’n Wynmaker en gewese predikant van Somerset-Wes wat bekend is vir sy onkonvensionele bemarkingmetodes het weer die tonge los met ’n nuwe wyn wat hy pas vrygestel het.
Bertus Van Niekerk, wat ’n hele reeks wyne onder die handelsmerk Osbloed bemark, het in 2012 die koerante se voorblaaie gehaal toe hy die gaste na hul asem laat snak het tydens die bekendstelling van een van sy wyne – die gaste is verwelkom deur ’n poedelkaal vrou op ’n perd, wat ooreenstem met een van die etikette op sy wyn wat deur die kunstenaar wyle Selma Albasini ontwerp is.
Van Niekerk is in die Hervormde Kerk as predikant gelegitimeer en was lank herder by ’n Hervormde gemeente in Carletonville voordat hy Kaap toe getrek het om voltyds wyn te maak.
Met die wynbedryf wat oor ’n wye front op sy knieë gedwing is as gevolg van die verbod op die verkoop van alkohol ingevolge die COVID-19-regulasies, moes Van Niekerk, soos die meeste ander wynprodusente, aan nuwe idees dink om te oorleef en sy wyn te bemark.
Uiteindelik het hy hom weer tot Bybelse simbole en die skoner geslag gewend om sy wyn bekend te stel. Dié slag het hy sy wyn op die strand by Kogelbaai bekendgestel.
Op die etiket van sy jongste wyn is ’n halfmens-halfperd met horings uit sy kop wat ’n trompet blaas. Daar is ook die syfers 6:666 op die etiket. Die etiket vir BuitePerd Muscat d’Alexandrie bevat ’n linosneewerk van die bekende Kaapstadse kunstenaar Theo Paul Vorster. Van Niekerk het Vorster gevra om verskeie simbole eie aan die boek Openbaring in een werk bymekaar te bring om die perd “wat nie deel is van die oorspronklike teks nie” te illustreer. Van Niekerk meen teen die agtergrond van debatte oor simbole uit die verlede dat nuwe sakramente veranderende tye beter kan opsom. Met ’n vonkel in die oog merk hy op: Wie ook al van die BuitePerd drink, sal die misdaad van sy vaders en kinders vergeet. En hy sal hom in sy eie nuwe sondes verlustig.”
Bewus van regulasies om nie ’n skare te laat saamdrom nie, het net ’n handvol mense eerder teen een van die mooiste kuspaaie in Kaapstad langs gery totdat hulle hierdie ideale stil plek gevind het. “Belangrike vergaderings gebeur virtueel,” sê Van Niekerk, “maar ek wou hierdie wyn nie by die huis van agter my rekenaar bekendstel nie. Ek wou wys dat ons verantwoordelik sosiale afstand kan handhaaf en steeds uitsonderlik mooi geleenthede kan kommunikeer. Mens kan in ons huidige tye maklik ervaar dat jy vasgevang en selfs vasgekeer voel. Die oop natuur het die dekor gevorm vir die waagmoed om skoonheid onbevange te waardeer.
“Ek stel die wyn vry in ’n tyd waarin mense nog aangemoedig word om maskers te dra, maar ’n groot deel van die bevolking smag na maniere om van die kloustrofobie van inperking ontslae te raak,” het Van Niekerk aan Voertaal gesê. “Die vrou vir wie ek wyn skink, sal jy oplet, dra nie ’n masker nie.”
Van Niekerk se nuutste wyn is ’n droë hanepoot, nes in die klassieke wyne van die suide van Frankryk. Plaaslik word dit meestal soet berei en vir nagmaalwyn gebruik. Maar sy weergawe is stouter as dit. “Ek is oortuig daarvan die vraag na droë hanepoot gaan na my bekendstelling daarvan eersdaags op ’n binnelandse reeks proegeleenthede skerp styg, iets wat wynboere en -kelders baie goed te pas sal kom.” Hy sê hy het die saak mooi oordink en besef baie mense word oorweldig deur stroewe gedagtes in ’n tyd waarin die wêreld soms na ’n morbiede ruimte voel.
Daarom het hy vanuit ’n estetiese hoek iets probeer doen geïnspireer deur Boticelli se Geboorte van Venus, ’n skildery uit die donker Middeleeue. “Kuns is een van die beste mediums om kritiek teen omstandighede en konvensie uit te spreek,” sê hy. “Ek wil met hierdie wyn skoonheid as kontras teen ’n agtergrond van somber omstandighede kommunikeer. Net soos in groot kunswerke is die klem op die naaktheid van die model, Aileen Snyman, ’n verwysing na hoe mooi die mens is sonder geforseerde konstrukte.”
Van Niekerk sê sedert sy vorige bekendstelling, wat wye belangstelling uitgelok het vir ’n konvensionele wyn in 2012, maak ’n oorweldigende aantal plase deesdae weer cinsaut, deels te danke aan die wye aandag wat daardie ongewone bekenstelling gaande gemaak het.