Die Stad Ekurhuleni, een van Gauteng se grootste metropolitaanse munisipaliteite, bevind hom in die middel van ’n storm van beskuldigings van korrupsie, seksuele misbruik en politieke inmenging.
Die jongste getuienis voor die Madlanga-kommissie het die afgelope week ’n donker prentjie geskilder van die stad se metropolisie wat na bewering totaal “verrot” is. Dit lê ’n stad bloot wat vasgevang is in ’n web van misdaad en politieke beskerming. Die Madlanga-kommissie en die parlementêre ad hoc-komitee bied nou ’n platform waar hierdie bewerings oopgevlek word, maar die pad na werklike hervorming lyk lank en moeilik.
Die jongste getuienis en raadsbesluite dui op ’n krisis waar die skeidslyn tussen administrasie en georganiseerde misdaad al hoe dunner word. Die jongste gebeure plaas die Ekurhuleni-stadsraad onder druk. Die skorsing van senior amptenare kan die administrasie lamlê, terwyl die beskuldigings teen die metropolisie die stad se veiligheidsbeeld ernstig skade aandoen.
WATCH | Adv Sesi Baloyi asks Dr Imogen Mashazi if she takes the Madlanga Commission seriously and if she came to assist the commission. She declines to comment. pic.twitter.com/tdCDMzR45J
— SABC News (@SABCNews) December 2, 2025
Die Madlanga-kommissie, onder voorsitterskap van voormalige Konstitusionele Hof- regter Mbuyiseli Madlanga, het in die afgelope weke gefokus op die Ekurhuleni Metropolitaansepolisiedepartement (EMPD), waar getuies van ernstige korrupsie en misbruik onder eed gelewer is. Die parlement se ad hoc-komitee, wat parallel loop, het soortgelyke beskuldigings aangehoor, onder andere oor die rol van die vermeende misdadiger Vusimuzi “Cat” Matlala.
Die openbaringe voor die kommissies het ernstige vrae laat ontstaan oor die munisipaliteit se bestuur van ’n begroting van meer as R65 miljard en die breër strafregstelsel.
Een van die skokkende openbarings kom van Ekurhuleni se voormalige stadsbestuurder, Imogen Mashazi, wat op 1 en 2 Desember voor die Madlanga-kommissie getuig het. Mashazi, wat in Julie 2025 afgetree het na ’n loopbaan van vier dekades in openbare diens, het beskuldigings van seksuele teistering en verkragting binne die EMPD as “hoorsê” afgemaak.
Dr Imogen Mashazi’s behaviour at the Madlanga Commission was a national embarrassment. Eye-rolling, laughing, fixing lipstick, playing games, while under oath. That wasn’t testimony, it was a live display of arrogance & decay in our public service. Zero respect. Zero integrity pic.twitter.com/rx4DKbpHLD
— Man’s NOT Barry Roux (@AdvoBarryRoux) December 3, 2025
Sy het toegegee dat sy bewus was van gerugte oor die EMPD se hoof, Isaac Mapiyeye, wat vroulike ondergeskikte beamptes na bewering sou verkrag en kinders by hulle verwek het. Tog het sy geen formele ondersoek geloods nie. Sy het slegs ’n “bemagtigingsprogram” vir vroulike beamptes ingestel om “seksuele misbruik” te vermy. Kommissievoorsitter Madlanga het haar getuienis genadeloos uitmekaar getrek, haar beskuldig van “absoluut niks doen nie” en “met gevoude arms sit”. Mashazi het uiteindelik toegegee: “Ek aanvaar u punt dat daardie bemagtigingsprogram nie genoeg was nie.”
Getuienisleier Mahlape Sello het haar daarvan beskuldig dat sy ’n junior beampte se klagte vir haar “eie doelwitte” misbruik het, eerder as om slagoffers te help. Kommissielid Sesi Baloyi het Mashazi berispe oor haar ontwykende antwoorde en houding, en gesê sy neem die verrigtinge nie ernstig op nie.
Mashazi het ook haar doktorsgraad verdedig toe dit bevraagteken word, en ontken dat sy die adjunkhoof van die EMPD, Julius Mkhwanazi, beskerm het teen dissiplinêre aksie. Haar getuienis het sosiale media aan die gons gehad, met kommentaar oor haar onbekwaamheid en die munisipaliteit se “mafiastaatstatus”.
Never forget, the arrogance showed by Dr Imogen Mashazi( actually a nurse and not doctor) at the Madlanga Commission is best friends with Nomvula Mokanyane who told the Zondo commission she has a terminal illness and will no longer attend the commission. Years later she is… pic.twitter.com/OkOWLnVpCV
— Goolam (@goolamv) December 1, 2025
Julius Mkhwanazi, adjunkhoof van die EMPD wat in November 2025 geskors is, staan na bewering sentraal in die skandaal. Hy het gister (Woensdag) met sy getuienis voor die Madlanga-kommissie begin.
Hy word deur getuies beskuldig van die verskaffing van onwettige blou ligte en sirenes aan Matlala se voertuie, wat hom polisiemagtiging gee sonder amptelike goedkeuring. Mkhwanazi word ook gekoppel aan ’n moordsaak wat glo toegesmeer word en die beskerming van beamptes binne die EMPD wat na bewering die wet oortree het.
Die stad se voormalige hoof van menslike hulpbronne, Xolani Nciza, het vroeër getuig oor 275 beamptes met kriminele rekords wat steeds in diens is, insluitend dwelmhandelaars wat polisievoertuie gebruik. Die polisievoertuie word na bewering vir dwelmvervoer misbruik.
