vir boere, landboubesighede, algemene handelaars en landbou se totale waardeketting. Een van die voorbeelde van hoe ernstig dit is, blyk uit die feit dat 25% van Suid-Afrika se melk uit KZN afkomstig is.

Die sluiting van verskeie verspreidingsentrums van verpakkingsmateriaal, dierevoedsel en kunsmis en ’n tekort aan petrol het die provinsie se landbou-ekonomie volgens La Marque ’n yslike nekslag toegedien.

Sy sê in teenstelling met die algemene opvatting was die plundering nie tot die groter dorpe en stede beperk nie. Kleiner gemeenskappe het net so erg deurgeloop. Dit kon volgens haar nog veel erger gewees het as boere en gemeenskappe nie saamgestaan het om dit wat van hulle dorpe oorgebly het, te verdedig nie.

Volgens La Marque kan die afgelope onrus ’n langtermynvoedselkrisis tot gevolg hê omdat boere steeds nie in staat is om voort te gaan met hulle normale daaglikse besigheid nie. Sy voorspel dat die dreigende voedselkrisis nog erger kan word weens die rimpeleffek wat die plundering op die totale voedselketting het.

“Dierevoedsel vir lewende hawe op die plase soos hoenders, varke en ander diere is feitlik uitgeput en melkprodusente moes van hulle melk weggooi. Eiers, vrugte en groente kon ook nie by die verbruikers uitkom nie, aangesien die vervoer van alle produkte tot stilstand gekom het en weer van voor af moet begin opereer.”

Volgens La Marque beloop die skade wat aan KZN se landbougemeenskap aangerig is, miljarde rand. Sy sê die finale finansiële, maatskaplike en werkloosheidimplikasies moet nog bereken word voordat die volle impak van die plundering op die provinsie se ekonomie bepaal kan word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top